OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL – DEEL 3

OM TE VEROORDEEL OF TE BEOORDEEL  – DEEL 3

Sakkie Parsons

In my vorige twee gedagtes uit die Woord in hierdie reeks waar daar aan my gevra was:

“Die gedeelte wat se: Moenie oordeel nie,want in die mate wat jy oordeel, sal jy self geoordeel word – Wat presies behels dit?” het ek telkens na Jesus se woorde in MAT 7:1-6 verwys.

In hierdie, die laaste skrywe in hierdie kort reeks wil ek nou konsentreer op MAT 7:6.

Ek het in ‘n vorige skrywe oor hierdie onderwerp genoem dat as jy nie werklik die stem van die Heilige Gees hoor nie, jy nie die fyn lyn tussen veroordeel en beoordeel in die uitlewe van jou Christenskap gaan raaksien nie.

Ek het toe ook genoem dat daardie fyn lyn meer as een faset het.

Wel nou wil ek met jou deel oor nog ‘n faset van daardie fyn lyn van veroordeel en beoordeel en dit is – om te weet wanneer ek moet ophou om my tyd te verspil deur die Evangelie aan mense te verkondig wat dit nie, in elk geval nie deur my nie, gaan aanvaar nie.
Jesus stel dit so:

MAT 7:6  “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie.  Hulle sal dit nie respekteer nie.  Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur.  Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie.  Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Jesus begin MAT 7:6 met die volgende woorde:

MAT 7:6 “Moenie wat heilig is …

Wat het jy en ek wat “heilig” is, wat ons vir iemand anders kan gee?

Jesus se heilige Evangelie natuurlik!

So as ek die Evangelie van Jesus met iemand bly deel wat gedurig die spot daarmee dryf, so het ons Here dit vir my gewys, nadat die persoon met wie ek die Evangelie aanhoudend gedeel het altyd die een of ander snedige op of aanmerking oor dit wat ek met hom deel gemaak het, dan moet ek ophou om hom/haar die geleentheid te gee om spot te dryf met dit wat ek van ons Here ontvang het en wat vir my heilig is.

MAT 7:6 “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie.  Hulle sal dit nie respekteer nie.  Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur.”  (Jou verkondiging van die Evangelie bespot, beledig of jou verneder)…

Dan, in dieselfde vers waar Jesus sê dat ons nie wat Hy vir ons gegee het wat heilig is moet, om dit so te stel, bly blootstel aan mense wat dit nie gaan respekteer nie en ons dalk nog geestelik in die proses  soos honde verskeur word nie, sê Jesus nog iets wat ons nie met hierdie mense moet deel nie:

MAT 7:6  … Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie.  Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Jesus, so lyk dit vir my persoonlik in elk geval, sê hier dat ek nie eens my getuienis of die lewenswaarheid en lesse wat ek in my lewe as Christen opgetel het met hierdie mense verder moet deel nie, want hulle sal net dit wat vir my kosbaar is, spottend probeer vieslik maak.

MAT 7:6  … Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie.  Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Om dan op te som tot hier:

Ek moet nie mense oordeel of dan veroordeel nie, want ekself is ook maar ‘n feilbare mens.

1JOH1:8-10
8  As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.
9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.
10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot 'n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

Nee, ek moet deernis vir die mens hê en in my beoordeling van die verkeerd wat ek sien in liefde met die mens oor die verkeerd in sy/haar lewe deel, omdat ek ook onthou:

JAK 2:13 Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel.

Nou is die vraag natuurlik:

Beteken dit volgens MAT 7:6 dat ek, om dit so te stel, ten minste daardie mense wat na my nie wil luister nie en altyd negatief en soms selfs vyandig teenoor my is as ek met hulle die Evangelie of my getuienis wil deel,  dat ek hulle nou kan veroordeel of dan oordeel en vir satan kan los?

Nee, natuurlik nie.

So, hoe moet ek dan die Evangelie van Jesus gedurigdeur vir hulle voorhou?
Ook hierin leer en wys Jesus ons deur Sy voorbeeld hoe ons oor hierdie mense moet redeneer.

Ek lees en dit is Jesus self wat hier praat:

JOH 10:36-38
36 “Hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: 'Ek is die Seun van God'?
37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo.
38 Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is."

Wat hierdie voorbeeld van Jesus aanbetref, lees ek in die Woord waar dit by jou en my kom die volgende:

1 PET 2:11 Geliefdes, omdat julle (ons wat hierdie wêreld aanbetref) uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike geneigdheid toe te gee nie.  (In hierdie geval, om nie die mense tot die hel toe te verdoem nie). Dit verwoes net ‘n mens se lewe.
1 PET 2:12 Handhaaf ‘n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christinne, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag.  Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

So my vriend/vrienin –
As mense jou bly spot ens oor jou verkondiging van die Evangelie van Christus, kom daar ‘n tyd dat jy moet ophou praat maar moet hulle nou nie vir satan los nie, dit is juis wat satan wil hê.
Lewe dan net jou lewe.
Anders gestel.
Verkondig die Evangelie van Christus aan hulle deur jou lewe.

Leef gedurigdeur naby Hom, want as jy dit nie doen nie kan jy baie maklik Sy stem en begeerte verwar met jou stem en jou begeerte en hoe verskriklik jy
so ver van Hom af kan lewe sonder dat jy dit weet dat jy satan se stem met Sy stem begin verwar.

Waarom sou ek in elk geval nie my bes probeer om so naby ons Here te lewe as wat dit in my mensheid vir my moontlik is nie, as ek by alles wat ek reeds
in my Christen wees weet, ook die groot waarheid onthou waarmee Petrus Jesus by geleentheid geantwoord het?

JOH 6:68 Simon Petrus het Hom geantwoord: "Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.”

Ek sluit dan hierdie kort reeks van Om te Veroordeel of te Beoordeel af met die volgende baie goeie raad uit die Woord, veral in die verkondiging van die Evangelie van Jesus deur ons lewe:

ROM 12:18 Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

FIL 4:8 Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

Groete,
Sakkie