NOGTANS NIE MY WIL NIE, MAAR U WIL

NOGTANS NIE MY WIL NIE, MAAR U WIL

Ons HERE het die laaste sê in alles waarvoor ons bid

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek plaas hier net die relevante gedeelte uit die brief, wat hierdie skrywe aanbetref.

Hallo Sakkie

Ja, dis nogal interessant dat jy juis nou hieroor moet skryf.

Ek het juis vandag met die gedagte geloop om nie weer vir siekes te bid nie ten spyte dat van hulle al genees is maar ander nie.

Ek het ‘n paar maande gelede vir ‘n vrou wat kanker het gesalf en gebid en, soos die Woord sê, genesing en lewe oor haar uitgespreek (Dood en lewe is in die mag van die tong).  Baie mense het toegekyk en na my geluister en ek het in volle oortuiging en geloof opgetree.

Die vrou is eergister oorlede aan kanker.  (Baie ander mense het ook vir haar gebid en almal het uitgesien na haar genesing.)

My eie niggie, wie terloops ongered is, lê ook nou op sterwe en ek wil nie vir haar in die openbaar bid nie want se nou sy genees nie, dan dryf die mense nog verder weg van God af.  Wat reeds die geval is. Toe ek die man aanmoedig om na God te gryp, toe se hy nee wat, hy maak maar gebruik van die vrou se suster se hulp.  Hulle wil nie luister na die evangelie nie.

Hier dan is my antwoord aan die persoon.

Goeiemôre ….

Op jou skrywe aan my wil ek dan met jou deel soos wat ek dit uit die Woord verstaan en in my eie lewe probeer uitlewe.

Eerstens behoort ‘n mens nie in jou gebed tot ons Here, sommer te vra dat die persoon nou gesond moet word nie, gewoon omdat dit dalk nie in ons Here se wil is, dat die persoon nou gesond moet word nie.

Ek deel met jou die een en ander uit die Woord in die verband.

Dink maar as mense vir die blinde man ‘n paar dae gelede, of selfs ‘n hele paar keer in al die jare wat hy nou al blind is, mense vir hom gebid het.

Daar sou natuurlik niks gebeur het nie, gewoon omdat dit nog nie ons Here se tyd was nie.

JHN 9:1-3 

1 En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.

2  En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?

3  Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.

Ek deel met jou nog ‘n voorbeeld wat duidelik uitwys wat ek nou met jou gaan deel:

JHN 5:2-9 

2 En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word.

3  Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.

4  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.

5  En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.

6  Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?

7  Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.

8  Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.

9  En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop.

Jesus staan daar tussen ‘n menigte ander mense wat siek is maar Hy genees net een, want dit was nog nie God se tyd vir die ander mense daar nie en gaan verder op Sy weg, wat Hom uiteindelik sal neem tot op Golgota, tot aan die kruis, waar Hy die offer betaal en sterf vir jou en my en ook vir al daardie mense wie Hy nie by die bad van Betésta genees het nie, sowel as vir al die spotters wat daar om die kruis met Hom gestaan en spot het.  Ja en vir almal wie Hom vandag nie wil en gaan aanneem as hulle verlosser en Saligmaker nie.

Jesus Christus het aan almal in die wêreld die geleentheid gegee om die hiernamaals, die hemel in te stap, as hulle Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker.

Ek deel met jou net nog een voorbeeld waar mense heelwaarskynlik in opregtheid, maar deur hulle eie emosies gelei, gebid het en natuurlik nie verhoor was nie.

JHN 11:1-7 

1 En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha.

2  En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was.

3  Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek.

4  En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.

5  En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad.

6  En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was.  (ten spyte, dat hy vir hulle innig lief was.)

7  Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan.

Jesus het natuurlik geweet, dat Lasarus siek is en ja, selfs dat hy gaan sterf – maar dit was alles deel van God se plan.

Die mense het dit natuurlik vol van hulle emosies en hartseer nooit kon insien nie, al het hulle geweet, dat Jesus van Lasarus weet, en het waarskynlik baie, selfs aanmekaar gebid, dat Jesus gou moet kom voor hy sterf en hom gesond moet maak maar toe gebeur dit nie en die man sterf – en vol berou en sommiges selfs met negatiewe gedagtes teenoor Jesus hou hulle begrafnis.

Alles omdat hulle na hulle emosies en die hartseer en die emosies van die mense om hulle kyk.

En die eindresultaat is, dat Jesus, toe hy daar kom moes hoor, dat hulle nie die graf kan oopmaak nie, want die lyk het al begin vrot en stink al.

JHN 11:38  En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ‘n spelonk, en ‘n steen het daarteen gelê.

JHN 11:39  Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.

Terug by wat ek met jou wil deel en aan jou wil wys:

Mense bid soms, ek wil eintlik skryf, mense bid gewoonlik vir mense en dan wil hulle hê, hulle wil moet geskied – maar dit is áltyd, God se wil wat moet geskied.

Dit gebeur omdat mense gedeeltes uit die Woord neem en dit losstaande van die res van die Woord lees en dit dan deel van die evangelie van Jesus maak en dan so ‘n evangelie verkondig – maar nie die evangelie van Jesus nie.

Ons Here het die laaste sê in alles waarvoor ons bid en weet jy – Ek hoor selde, baie selde, dat deel van mense se gebede vir mense, veral as dit by handoplegging kom, die volgende woorde in hulle gebed bid:

“Nogtans nie ons wil nie maar laat U wil geskied”  Want daar is een gedeelte uit die Woord wat baie en ek wil eintlik sê die meeste mense vergeet as hulle met handoplegging vir iemand bid, naamlik:

1JHN 5:14  En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil.

Hy sal my verhoor, as dit deel van Sy wil op daardie tydstip is.

Deel van my gebed, as ek vir iemand bid is altyd, (want ek onthou Jesus se woorde uit die gebed wat Hy ons as voorbeeld gegee het waarvolgens ons moet bid):

MAT 6:10:… laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

Met ander woorde:

Nogtans nie my wil nie maar laat U wil geskied.

Dan is ons soms verkeerd ywerig, of dan te oor ywerig, omdat ons, ons eie emosies volg, sonder om ‘n oomblik in die gees te gaan stilstaan en luister wat die Heilige Gees wil dat ons doen:

So misbruik satan baie van ons Here se kinders omdat hy hulle groot ywer sien en dit dan misbruik en soms groot skade aanrig.

Voor ek vir iemand met handoplegging bid, moet ek altyd in die gees ‘n tree terug gee, stil staan en luister wat die Heilige Gees vir my sê, wat wil ons Here dat ek moet bid, as ek inderdaad moet bid:

Ek moet versigtig wees om nie in my ywer oorhaastig te werk te gaan nie:

1TIM 5:22  Moenie haastig iemand die hande oplê nie,

Wat ons altyd moet doen, is ons oë stip op Jesus te hou en dan doen wat Hy wil dat ons moet doen.

As ons dan bid, dan bid ons met ‘n vaste geloofsvertroue sonder twyfel tot ons Hemelse Vader.

Waarin is hierdie onfeilbare vertroue in ons Here geanker?  Dat Hy sal doen wat die heel beste vir ons is omdat Hy ons liefhet. Dat Hy sal antwoord in ons voordeel.  Hoe dankbaar moet ons daarvoor wees! 

JAK 1:6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Geloofsvertroue sonder twyfel in ons Here se almag beteken:  “Nogtans nie my wil nie maar U wil” omdat jy glo en vertrou dat Hy jou God is, jou so liefhet dat Hy vir jou aan die kruis gehang het, en die heel beste Godsplan vir jou het wat Sy kind is.    

Ons beveel Hom nie in ons gebede nie.  Ons vra na Sy wil en ons dank Hom dat Hy al die pad saam met ons loop deur al die swaarkry.

JOHANNES 16:33 

Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Kom ons lees hoe Jesus self in Sy eie woorde tot Sy Vader gebid het, en Hy wat self God is, die woorde geuiter het:  “Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geld!”

Jesus in Getsémané

LUKAS 22:39 – 46 (Die Nuwe Lewende Vertaling)

Jesus worstel in gebed met sy Vader

39Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”

41Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” 43Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. 44Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup. 45Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer.

46Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”

Ons leer ook uit hierdie gebed en woorde van Jesus dat ons moet aanhou bid sodat ons nie aan die versoeking toegee nie.  Veral nie toegee aan die versoeking van die vyand wat ons wil laat glo dat ons tevergeefs bid nie. Moenie ontmoedig word om te bid nie.  Sy goedheid strek oneindig ver – ver bokant wat ons ooit kan dink of glo.  Sy troue liefde het Hy reeds aan ons bewys aan die kruishout.

Dink maar aan al die gebede in die Woord wat gebid is en hoe wonderwerke gevolg het, en aan Jesus wat gedurig in kontak met Sy Vader gebid het, om vir ons as voorbeeld te dien.

As ek dan my skrywe aan jou kan opsom, sal ek dit so doen.

Eerstens moet nooit sommer vir iemand hande oplê nie.  Met ander woorde, ons moet nie haastig wees om vir iemand te bid nie.

Onthou dan altyd wanneer jy bid, dat uiteindelik is dit ons Here se wil wat moet geskied en dit behoort uit te staan in my gebed wat ek in my handoplegging-gebed in volle geloof moet bid.

Groete met Jesus liefde en mooi loop.

Sakkie.

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.