NET OM BAIE DANKIE TE SÊ

NET OM BAIE DANKIE TE SÊ

Sakkie Parsons

Baie, baie, báie dankie vir al die ongelooflike wonderlike briewe wat ek ontvang het en wat my so bemoedig en versterk het.

Dit sal werklik nie vir my moontlik wees om almal afsonderlik te antwoord nie maar ek is so diep, diep dankbaar vir almal wat geskryf en my bemoedig het.
Sjoe!

Ek het ons Here al so baie gefaal in my lewe maar met al my wonderlike mense, soos ek julle graag in my hart noem, se gebede, weet ek dat ek ook oor hierdie berg sal kom.

Nou die aand toe Alta, my dogter, my na die hospitaal neem, vra ek ons Here, dat Hy my tog moet help dat ek nie so ‘n tjankbalie by haar, haar man en my kleinkinders moet wees nie en toe het ek so sterk gevoel en toe onthou ek, dat daar baie, baie mense is wat vir my bid.

Weereens baie, baie, so baie dankie vir julle almal se gebede. 

Ek het ook na aanleiding van die pos wat ek ontvang het, weer gesien, hoeveel ander mense sit, wat ‘n lewensmaat, pa of ma in dieselfde omstandighede as ek.

Ons lewe in ‘n gebroke sondige wêreld en daar is ‘n satan wat na ons kyk en nie weet hoeveel tyd hy nog met jou en my het nie en daarom sit hy alles in om ons weg van ons Here af te kry maar hoe wonderlik om te weet, dat ons Here ons vooruit gewaarsku het teen hierdie soort ding:

JOH 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Weet jy wat is van die grootste troos wat ek in my hart ervaar as ek so na my omstandighede kyk en ek voel stukkend?

Die groot heerlike wete, dat ons Here dink, dat ek die “punch” kan vat.

Want sê ons Here vir ons in Sy kosbare Woord:

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie;  ander ondervind dit ook.  God is getrou.  Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word.  Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou.

As ek daaraan dink, dan kom daar hierdie groot vrede oor my.

Van watter groot vrede praat ek?

Ons Here Jesus se vrede wat Hy ons gegee het:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na;  My vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.”

Want uiteindelik is Cornelia, jy, en ek wat hierdie aardse lewe aanbetref, maar net bywoners – maar ook reeds burgers van ons Hemelse tuiste en nie net burgers nie maar selfs nog baie baie meer intiem as dit –

Ons is familie, broers en susters van Jesus.  Met ander woorde ook  huisgenote van God Almagtig:

EFE 2:19  Julle is dus nie meer uitlanders en bywonders nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort, Ja, julle is lede van God se huis

So my broer en susters  – mede pelgrims op pad na ons heerlike ewige eindbestemming en moet nie vir een oomblik dink ek is sterk as ek dit skryf nie.

Nee, ek skryf dit terwyl die trane vrylik loop.

Laat ons die pad stap. Laat ons die reis voortsit in die wete:

JAK 1:3  Julle weet mos:  Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
JAK 1:4  Julle moet egter enduit volhard.  Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees.  Julle sal niks kortkom nie.

In my swakheid waar ek ons Here al so baie gefaal het, en ek wil jou aanmoedig om ook daarna te strewe,  is dit uiteindelik my strewe om ook eendag aan die einde van my reis hier op aarde, soos my groot held Paulus te sê, toe hy aan die einde van sy lewe hier op aarde gekom het:

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Moet asseblief nie ophou om vir my te bid nie – ons het mekaar se gebede so baie nodig.

Groete en Waardering,
Sakkie