ONS IS DIE LIG VIR DIE BEVREESDES IN DIE DONKER WÊRELD OM ONS

ONS IS DIE LIG VIR DIE BEVREESDES IN DIE DONKER WÊRELD OM ONS.

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende gedagte wat by my opgekom het toe ek weer so na mense om my luister terwyl hulle gesels.
Baie mense om my kyk vandag so om hulle en raak dan skoon depressief oor die toekoms en wat hulle in hulle lewe moet hanteer en dit is, wat so sal baie mense jou dan vertel, heel menslik – maar weet jy as kind van God, kan ons onsself gelukkig net herinner wie en wat ons is en as ons dit werklik glo, dan word alles negatief te heerlik hanteerbaar.

Laat ek verduidelik:

Ons is Christene, volgelinge van Jesus Christus.  Mense wat deur hierdie wêreld net op reis is oppad na ‘n heerlike toekoms.
Ons lees:

ROM 8:15-17 
15 Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.
16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.
17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Ek het genoem, dat ons oppad is na ‘n heerlike toekoms, ‘n toekoms wat vir ewig gaan aanhou:

ROM 8:18-21
18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.
19 Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.
20-21 Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang …

Daarom is dit te heerlik om uit ons Here se kosbare Woord te lees en onthou as jy dit nou lees, dat dit God se woorde aan jou is, wat Hy op papier vir jou neergelê het:

2KOR 4:17-18 
17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, (dit is onder andere, die sinnelose donker omstandighede om ons nie) maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

Daarom kan ons ook met Sy Gees in ons die wêreld om ons, om dit so te stel, in die oë kyk en met Sy krag en sekerheid in ons harte getuig:
 

Eerstens weet ons:

2KOR 4:6  Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
2KOR 4:7  Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

Met daardie sekere wete in ons, kan ons dan met groot sekerheid getuig:

2KOR 4:8  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;
2KOR 4:9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.

Onthou dan nou in die toekoms dat daar altyd, veral vir die kind van ons Here, áltyd uiteindelik die goeie uit die swaar gaan kom.

Dink net hieraan:
As daar nie ‘n goeie Vrydag gewees het waar die skrikwekkendheid van die kruisiging plaasgevind het nie, sou daar nie ‘n Paassondag gewees het waar Jesus uit die dood opgestaan het en die dood vir jou en my vir altyd doodgemaak het en die pad vir jou en my na die hemel oopgemaak het nie.

So, moet nie ontmoedig word deur die donker wat jy om jou sien nie.

Lees liewer gereeld ons Here se Woord, die lig in die pad vir jou en onthou die lig vir nou en in die toekoms wat Hy jou daar wys en laat ons dan onthou, dat ons hier vir hoofsaaklik twee redes op die aarde is:

Eerstens om ons Here te verheerlik en laat ons dan ons doel wat dit aanbetref in hierdie lewe onthou:

MAT 5:14-16 
14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Terwyl jy nou Mattheus 5:14-16 gelees het, is dit ook weer goed om te onthou wat naas die redding van die mense van hierdie wêreld, die ander hoofrede gewees het, waarom Jesus na die aarde gekom het:

MAT 24:14 “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”  (en Jesus kom voltooi wat Hy in Sy groot liefde op Golgota begin het.)

Onthou jy hoe Jesus uit die Woord vir ons gewys het dat Hy die Messias is wie sou kom en toe vir ons vertel het wat Hy eers moet doen voor Hy Golgota toe moes stap?

LUK 4:17-21
17 Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:
18 “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig.
Hy het My gestuur om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word,
dat blindes sal sien,
dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers,
19 en dat die tyd van die Here se goedheid gekom het.”
20 Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk.
21 Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”

Kom jy en ek leef deur ons getuienis en veral dan deur ons lewens dan ons hoof roeping hier op aarde uit, op ons pad na ons ewige woning saam met Jesus:

MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

So, eerstens is ons hier op die aarde op reis na ons ewige lewe saam met Jesus, deurdat ons deur ons lewens Hom verheerlik.
 

Tweedens is ons hier op die aarde op reis na ons ewige bestemming deur Sy evangelie wat Hy begin verkondig het, te verkondig soos wat Hy ons in Sy Woord leer om dit te verkondig.
 

Ons moet nie bevrees wees vir die donker in die wêreld om ons nie.
Ons moet die lig wees vir die bevreesdes in die donker wêreld om ons.

Groete,
Sakkie