OM DIE GESINDHEID VAN JESUS TE HÊ

OM DIE GESINDHEID VAN JESUS TE HÊ

Sakkie Parsons

Ek het eendag na ‘n Christelike program oor die radio geluister, waar hulle oor ‘n paar dinge in die Christendom gepraat het.
Onder andere het hulle gepraat oor die geval waar ‘n oudminister Adriaan Vlok die voete van mnr Frank Chikani gewas het.
Mense kon toe in skakel en vrae vra, of hulle opinies gee oor dit wat minister Vlok gedoen het.

Ek wil nou nie hier ingaan oor die redes waarom mnr Vlok gedoen het wat hy gedoen het nie, buiten om te sê dat ek dink dat dit volgens my ‘n mooi getuienis was van hoe ‘n kind van God behoort op te tree.

Wat my verstom het, was dat daar nie een persoon ingeskakel het wat volgens my die gesindheid van Jesus geopenbaar het nie en almal het die Bybel gekwoteer.

Dit bring my nou by dit wat ek vandag met jou wil deel.
Ons weet almal, so glo ek, dat Christene die gesindheid van Jesus aan die mense om ons ten toon moet stel.

ROM 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
ROM 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Nou lyk dit vir my die meeste Christene weet nie naastenby wat die gesindheid van Jesus is, wat ek moet hê nie.
Jesus se gesindheid, Jesus se beeld , ja, Jesus se hele wese kan met een woord opgesom word en dit is LIEFDE.

EFE 5:2  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.

Hierdie ‘ons’ wat Paulus hier van praat, is nie net ek, my gesin, familie, vriende en volk of ras, soos inbellers in daardie program wou glo nie.
O, nee!

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Sien jy?
Dit gaan nie net om my en my gesin, familie, vriende, volk en of ras nie.
Jesus het aan die kruis gaan hang vir die hele wêreld.

In die NLV lees vers 17 as volg:

JHN 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

So jy sien my vriend/vriendin:
As ek Jesus se gesindheid in my het, dan het ek Sy liefde in my.
Dan is ek nie net meer lief vir my en my gesin, familie, vriende, volk en of ras nie.
Dan kyk ek nie net meer na my en my gesin, familie, vriende, volk en of ras nie.
Dan onthou ek , dat ek ‘n opdrag gekry het om uit te voer en hierdie opdrag moet ek nie net teenoor my eie mense uitvoer nie maar teenoor alle mense wat ons Here my pad langs stuur.

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Dan, met Jesus se gesindheid, of dan Jesus se liefde in my hart, is my en myne, nie
meer net my gesin, familie of my vriende of volk en of ras nie.
Dan, soos vir Jesus, gaan dit in my hart oor mense en soos vir Jesus maak dit dan nie
by my saak watter taal die mens praat of wat sy kleur is nie.
Vir my gaan dit dan daarom om deur my lewe Sy opdrag uit te voer.

In Markus 15:16 lees die opdrag as volg:

MRK 16:15  En Hy het vir hulle gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Dan onthou ek ook wat my Jesus vir Sy volgelinge, met ander woorde ook vir my
gesê het kort voordat Hy vir die hele wêreld se mense na die kruis toe gestap het.

JHN 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
JHN 15:11  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

JHN 15:13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
JHN 15:14  Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.

Om dan af te sluit:

Hier is dan vir my die heerlike “cherry “op die koek.
Ek is ‘n disipel van Jesus en al die ander mense van al die ander nasies wat ons gelei het om disiples van Jesus te word is nie net my naaste nie maar in Christus my broers en my susters.  Maak nie saak watter kleur, volk of ras hulle is nie.
Ek het mos gepraat van die “cherry” op die koek.
Wat maak my so opgewonde van hierdie groot verskeidenheid van my familie in Christus?
Lees net hier:

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Hoe wonderlik!
By al die wonderlikheid wat jy nou gelees het, deel ek saam met jou en my ander broers en susters in hul wye verskeidenheid nog dit ook.
Hulle is almal saam met jou en my mede-erfgenaam van Christus!  En ons gaan almal
saam met Hom verheerlik word!
Natuurlik kan dit nie anders nie.  Want, dit is ook wat Jesus se kruisdood vir ons almal bewerkstellig het en as ek sê almal, glo ek dat ek reg is, as ek “almal” in die wydste sin van die woord gebruik.  Want, daar staan dit mos geskryf – en die NLV sê dit so mooi:

GAL 3:28  Omdat julle almal in Christus Jesus één is, kan julle nie langer teen mense diskrimineer omdat hulle Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie.  
GAL 3:29  Verder, omdat julle aan Christus behoort, is julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

Jy sien –
Een ding het ons Here my oor die jare baie duidelik geleer.

ROM 2:11  Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.

Die NLV:
ROM 2:11  God het immers geen witbroodjies nie

Groete,
Sakkie