OM HIERDIE REDE GEE ONS NIE MOED OP NIE

OM HIERDIE REDE GEE ONS NIE MOED OP NIE.

Outeur:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vertel my dat hulle ‘n uiters stresvolle tyd deurgaan wat nou al vir baie lank aanhou.  Ek deel met jou my antwoord aan die persoon:

So baie wonder ons wát ons gedoen het om deur te gaan wat ons deurgaan – en dit is natuurlik net menslik om dit te doen  – maar ek wil jou vandag bemoedig deur jou te wys, (as dit al in jou gedagtes opgekom het), dat dit werklik nié só is nie.

Ek praat van, dat daar soms baie slegte dinge met ons gebeur en ons dan wonder hoekom ons Here dit aan ons doen.

Dit is egter werklik nie so, waar dit by Sy kinders kom nie.

Ek wil jou net gou op ‘n paar dinge in Job se lewe wys:
Ek weet jy ken sy geskiedenis goed maar soms het ons net nodig dat iemand ons weer aan hierdie en daardie herinner.

Die eerste wat ons van Job lees is die volgende:

JOB 1:1  Daar was ‘n man met die naam Job.  Hy het in die land Us gewoon.  Hy het onberispelik geleef, ‘n man met integriteit.  Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie.

Net ‘n bietjie verder in hierdie selfde hoofstuk bevestig ons Here weer met Sy eie woorde wat Hy hier vir ons laat skryf het.
Ons lees:

JOB 1:8  Die HERE vra toe vir die aanklaer:  “Het jy vir Job opgemerk?  Hy dien My.  Daar is nie nog iemand soos hy nie.  Hy lewe onberispelik.  Hy is ‘n mens met integriteit.  Hy aanbid My en vermy die kwaad.”

Nou kom hier God se toelaatbare wil, om dit so te stel, in werking en ek kan natuurlik nie vir jou sê, hoekom God soms dinge toelaat om te gebeur nie maar dan, ek is nie almagtig en of alwetend nie.
So ek kan ook nie presies sê waarom die verskriklike dinge met Job gebeur het, waar hy alles, ook sy 10 kinders verloor het nie.
Maar ek kan darem verseker met die bewyse van JOB 1:9-12 voor my sê, dat dit nié God was wat die Sabiërs in JOB 1:15 laat doen het wat hulle gedoen het nie.
Dit was ook natuurlik nie God wat die natuur misbruik in JOB 1:16 het nie.
Dit was ook nie God wat byvoorbeeld die Chaldeërs laat doen het wat hulle volgens JOB 1:17 laat doen het wat hulle gedoen het nie.
Dit was ook nie God wat die wind gebruik het om Job se kinders in JOB 1:19 te vermoor nie.

Dit was die satan.

Kyk net wat is Job se reaksie op die verskriklikhede wat met hom gebeur het:

JOB 1:21 “… Die HERE het my alles gegee wat ek gehad het, en nou het Hy dit alles weggeneem.  Prys die Naam van die HERE!”
JOB 1:22  In alles wat gebeur het, het Job nie verkeerd gedoen deur God te blameer nie.

Jy sien –
Jy en ek is kinders van ons Here en dit al klaar is vir satan verskriklik om te weet  – en hy is ‘n god, die god van die bose –  hoe nader jy en ek aan ons Here beweeg, hoe feller gaan sy aanslag teen ons wees.

Kyk maar, om maar net nog een voorbeeld te noem, na my groot held Paulus, terwyl jy saam met my Job ook in gedagte hou –
Ná al sy ontberings terwille van die evangelie van Jesus Christus, waar hy selfs een keer gestenig en vir dood gelaat is  en waar hy as vir daardie tyd ‘n bejaarde man vol littekens in die tronk sit en wag, dat hulle hom moet kom haal om hom tereg te stel – omdat hy as kind van ons Here die evangelie van Jesus Christus verkondig het – skryf Paulus:

2TIM 4:6  Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ‘n offer aan God.  Die tyd van my dood is op hande.
2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.
2TIM 4:8  En nou wag die prys vir my:  die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van Sy wederkoms.  En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na Sy heerlike verskyning.

Ek het vir jou genoem, dat daar, om dit so te stel, God se toelaatbare wil is, maar – en hoe absoluut wonderlik om dit te weet – daar is ook God se soewereine wil, waar niémand verby kan kom nie  en in Job se geval sien ons ‘n voorbeeld daarvan in JOB 1:12 en in JOB 2:6:

JOB 1:12  “Goed, jy mag hom toets,” sê die HERE vir die aanklaer.  “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit.  Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.”  Die aanklaer is toe weg van die HERE af.

Omdat ons Here almagtig, alwetend en alomteenwoordig is en ‘n soewereine wil het wat deur niémand getroef kan word nie.
Daarom kon Jesus terwille van jou en my na Golgota stap en geen mag op aarde kon hom keer nie.
Daarom kon God na Sy seun aan die kruis op golgota kyk en terwille van jou en my, om dit so te stel, Sy rug op Sy Seun draai.
Daarom kan jy en ek vandag na ons Here se toelaatbare wil kyk, en onthou wat Hy vir ons laat skryf het:

JAK 1:2  My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
JAK 1:3  Julle weet mos:  Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
JAK 1:4  Julle moet egter enduit volhard.  Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees.  Julle sal niks kortkom nie.

Want, prys die Naam van ons Here!  Ons Here het ook ‘n soewereine wil en dáárom het ons sy versekering uit Sy kosbare Woord.
Selfs al het ek soos Job alles, letterlik alles hier op aarde verloor –
Ja, al sit ek soos my groot held Paulus, met ‘n vernielde liggaam en wag dat hulle my moet tereg stel.
Ek weet, dat my lewe hier op aarde ‘n reis is oppad na die Ewige Lewe en omdat ek Sy kind is, is alles wat hy toelaat om met my te gebeur, omdat hy ook ‘n soewereine wil het, uiteindelik, die heel beste wat ooit met my kan gebeur.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hule wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

Ek onthou deur alles wat met my gebeur, dat ons Here het ook ‘n soewereine wil en omdat ons weet wat ons in Sy Woord deur Sy Heilige Gees vir ons laat skryf het, kyk ons na ons lewe op pad na die ewigheid en ons besef, dat in vergelyking met die Ewige Lewe wat vir ons voorlê, kan ons na ons lewe kyk en soos my groot held Paulus dit uit jubel:

2KOR 4:16  Om hierdie rede gee ons nie moed op nie.  Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
2KOR 4:17  Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, (as jy dit vergelyk met die ewige lewe wat vir ons voorlê) maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
2KOR 4:18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

Groete,
Sakkie