OM IN TALE TE PRAAT IS ‘N GAWE VAN DIE HEILIGE GEES – EN NIE VAN MENSE NIE

OM IN TALE TE PRAAT IS ‘N GAWE VAN DIE HEILIGE GEES – EN NIE VAN MENSE NIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my met ‘n paar vrae en ek kom dadelik agter, dat die persoon met geestelik gesproke, baie gevaarlike mense te doen gekry het en ek hoop tog so, dat jy as jy met mense te doen gekry het, wat aan jou verkondig dat jy in ‘n taal moet praat om aste ware te bewys dat jy die heilige Gees ontvang het, of iets soos:
“Kom ek leer jou om in ‘n taal te praat”
En dan gewoonlik nog byvoeg:
“Sê net agter my aan.”
Dat jy, jouself asseblief sal onttrek van sulke mense en ‘n ander gemeente sal soek waar die wáre evangelie van Jesus Christus verkondig word.

Hier dan is my antwoord aan die persoon wat aan my geskryf het.

Ek wil jou vrae se antwoorde met die volgende begin:

Die rede in die eerste plek hoekom jy nie in tale praat nie, is omdat ons Here nie op hierdie oomblik in tyd wil dat jy daardie gawe ontvang nie maar daar is ook ‘n ander rede, waarom jy nie in ‘n menslik nagemaakte taal praat nie en dit is omdat jy een van daardie Christene is (en hulle word ook al hoe minder) wat, omdat jy opreg in jou aanbidding en uitleef van jou Christenskap is, nie valslik in ‘n taal wil praat, deur jou deur die een of ander omstandighede te laat intimideer, om ‘n na-aper van die Heilige Gees te wees en valslik te verkondig, dat jy ‘n gawe van die Heilige Gees ontvang het, wat jy nie ontvang het nie.

Ek het gesê jou tipe Christen word ook al hoe minder maar dit is ook maar net deel van ‘n vervulling van wat Jesus ons ook laat verstaan het, wat gaan gebeur voor Sy koms:

LUK 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
LUK 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Ek glo in die laaste gedeelte van vers 8 wat jy nou gelees het, is dit juis bedoel op onder andere, mense wat hulle laat intimideer deur mense wat deur satan misbruik word om ons Here se evangelie eintlik ‘n bespotting in die oë van die wêreld te maak.

Jy vra my ook:
“Kan n pastoor of dominee vir sy gemeente leer hoe om in tale te praat?
En indien wel, hoe leer jy iemand om in tale te praat (in die gees)?“
Nee, absoluut nee.
Enige dominee of pastoor/leraar, of wie ook al, wat so iets verkondig, verkondig ‘n leuen uit die hel uit.
Om in ‘n taal te praat is een van die gawes van die Heilige Gees, wat die Heilige Gees, en net die Heilige Gees uitdeel in die gemeente, met die oog op wat nuttig, of om dit so te stel – wat van hulp in die gemeente is – en Hy doen dit soos Hy, die Heilige Gees en Hy die Heilige Gees alleen dit wil.

1KOR 12:4-12 
4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
5  en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6  en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
7  Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
8  Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9  aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
10  aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander (‘n gawe van) allerhande tale, aan ‘n ander (‘n gawe van) uitleg van tale.
11  Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees (dit is die Heilige Gees) wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
12  Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.

Is daar mense wat verkondig, dat jy iemand kan leer om in ‘n taal te praat, wat met ander woorde, die Heilige Gees se gawes uitdeel soos hy/sy wil?

Ja, verseker is daar mense wat dit verkondig en in die oë van baie mense dit ook doen, maar dan ons lees mos in die Woord:

2KOR 11:14  En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
2KOR 11:15  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Jy vra my ook:

“Waarom kan ek nie in tale praat nie?”
Iemand anders vra:
Waarom word mense nie gesond as ek vir hulle bid nie, al doen ek dit werklik in my hart met volle opregtheid?
Die antwoord wat die uitdeel van die gawes van ons Here aan Sy kinders aanbetref, is uiteindelik heel eenvoudig:
Ons Here doen deur Sy heilige Gees wat Hy in Sy almagtige alwetendheid wil doen:

1KOR 12:11  Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees (dit is die Heilige Gees) wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Ek verkondig en sal altyd teen hulle wat so hamer op die spreek in tale verkondig, dat daar gawes van die Heilige Gees is, wat nuttiger is, as om in ‘n taal te praat en as ek dit doen, verkondig ek ook net wat my groot held Paulus ook verkondig het en terwyl ek soos my groot held Paulus dit so verkondig, onthou ek ook, dat ons Here hom – dit is Paulus -toevertrou het om die grootste gedeelte van die Nuwe Testament te skryf:

1KOR 14:18-20 
18 Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;
19  maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.
20  Broeders, moenie kinders (wat swaar leun op die spreek in tale) wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees (in wat geestelik nuttig vir jou broer en suster in die gemeente is) volwassenes in die verstand.

Ek som dan alles wat ek nou met jou tot hier gedeel het op en sluit af met die volgende gedeelte uit ons Here se kosbare Woord:

FIL 4:8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Leef dit wat jy nou gelees het uit in die gemeente en in jou lewe en jy sal die doel in jou lewe en in die gemeente bereik wat ons Here wil dat jy moet bereik.
Moet nie dat jy geïntimideer word om hierdie of daardie te doen nie.
Jesus het reeds álles gedoen wat daar gedoen moet word, vir jou om die ewigheid saam met Hom deur te bring.

Wat jy as mens moet doen is so eenvoudig as dit:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Doen dit in alle opregtheid in jou hart en soos die Woord sê, jy sal die Heilige Gees ontvang en Jy is op jou pad hemel toe.
Hou net al die tyd jou geestelike oë op Jesus:

HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
HEB 12:3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

Glo ook vir my, dat jou pad tot in die hiernamaals nie ‘n pad van maanskyn en rose gaan wees nie, daarom sê die Woord ook vir ons, net nadat jy gelees het wat jy nou in die brief aan die Hebreërs gelees het:

HEB 12:4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

En deel van daardie weerstand is juis, weerstand teen hierdie valse verkondigers van die evangelie van Jesus Christus.
Onthou ook ons Here Jesus se woorde aan ons, sodat jy nie jou ore uitleen aan satan se soort engele van die lig nie:

MAT 7:15  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
MAT 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

Jy verkondig nie iets wat nie in die Woord van ons Here te vind is nie.

MAT 7:17-20 
17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

As jy iets in die Woord nie verstaan nie, of nie weet wat daar in die verband geskryf is nie.
Bid daar oor en gesels dan met iemand van integriteit wat die evangelie van Jesus Christus aan betref.

MAT 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

In hierdie verband is daar ook nog verdere ‘Gedagtes uit die Woord’ wat op bestelling by my per e-pos beskikbaar is, of op die Webtuiste gelees kan word.  Die name daarvan is:

“Die Spreek in Tale”
“Daar is gawes wat nuttiger is as om in tale te praat”
“Is die Heilige Gees inwonend in my alhoewel ek nie in tale praat nie?”
“Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself.”

Groete,
Sakkie