‘N TEKEN VIR JOU AS GELOWIGE

‘N TEKEN VIR JOU AS GELOWIGE

Sakkie Parsons

Ek het ‘n boek gelees met die titel:   “The Jewish Connection” deur M. Hirsh Goldberg.
Dit is vir my ‘n baie insiggewende boek, waarin die man jou amper toegooi met allerhande feite.
Een van die feite wat hy noem is die volgende:
Dat, Amerika nog nooit teen die Jode gegaan het nie maar inteendeel nog altyd hulle kant gevat het.

Ek het toe my gedagtes so ‘n bietjie laat gaan en ek deel nou met jou wat in my gedagtes opgekom het.
Verdra my en lees tot die einde dan sal jy sien hoe die gedagtes oor die Jode, my by jou en my uitgebring het.

Ek kry baie e-posse van mense wat werklik in God glo maar daar gebeur so baie dinge om hulle, wat nie vir hulle sin maak nie en dan wonder hulle of God nog hoegenaamd belang stel in wat hier op aarde gebeur.

Ek sê altyd, want dit is soos ek dit sien, dat tekens is vir die gelowige om hom of haar te stig.
So, ek wys jou, kind van God, hierdie – wat ek ‘n hedendaagse teken wil noem om jou te stig.

Die Here het aan Abram, wie die stamvader van die Jode is, ‘n belofte gemaak:

GEN 12:1-3 
1 Die HERE het vir Abram gesê:  “Trek uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys.
2  Ek sal jou die voorvader maak van ‘n groot nasie.  Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees.
3  Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek.  Deur jou sal al die mense op die aarde geseën word.”

Dit wat God sê, dit doen Hy.
Ek sê altyd vir die mense, dat daar vir my drie sake uitstaan wat die Jode aanbetref.
Eerstens:
Dat die land wat baie volke van hulle wil wegneem, deur God aan die Jode gegee was en enige volk of indiwidue wat dit teenstaan, met ander woorde ook direk teen God se begeerte gaan.
Ek kan nou ook baie, baie gedeeltes uit God se woord kwoteer om dit uit te wys maar ek volstaan met hierdie een.

EXO 33:1  Die HERE het vir Moses gesê:  “Jy en die volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar van hier af verder trek.  Gaan na die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.  Toe het Ek belowe dat Ek hierdie land vir hulle nageslag sal gee.
EXO 33:2  Ek sal ‘n engel voor julle uitstuur.  Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf.

Tweedens:
Terwyl ek hier skryf, kan ek soos in die verlede nie aan een enkele volk dink wat al ooit teen die Jode opgestaan het en nie daarna agteruit of heeltemal tot niet gegaan het nie.
Daar is ook heelwat voorbeelde in die Bybel van wat met diegene gebeur het wat die Jode goedgesind was maar in die tyd wat ons lewe, staan Amerika uit.
Mense kan nou met my hieroor verskil maar volgens my, het God Amerika in feitlik elke opsig die magtigste volk in die wêreld gemaak en dit ten spyte, dat Amerika een van die jongste volke in die wêreld is.  Ek dink ons, die Afrikanervolk,  is die heel jongste.

Derdens:
Dit is vir my, jy kan maar sê, die “cherry” op die koek –
Die saligheid is uit die Jode.

GEN 12:3… Deur jou sal al die mense op die aarde geseën word.”

Dit is Jesus wat hier praat:

JHN 4:22  Julle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode.

God sal altyd seën, die wie die Jode seën.

GEN 12:3  “Ek sal dié seën wat jou seën…”

Ek glo dit is waarom Amerika so geseënd is.
Ons  moet egter nie vergeet nie, dat God ook sê:

GEN 12:3… “dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek…”

Soos ek reeds gesê het dat ek glo, dat tekens is vir die gelowige.  So, kind van God, kyk na dit wat ek “die teken van die Jode” noem
Wat ek jou nou gewys het en onthou dan dat jy deel is van ‘n uitverkore volk.

Dit is Jesus wat hier praat:

MAT 21:43  “Daarom verseker Ek julle:  God se koninkryk sal van julle af weggeneem word en aan ‘n volk gegee word wie se lewe by koninkryksmense pas.”

ROM 9:23-26 
23 Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang.
24  Ons is hierdie voorwerpe – ons vir wie Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die heidennasies.
25  Oor laasgenoemde sê God in die boek Hosea tereg:
      “Hulle wat nie my volk was nie, sal ek nou mý volk noem.
      En Ek sal haar liefhê wat nie voorheen My geliefde was nie.”
26  En:  “Dáár waar vir hulle gesê is:  ‘Julle is nie my volk nie,’ juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.”

1PET 2:9  Dit geld egter nie vir julle nie, want God het julle as sy volk gekies.  Julle is ‘n koninkryk wat uit priesters bestaan, ‘n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk wat heeltemal God s’n is.  Dit het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is.  Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.
1PET 2:10  Vroeër was julle nie ‘n volk nie;  nou is julle egter die volk van God.  Vroeër het God geen onverdiende liefde aan julle bewys nie;  nou hét julle egter sy onverdiende liefde.”

Daarom kan jy en ek, kind van God dit uit jubel –

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied met dié woorde:
      “U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.
OPG 5:10  U het hulle laat deel in u koninklike regering en hulle priesters vir ons God gemaak en hulle sal as konings oor die aarde heers.”

So, hou goeie moed kind van God want, as ek dan nou die teken wat ek vir jou uitgewys het net weer kan opsom:

As God Sy belofte teenoor Abraham tot in die fynste besonderheid gestand doen, hoeveel te meer sal Hy Sy belofte gestand doen, teenoor jou en my vir wie Hy met Sy Seun se lewe betaal het.

Wat dan nou, sal God ons aanneem en sy belofte teenoor Abraham nie meer hou  nie?
Nee, natuurlik nie!
My groot held Paulus verduidelik dit so:

ROM 11:1-5 
1 My volgende vraag sou wees:  Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie?  Natuurlik nie!  Ek is mos ook ‘n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin.
2  Nee, God het nie sy eie volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie.  Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie?  Hoe hy oor Israel by God gekla het:
3  ‘HERE, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek.  Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.”
4  En onthou julle God se antwoord?  Sy woorde was:  “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie.  Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baãl gekniel het nie.”
5  So is dit ook vandag nog.  Daar het ‘n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het.

So, kind van God, om dan saam te vat:

Ek kyk na Israel se geskiedenis en hoe hulle in 1948 na meer as 2,000 jaar weer hulle land in besit geneem het en ek kyk na die Jode vandag en ek kyk na Amerika wat in ‘n paar honderd jaar, wat in ‘n volk se bestaan eintlik niks is nie,  van niks ontwikkel het tot die magtigste volk op aarde en ek weet, dat hier op aarde nog steeds, soos ons in Afrikaans sê:

“Die mens wik maar God beskik.”

As jy dalk my dagstukkie oor hoekom ek anders as so baie mense sê, dat tekens is vir die gelowige en nie vir die ongelowige nie, wil lees, kan jy net aan my skryf en vra dat ek aan jou die dagstukkie met die naam:
“Tekens is vir die gelowige en nie vir die ongelowige nie” stuur en ek doen dit met die grootste liefde.
                 

Groete,
Sakkie