OMDAT HY ONS EERSTE LIEFGEHAD HET

OMDAT HY ONS EERSTE LIEFGEHAD HET

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Ek het my nog nie bekeer nie.  Hoe kan ek weet of God iets met my te doen wil hê?”

Ek deel hier met jou my antwoord aan die persoon.  Miskien weet jy van iemand wat dieselfde vraag in sy/haar hart het.

Ek wil graag iets met jou deel wat my baie opgewonde gemaak het die eerste keer toe ek dit gesien het en wat my nou weer wat jou aanbetref sommer baie opgewonde maak.
Die feit dat jy wonder of ons Here iets met jou te doen wil hê, is al klaar vir my ‘n bewys dat ons Here aan die deur van jou hart klop.
Jy sien, met elke verhouding soos ek dit verstaan wat tussen ‘n mens en ons Here begin, begin ons Here eerste.  Daarna aanvaar of verwerp die mens ons Here se toenadering.

Hier is dan nou wat jou baie opgewonde kan maak:
Ons Here het na al die miljoene mense op aarde gekyk en onder die van jou leeftyd met wie Hy ‘n verhouding wil hê, het Hy jou uitgekies.

1JHN 4:19  Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Nou hang dit net af of jy Sy wonderlike toenadering gaan beantwoord, want daar staan dit geskryf:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Hy sê en dit is duidelik presies wat nou met jou gebeur:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Jy het verseker Sy stem gehoor en jy staan eintlik al klaar met jou hand op die deurknop om jou hart se deur oop te maak, anders sou jy nie hierdie skrywe aan my gerig het nie.

Draai nou die deurknop van jou hart en maak die deur wyd oop, deur in volle opregtheid die volgende te bid net daar waar jy is.

“Here, ek het U stem en die klop aan die deur van my hart gehoor.  Kom neem van my en my lewe besit.
Ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker.”
Nou, as ‘n saak van groot dringendheid, soek jy ‘n Christelike gemeente wat die hele Bybel as basis van sy leerstelling het, om jou verder te help.
Net as jy werklik nie van so ‘n gemeente weet nie, kontak dan vir my.

O ja, amper vergeet ek om jou net weer te wys wat onder andere vir jou voorlê, nadat jy vir Hom jou hart oop gemaak het, ten spyte van al satan se pogings om jou te verhoed om dit te doen.
Onthou jy wat jy gelees het?

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Groete,
Sakkie