OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL – DEEL 2 van 3

OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL – DEEL 2
Deel 2 van 3

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe aan jou in hierdie reeks waar daar aan my gevra was:

“Die gedeelte wat se: Moenie oordeel nie,want in die mate wat jy oordeel,sal jy self geoordeel word: Wat presies behels dit?” het ek gesê dat sonder die leiding van die Heilige Gees, is dit baie moeilik om te onderskei tussen veroordeel en beoordeel.

In hierdie skrywe wil ek probeer om jou te wys hoe fyn die lyn is maar terselfdertyd hoe duidelik daardie lyn tussen veroordeel en beoordeel is as ek ingestel is om na die Heilige Gees en nie na myself te luister nie.

Lees eers gou hier:

MAT 7:1-6
1  “Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek.  Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie.
2 Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel.  Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word.
3 En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?
4 Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ’Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog uithaal,’ terwyl daar ‘n yslike stomp in jou eie oog sit?
5 Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit.  Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal.
6 Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie.  Hulle sal dit nie respekteer nie.  Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur.  Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie.  Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Sien jy?

Aan die een kant moet ons nie oordeel nie maar aan die anderkant, is daar ook MAT 7:6.
Kom ons gaan nou gou weer deur hierdie gedeelte en ek gaan vir jou wys hoe ek hierdie saak sien en ek gebruik net een voorbeeld om hierdie lang skrywe nie nog langer te maak nie.

MAT 7:1 “Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek.  Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie."

As jy vir iemand sê:
“Jy het jou lewensmaat verneuk, jy is nou ‘n hoereerder.”
Nou het jy die persoon veroordeel en nou moet jy ook onthou toe jy die laaste keer na iemand van die teenoorgestelde geslag met verkeerde gedagtes gekyk het.
Want, toe het jy wat ons Here aanbetref presies dit gedoen, wat jy nou voor die persoon se kop gooi met wie jy deel.  Jy het gehoereer.

MAT 5:27 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’
MAT 5:28 Maar Ek sê vir julle, elke man (of vrou) wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou (of ander man) kyk, het al klaar in sy (of haar) hart egbreuk gepleeg.”

Met dit in gedagte, lees nou weer:

MAT 7:1 “Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek.  Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie.”

Beteken dit nou ek moet my mond hou oor dit wat die persoon doen?

Natuurlik nie – maar ek behoort in my beoordeling, op die sonde en nie die persoon te fokus nie en dan Jesus en Sy Evangelie by die gesprek te betrek.  Want met die Heilige Gees in my, wil ek nie vir hom of haar wys hoe sleg hy/sy is nie.  Nee, ek wil vir hom/haar wys hoe verkeerd dit is wat hy/sy doen en die geleentheid gebruik om met hom/haar die Evangelie van liefde en vergifnis van Jesus te deel.

As ek op hierdie wyse na die mens kyk met wie ek deel, maak die volgende wat Jesus in hierdie gesprek gesê het, vir my ook sin:

MAT 7:2-4
2  “Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel.  Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word.
3 En hoe sien jy die splintertjie ( in die geval van ons voorbeeld, die persoon se egbreuk) in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp (in die voorbeeld van hierdie skrywe, daardie wellustige gedagtes in jou hart wat jy gedurig vertroetel) in jou eie oog nie op nie?  (Jy wat beter behoort te weet)!
4 Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ’Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog uithaal,’ (laat ek jou vertel hoe vieslik jy lewe) terwyl daar ‘n yslike stomp (baie erger dinge in jou eie hart vertroetel word) in jou eie oog sit?”

Ons is soms baie gou om ‘n fout “splintertjie” in iemand anders se lewe raak te sien maar die verskriklike “stomp” verskriklik, (omdat ons van beter weet) in ons eie lewe skoon mis te kyk, of met opset te ignoreer.
Jesus sê vir ons wat so optree:

MAT 7:5 “Jou skynheilige, haal eers die stomp (dit wat jy verkeerd doen, terwyl jy van beter weet) uit jou eie oog uit.  (Maak eers jou eie saak met ons Here reg) Dan sal jy ook duidelik kan sien (die Heilige Gees se stem duidelik kan hoor) om die splinter uit jou medemens se oog te haal.”  (Jou medemens te help om ook haar/sy saak met ons Here reg te maak).

Dan sal jy met ons voorbeeld hier bo in gedagte iets sê soos:
“Dit wat jy doen is verkeerd.”
Met ander woorde jy sal fokus op die sonde en so die sondaar beter kan bystaan.
Sien jy wat noem Jesus, God wat mens geword het, iemand wat optree soos wat ons hierbo gelees het?

MAT 7:5 Jou skynheilige, …
Kom ons kyk na ons medemens soos wat Jesus na die mens kyk.  Ons het mos Sy Gees inwonend in ons.

Verafsku die sonde maar kyk met deernis na die sondaar.

Ek sluit dan hierdie skrywe af met die volgende uit die Woord wat ‘n mens gerus kan onthou as jy weer voel om iemand sommer tot die hel te verdoem.
As jy terug kyk oor wat jy nou in hierdie skrywe gelees het, onthou dan ook die volgende:

ROM 2:1 Jy sê dalk: "Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!" Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy 'n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging.

Groete,
Sakkie