Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus
1Kor 15:57
Sakkie Parsons
Na aanleiding van iets wat ek geskryf het oor bose geeste en siektes, skryf iemand aan my die volgende.
“Vraag van my kant na aanleiding van die skrywe oor die onderskeid tussen die duiwel en siekte.
Jy het dit mooi uiteengesit en die laaste paragraaf van jou skrywe het ek hier onder ingesit vir maklike verwysing vir jou.
Wanneer ek bid vir ‘n bose gees wat in iemand is, dan lê ek nie noodwendig my hande op die persoon nie maar ek spreek verseker die gees aan en ek beveel hom met die Gesag wat in my is, in die Naam van Jesus, die enigste Naam wat vir die mens gegee is waardeur ons gered kan word, om die persoon te verlaat.
My vraag as volg, jy se wanneer jy bid vir ʼn bose gees wat in iemand is, ek wil graag weet hoe weet jy daar is ʼn bose gees in iemand.
Ek stem saam oor die siektes en dat dit nie noodwendig bose geeste is nie maar hoe weet jy wanneer dit wel een is?“
Hier is dan hoe ek hierdie saak sien.
Eerstens, Daar is verseker bose geeste/demone – die Woord laat ons in geen onsekerheid daaroor nie – en hulle kan hulself op ‘n legio maniere in ‘n mens manifesteer.
Ek gee soos gewoonlik weens die lengte van die skrywe net twee voorbeelde.
Aan die eenkant van die geweldige wye spektrum kry jy die mees waansinnigste, wreedste, onmenslike en vieslikste manifestasie.
Mrk 5:2-8
2 En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ‘n man met ‘n onreine gees,
3 wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie;
4 want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.
5 En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.
6 En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer
7 en skreeu met ‘n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.
8 Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit!
Tot aan die teenoorgestelde kant van die spektrum, waar hulle hulleself selfs as vroom godsdienstig in ‘n mens kan manifesteer.
HAN 16:16-18
16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.
17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.
18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.
Wat laasgenoemde aanbetref, is daar selfs na my mening ‘n paar wat gereeld hulle verskyning op kansels maak.
Die tweede saak waarvan deeglik kennis geneem moet word, is, dat ten spyte van wat die swendelaars sê wat met groot vertoon en publisiteit rondgaan en links en regs mense wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, van die een of ander gees wil bevry – Volgens wat ek die Woord verstaan en uit my verhouding met ons Here, kan ek net sê, dat dit is onmoontlik vir iemand wat die Heilige Gees inwonend in haar/hom het, om ‘n bose gees demoon in haar/hom te hê.
2KOR 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Vir my grens dit aan laster, om te beweer dat Jesus ‘n woning met satan sal deel.
Om verder te staaf wat ek sê, kan ek maar net weer ons Here aanhaal:
Mat 7:16-19
16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
Daar is natuurlik ook ‘n ander vergryp waaraan die bevryding swendelaars hulleself skuldig maak. Hulle bevry, dit is nou as hulle dalk werklik bevry, ‘n persoon en dan beskou hulle, hulle taak afgehandel. Dit is dan ook net daar waar hulle, hulle ware kleure as swendelaars vertoon. Want, sê die Woord:
Mat 12:43-45
43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.
44 Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.
45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.
So, as ek die Woord nou reg verstaan, beteken dit, dat as ek ‘n bediening van bevryding het, ek nie net sal bevry, en dan my Bybel , DVD’s wat nie verkoop het nie, en my fooi sal neem en laat spat na die volgende plek vol bose geeste nie.
Nee, ek is veronderstel om as ‘n saak van dringendheid die persoon te help om by Jesus uit te kom, sodat die persoon Jesus in die skoon leë woning kan in nooi.
Hoe weet ek wanneer is dit siekte en wanneer is dit duiwel?
Wel, soms is daar sigbare tekens.
‘n Man byvoorbeeld, wat perverse genot daarin vind om sy vrou te mishandel, of haar te forseer om dinge te doen om sy bose drange te bevredig, word na my mening deur ‘n bose gees gedryf
‘n Vrou wat met ‘n hoë koors vuurwarm hygend en swetend in ‘n bed lê, is siek.
‘n Persoon wat ernstig beweer dat hy/sy dooies kan oproep en my toekoms kan voorspel en my wil help, om met my ontslape geliefde te kommunikeer, of my toekoms wil voorspel, het na my mening soos ek die Woord verstaan, ‘n bose gees.
Dit is ‘n paar ooglopend sigbare voorbeelde. Daar is egter ‘n legio gevalle waar dit nie so ooglopend sigbaar is nie maar ekself kyk in elk geval nie na sigbare tekens nie, bloot omdat ek hulle in elk geval nie sou kon sien nie, omdat ekself nie fisies sig het nie.
Uiteindelik egter geld vir my wat vir elke ander kind van ons Here geld –
Vir die regte insig, hou ek my oë stip op ons Here.
Heb 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
As jy dít doen, sal jy weet wat jy moet weet, wanneer jy moet weet, wat jy moet weet.
Dit is in elk geval hoe ek hierdie soort ding hanteer.
Wat jy ook al teëkom in hierdie wêreld. Van die een kant van die spektrum, van geestelike swendelaars, geestelike “Phoneys” en hulle foefies, dwars oor die wye spektrum tot by bose geeste en dit wat hulle omring, sluit ek af met hierdie bemoediging en raad uit die Woord:
1KOR 15:57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
1KOR 15:58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
Groete,
Sakkie