NIEMAND KOM BY DIE VADER UIT BEHALWE DEUR MY NIE

NIEMAND KOM BY DIE VADER UIT BEHALWE DEUR MY NIE.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra:

“Ek het net 1 vraag: Waar begin ek om my lewe te verander?”

Daar is maar net één plek om te begin en Jesus sê ons in Sy kosbare Woord waar die énigste plek in die heelal is om te begin:

JOH 14:6  Daarop het JESUS gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Die 1953 Vertaling stel dit so:

JOH 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Nou is die vraag:

Wat doen ek om daar te begin?

HAN 2:38 Petrus antwoord hulle:  “Kom tot inkeer en maak reg met God.  Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.

HAN 2:39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.

As jy dít gedoen het – Hoe strewe jy na die beste van jou vermoë om te lewe?

Iemand anders het hierdie vraag ook aan Jesus gevra en ek deel met jou Jesus se antwoord:

MAT 22:37  Jesus se antwoord was:  “’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
MAT 22:38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
MAT 22:39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
MAT 22:40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoofgebooie.”

Hoe gaan jy weet, dat jy wérklik vir Jesus liefhet en in ‘n liefdesverhouding met hom is?

Jesus sê:

JOH 14:15  As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.

Dan sê Jesus net ‘n bietjie verder:

JOH 14:21  “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet.  Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende:

Uiteindelik is dit baie maklik om te weet of jy in ‘n liefdesverhouding met ons Here is.

Hierdie Here van wie ons lees:

JOH 3:16  “God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

Wat sê die Woord is vir my in my hart ‘n baie duidelike bewys of ek werklik hierdie Here liefhet en Sy gebooie onderhou?

1JOH 4:19  Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.
1JOH 4:20  As enigeen beweer:  “Ek het God lief,” maar ‘n broer of suster haat, is só ‘n persoon ‘n leuenaar, want as ons ‘n medegelowige wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.
1JOH 4:21  Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang:  As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.

Groete,
Sakkie