ONS CHRISTELIKE GELOOF
Sakkie Parsons
Iemand stuur aan my hierdie pragtige Skrif uit die Woord van ons HERE, en die volgende kom in my hart op –
Dit is die kortste volledige opsomming van ons Christelike geloof wat ek vir iemand kan gee:
1JHN 3:23 En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het.
Ek lees weer die eerste gedeelte oor Jesus:
1JHN 3:23 En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo …
En ek onthou en ek deel met jou net drie van die so baie wat ek kon gebruik het:
HAN 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom (Jesus Christus, Sy Seun) ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
OPG 22:13 “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
OPG 22:14 “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.”
Ek onthou ook as ek die laaste gedeelte van die Skrifgedeelte lees:
1JHN 3:23 En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het. …
En ek onthou, Jesus se grootse groot Liefdeswet wat Hy vir ons as voorbeeld MAT 22:36-40 gegee het:
MAT 22:36-40
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet (dit is nie ‘n opsie vir my Sy kind nie, dit is ‘n opdrag/bevel) die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (‘n opdrag/bevel, waaraan ek gedurig moet werk, sodat dit sterker en sterker sal word)
38 Dit is die eerste en groot gebod.
39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet (dit is nie ‘n opsie vir my Sy kind nie, dit is ‘n opdrag/bevel) jou naaste liefhê soos jouself. (‘n opdrag/bevel, waaraan ek gedurig moet werk, sodat dit sterker en sterker sal word.)
40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Daarom soos ek altyd sê as ek oor hierdie saak met iemand deel, kon my groot held Paulus met die absolute oortuiging van die Heilige Gees in sy hart by geleentheid hierdie Liefdeswet van Jesus so onderstreep:
ROM 13:9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet (dit is nie ‘n opsie vir my Sy kind nie, dit is ‘n opdrag/bevel) jou naaste liefhê soos jouself.
ROM 13:10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
Natuurlik kan ek nie, en behoort ek ook nie, my naaste lief te hê met byvoorbeeld dieselfde liefde wat ek vir my vrou, of my kinders, of my familie, of my vriende het nie.
Dit is elk een ‘n verskillende soort liefde wat ek net vir hulle as mens kan hê.
Nou hoe lyk die liefde wat ek dan vir my naaste moet voel, omdat dit nie ‘n opsie is nie maar ‘n opdrag/bevel is?
Die een sal dit só noem en die ander weer só – maar ek noem dit wat ons Here my gewys het, hoe ek my mense moet vertel hoe hierdie liefde moet lyk wat ek vir my naaste, dit is elke persoon wat ons Here my padlangs stuur, by wie ek op die een of ander wyse betrokke raak –
Ek noem hierdie liefde “compassion” liefde.
Lees net van die woorde wat die woordeboek vir “compassion” gebruik:
“compassion, medelye, simpatie, empatie, erbarming, barmhartigheid”
Daarom – as mense vir my vra hoe kan ek vir daardie persoon in die straat, of waar ookal, wat ons Here nou my padlangs stuur, en die persoon nou op hierdie oomblik in my lewe my naaste is en wie ek nog nooit van te vore ontmoet het nie – hoe kan ek vir hom/haar nou skielik lief wees?
Wel, as my saak met my God werklik reg is, en ek werklik ‘n liefdesverhouding met my Here het, sal ek na daardie persoon kan kyk – en hangende af wat die omstandighede op daardie oomblik is, sal ek vir daardie persoon “compassionliefde” kan voel.
Ek sal deur my liefde vir my God, afhangende van die omstandighede waarop ons Here die persoon in my lewe gestuur het, kan kyk met “compassion.”
Ja, in my hart sal daar een of meer van die volgende gevind kan word: medelye, of simpatie, of empatie, of erbarming of barmhartigheid.
Een ding is seker –
In my hart sal ons Here in die een of ander opsig “compassion liefde” vir die mens, wie nou my naaste is, kan vind.
Groete,
Sakkie