NET SY BLOED

NET SY BLOED

Sakkie Parsons

Ek wil iets met jou deel wat by my opgekom het na aanleiding van iets wat iemand vir my geskryf het.
Dit is verseker wonderlik om na ‘n reënboog te kyk en te weet dat dit die bewys van God aan ons is dat die wêreld nooit weer deur water sal vergaan nie.

Net voordat jy die gedeelte uit die Woord lees –
Dit is nogal ‘n interessante gedagte om daaraan te dink dat daar ‘n tyd op die aarde gewees het dat daar nooit ‘n reënboog verskyn het nie.

GEN 9:8-17
8  God het met Noag en sy seuns gepraat:
9  “Ek sluit ‘n verbond met julle en julle nageslag,
10  asook met die diere wat saam met julle is:  die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die boot gekom het.
11  Ek onderneem (Ek maak my verbond) dat Ek nooit weer ‘n vloed sal stuur om lewende wesens dood te maak en die aarde te verwoes nie.”
12  God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ‘n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld.
13  Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde.
14  Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn,
15  sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ‘n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie.
16  Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.”
17  God het dit vir Noag herhaal:  “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.”

Nog iets om van baie deeglik kennis te neem wat die reënboog aanbetref is die volgende:

Al sien ek elke dag van my lewe ‘n reënboog, gaan ek nie die straf van God in die helse vuur vryspring, as die bloed van Jesus nie my van al my sondes skoon gewas het nie. 

Net Sy bloed kan wat jou en my aanbetref, die hel se vuur uitblus.

1JHN 1:6-10
6  As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons.  Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie.
7 As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.
8  As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.
9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.
10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar.  Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

1JHN 2:1-5 
1  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie.  As iemand egter sonde doen, onshet ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.
2  Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes.  Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.
3  En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken:  as ons Sy opdragte gehoorsaam.
4  As iemand sê:  “Ek leef in ‘n persoonlike verhouding met God,” maar nie Sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ‘n persoon ‘n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.
5 Wie egter sy woord gehoorsaam, in só 'n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

Kyk nou net hoe verblind satan baie mens en ek praat hier net van die wat deur die lewe gaan onder die vaandel van Christen-wees.
Hulle weet dat daar geskryf staan:

1JHN 2:4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. (OV)
1JHN 2:5  Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (OV)

Jy sien, daar is mense wat ‘n beeld van godsaligheid het.

2TIM 3:5  Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit wat aan die Christelike godsdiens sy innerlike krag gee, ignoreer.  Jy moet wegbly van sulke mense af.

Met daardie valse beeld storm hulle blindelings agter satan aan.

So verblind is hulle, dat hulle nie die lieflike reënboog van God se liefde in Christus Jesus vir hulle werklik kan sien nie en al tastend in die donker na allerhande kompromieë strompel hulle agter satan aan, na wat hulle nie besef, letterlike ‘n helse probleem is nie.
Want jy sien –

MAT 3:12  Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak.  Hy sal Sy koring in Sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.”

Jy sien by God werk dit so:

MAT 6:24  “Niemand kan tegelyk twee base (here) dien nie.  Hy sal óf ‘n renons in die een hê en van die ander een hou;  óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat.  Om God én die geldgod (Mammon) saam te dien, is absoluut onmoontlik.

Daarom is my raad altyd aan mense wat met my oor hul teruggevalle toestand praat,
of, as iemand vir my sê dat hulle weet hulle is nie reg nie maar wat kan hulle doen?

Dan is my antwoord:
“Los daardie ander here en al sy gemors en gaan staan stil en luister hoe roep Jesus
agter jou aan.”

MAT 11:28  Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.

Dalk roep Hy nou agter jou aan.  Dalk is dit waarom jy nou hierdie e-pos lees.  As jy nou daar in jou hart voel, dat dit die rede is waarom jy nou hierdie e-pos lees, sê Hy nou vir jou met al die liefde waarmee Hy vir jou en my na Golgota toe gestap het en aan die kruis vir jou en my gaan hang het:

OPG 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”

Dit maak nie saak hoé hopeloos jou toestand is nie.
Dit maak ook nie saak hoeveel kompromieë jy tot op hierdie dag gemaak het nie.  As jy nou, hier ‘n opregte besluit vir Jesus Christus neem en omdraai, bestaan die verlede nie meer vir ons Here nie.
Onthou in hierdie dag en altyd wat jy netnou gelees het:

1JHN 2:2  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Groete,
Sakkie