NIE EEN ENKELE PERSOON KOM PERMANENT WEG MET BOOSHEID OF VALSHEID NIE

NIE EEN ENKELE PERSOON KOM PERMANENT WEG MET BOOSHEID OF VALSHEID NIE

Voor GOD kan absoluut niks weggesteek word nie. (Hebreërs 4:13)

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my:

“Is daar enige Skrif wat verwys na mense wat nie meer sal kan voorgee wie en wat hulle regtig is nie?“ 

Ek dink, wat die skrywer aan my eintlik wou weet, dat as iemand ‘n lewe leef wat voorgee wat sy of hy nie werklik is nie, of die waarheid aangaande die persoon die een of ander tyd in die persoon se lewe hier op aarde altyd tog sal uitkom.

Dan is die antwoord natuurlik:

Nee, ongelukkig nie almal wat so ‘n valse beeld in hulle lewens uitleef se ware kleure kom in hierdie lewe aan die lig nie en daar is ook nie ‘n gedeelte in die Woord wat ek kan gebruik om die teendeel te verkondig, dat hulle valse leefwyse terwyl hulle nog in hierdie lewe is, sal uitkom nie.

Ek het juis nou onlangs weer geluister na ‘n vrou se getuienis, van haar huwelik van 38 jaar en toe sterf haar man aan ‘n hartaanval en toe oor ‘n baie kort tyd na sy afsterwe, kry sy toe die een verskriklike skok op die ander van wie en wat haar man, vir wie sy so lief was en wat sy so met alles vertrou het, wie en wat hy eintlik gewees het.

Een feit, wat egter so seker is as wat jy weet dat jy lewe, terwyl jy hier lees.

Niemand nie, nie een enkele persoon, kom ooit permanent weg met sy/haar boosheid nie.

Ek gaan nou met jou ‘n paar voorbeelde uit die kosbare Woord van ons Here deel om te staaf wat ek nou gesê het en as jy dit lees, lees dit dan terwyl jy al die tyd die volgende woorde van Jesus onthou wat Hy gesê en vir ons laat neerskryf het: 

LUK 12:5 Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: (dit is nou as jy die soort lewe leef wat nie reg is volgens ons almagtige God nie)

Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. (Dit is Jesus, God wie mens geword het en wie die laaste sê gaan hê, oor waar jy die ewigheid gaan deurbring)

Nou oor daardie mense wat op die oog af ander mense deur hulle lewens so totaal kan bedrieg en of manipuleer, terwyl hulle eintlik vol boosheid van die een of ander is – en op die oog af daarmee wegkom –

Baie van hulle word, (ongelukkig nie almal nie) tog in hierdie lewe al geopenbaar oor wie en wat hulle eintlik is – maar uiteindelik, volgens ons Here se Woord, kom nie een enkele een van hulle met hulle bose valse lewens weg nie.

Ek deel dan nou vervolgens ‘n paar gedeeltes uit die Woord om te staaf wat ek tot hier met jou gedeel het:

            LUK 8:17-18

17 Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien.

18 Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”

PRE 12:14 Want God gaan elke daad beoordeel, ook wat jy in die geheim gedoen het, of dit goed is of kwaad.

HEB 4:13    Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaal gestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.

Lees wat sê Jesus vir mense wie Hy hier op aarde as mens teëgekom het, wat juis sulke skynheilige lewens gelewe het. Mense na wie die ander mense met eerbied opgekyk het. Mense van wie Jesus geweet het, dat hulle Hom nog gaan kruisig ook – maar mense wie uiteindelik voor Sy regterstoel gaan verskyn en wie hulle lewens tot hulle uittrede uit hierdie lewe so gaan bly lewe en van wie Jesus vooruit vir hulle gesê het, dat hulle plek vir hulle in die hel wag – maar vanweë hulle eie valse skynheilige leefwyse en omdat hulle so vol selfregverdiging was, hulle net bly voortlewe het, soos wat hulle gelewe het.

Jy kan alles self gaan lees van af Matteus 23:23 maar ek kwoteer nou net gedeeltes wat ek glo in hierdie skrywe aan jou relevant is:

MAT 23:23  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

MAT 23:25-28 

25Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

26  Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

28  So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.

MAT 23:32  Maak die maat van julle vaders dan vol! (Met ander woorde, gaan  na julle lewe hier op aarde en neem julle plekke in die hel langs julle voorgangers wat ook so gelewe het in)

MAT 23:33  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Altyd as ek Matteus 23:33 lees dink ek daaraan:

Hoe verskriklik, as jou lewe van so ‘n aard is, dat God wie jou geskep het jou met ‘n adder vergelyk!

Ek het vroeër in hierdie skrywe geskryf:  Een feit wat egter so sekers as wat jy weet, dat jy lewe terwyl jy hier lees.

Niemand nie, nie een enkele persoon kom ooit permanent weg met sy/haar boosheid nie.

Ons lees in ons Here se kosbare Woord:

ROM 14:10  … Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, (dit is Jesus Christus) voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.

2KOR 5:10  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Hoe wonderlik om nou ook te weet, dat ons saam met al die mense op aarde, ook saam met almal wie se lewens van so ‘n aard is, dat ons Here hulle in dieselfde kategorie as adders sien.  Ons saam met hulle voor Christus se regterstoel gaan verskyn – maar dat ons nie daar gaan staan om veroordeel te woord nie maar om beoordeel te word.

Ons Here sê van almal wie Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

JHN 5:28  Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor

JHN 5:29  en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Hoe gaan hierdie beoordeling van jou en my, wie nie veroordeel gaan word nie  maar beoordeel gaan word, voor ons Here se regterstoel werk?

Wel my groot held Paulus gee ons, om dit so te stel, ‘n idee van hoe dit gaan werk, as hy skryf:

1KOR 3:11-15 

11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

12  En as iemand op dié fondament bou goud, (wat nie verbrand nie) silwer, (wat nie verbrand nie) kosbare stene, (wat nie verbrand nie) hout, (wat kan verbrand) hooi, (wat kan verbrand) stoppels, (wat kan verbrand)

13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;

15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Dan kom Jesus in Openbaring en teen die agtergrond van wat jy nou net in

1Korinthiërs 3:11-13 gelees het sê Jesus vir jou en my:

OPG 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

OPG 22:13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Ek sluit hierdie skrywe af met ‘n laaste woord oor – en nou sonder ek die skynheilige vervalsers en manipuleerders in die kerk uit wat sulke groot skade aan Jesus se evangelie doen.

Jesus sê by geleentheid van hulle die volgende:

MAT 7:22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

MAT 7:23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Hulle gaan altyd daar wees en ongelukkig, soos wat die ongeregtigheid vermeerder, gaan hulle ook meer word – maar jy hoef nie een van hulle te wees nie.

Terwyl jy ook onthou, soos wat jy reeds in hierdie skrywe gelees het:

1KOR 3:13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

So my vriend/vriendin.  Ek wil in hierdie eindtyd wat ons lewe dít wat Jesus gesê het, ook as ‘n laaste woord aan jou, weer sterk op jou hart lê:

MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Groete,

Sakkie