OM SOMS TE LIEG OF NIE TE LIEG NIE

OM SOMS TE LIEG OF NIE TE LIEG NIE

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en ‘n vraag gevra, wat daarop neergekom het, of daar soms gevalle is, waar ‘n dissipel van Jesus, anders gestel, ‘n kind van ons Here ‘n leuen mag vertel.

Natuurlik gaan daar mense wees wat met my verskil.  Om die waarheid te sê, het ‘n Pastoor, toe ek en hy by geleentheid oor hierdie saak geredeneer het, vir my gesê hy sal verseker soms lieg en toe die volgende voorbeeld gebruik.

Veronderstel ‘n vrou kom soek by my skuiling omdat haar man haar wil skiet en daar is ‘n klop aan my deur en toe ek die deur oopmaak staan die man daar met ‘n haelgeweer in die hand en vra of sy vrou hier is.
Dan, so het hy gesê, sal ek verseker lieg en sê dat sy nie daar is nie.

Vanwaar ek staan en kyk, kan daar net een rede wees waarom ‘n kind van ons Here dan sou lieg.
Dit is omdat hy nie ons Here vertrou om hom te beskerm teen die boosheid voor hom nie.  Asof ons Here hom in die steek sal laat omdat hy soos ons Here ons leer en beveel, by die waarheid bly.

PSM 40:5  Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie twend tot hoogmoediges en leuendienaars nie.
PSM 40:6  Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons;

Dit is, as ek die Woord reg verstaan, sonde om te lieg.

Daar is natuurlik ook nog ‘n ander groot hartseer aan lieg verbonde.
As ek net soms vir jou lieg, beteken dit dat jy my nie net soms gaan glo of vertrou nie maar dat jy my die meeste van die tyd nie gaan glo of vertrou nie.

Daar is nog baie wat ek oor lieg en leuens kon skryf maar wat sê die Woord oor lieg?

Ek gaan net ‘n paar voorbeelde gebruik.  Want glo my, daar is geweldig baie voorbeelde in die Woord, wat getuig van ons Here se absolute afsku in leuentaal.
Kom ons begin by die begin.
Waar ontstaan ‘n leuen?
Anders gestel:
Wie se produk versprei ek as ek lieg?

Lees hoe sien Jesus mense wat nie omgee om te lieg nie en waar kry hulle die leuens wat hulle met soveel gemak uiter:

JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Geen wonder dat ons op ‘n ander plek in die Woord lees:

SPR 12:22  Valse lippe is vir die HERE ‘n gruwel, maar Hy het ‘n welbehae in die wat getrou handel.

Asook.

SPR 4:24  Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe.
SPR 4:25  Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou.

Lees hier wat laat die Heilige Gees Dawid by geleentheid skryf:

PSM 101:6  My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien.
PSM 101:7  Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.

Dan ook –
Ek het in my lewe gelukkig dit nog nooit teëgekom dat iemand my ‘n vraag vra en nie die waarheid wou hoor nie maar as dit sou gebeur, is my eerste lojaliteit teenoor my Here.  Al sou die waarheid, as iemand my ‘n vraag sou vra, nie wees wat die persoon wou hoor nie en al sou dit die persoon ook skok, dit is in die hand van my Here.
Ek kan nie en ek sal ook nie probeer om pa te staan vir ‘n leuen wat iemand dalk eerder sou wou hoor nie.

As jy nou als uit die Woord gelees het, wat ek jou hierbo gewys het.  Dan om so ‘n bietjie “slang” te gebruik.
Die “bottom line” is dit:
Of om dit anders te stel as jy dan wil.
As jy nou alles bymekaar sit, van om selfs net soms te lieg of nie te lieg nie, som die volgende twee gedeeltes uit die Woord alles vir my baie mooi op:

KOL 3:9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
KOL 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,

JHN 4:24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

As ek dan nou mag afsluit, deur die kersie op die koek te sit:
Ons Here sê vir ons in Spreuke, dat daar 6, nee 7  dinge is wat God haat.  Ek het amper gskryf: “met ‘n passie haat”  en ‘n leuen, of dan leuentaal, is die enigste een wat twee keer daar voorkom:

SPR 6:16-19
16 Daar is ses dinge
wat die Here haat,
nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ’n afsku het:
17 oë vol hoogmoed,
’n tong wat lieg,
hande wat onskuldiges doodmaak,
18 ’n hart wat slegte planne beraam,
voete wat agter kwaad aanloop,
19 ’n vals getuie wat leuens verkoop,
en iemand wat rusie veroorsaakt ussen broers.

Groete,
Sakkie