ONS EIE, VRYE WIL

ONS EIE, VRYE WIL

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra die volgende:

Sê my of dit waar is, dat ons nie ‘n “vrye wil” het nie.

Ek wil begin deur dan sommer dadelik te sê, dat dit natuurlik nié waar is nie.
Jy en ek is nie marionette of robotte of so iets nie.

God het die mens na Sy beeld geskape:

GEN 1:27 God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep;
volgens sy eie beeld het God hulle geskep;
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Hier word natuurlik nie van ‘n uiterlike beeld gepraat nie, want net om mee te begin, die een was manlik en die ander een was vroulik en tog lees ons:

GEN 1:27 God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep;
volgens sy eie beeld het God hulle geskep;
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Kom ek deel nou met jou, as voorbeeld, drie eienskappe, waarvolgens jy en ek na die beeld van God geskape is.

Eerstens:
God is ‘n Skepper.  Kyk maar na die natuur en die son, maan en die sterre.
Die mens is ‘n skepper.  Kyk maar net om jou daar waar jy nou is.

Tweedens:
God kan nie doodgaan nie.
Jy en ek kan ook nie doodgaan nie.

Ons gaan die een of ander tyd hierdie liggaam verlaat en dan verder in die hemel vir ewig lewe.
Of ons gaan die een of ander tyd hierdie liggaam verlaat en dan vir ewig in die hel die verskriklikste dood sterf en tog nooit sterf nie.

In die hel gaan diegene wie daar beland, jy kan maar sê, vir ewig op die verskriklikste sterfbed lê en tog nooit sterf nie.

Derdens – en dit is dan waaroor hierdie gedagte uit die Woord eintlik gaan:

God het ‘n wil van Sy eie en dit wat Hy wil sal so wees.
Ons, omdat ons na God se beeld geskape is het ook daardie eienskap.
Ons het ook ‘n wil van ons eie wat die keuse, vir, of teen ons Here aanbetref.
Daar is ‘n legio omstandighede in hierdie lewe waar jou wil oor die een of ander rede kan verander word.  Byvoorbeeld, as jy sterker as ek is, sal jy dinge met jou krag kan doen wat ek dalk sou wou doen maar wat ek nie kan doen nie, omdat ek gewoon nie jou fisiese krag het nie.
Daar is egter een afdeling in jou en my lewe en nou kom ek by die antwoord van die vraag wat aan my gevra is en dit is die keuse van jou en my eie wil, van waar ons die ewigheid gaan deurbring.

Ek gebruik ‘n fiktiewe persoon, ‘Piet’ as voorbeeld:

God het voor die skepping, ja voordat Hy vir Piet geskape het om die ewigheid eendag vir altyd by Hom te wees, geweet dat Piet  gaan besluit deur sy eie wil te gebruik, om eendag satan en die hel te kies en God respekteer Piet se wil, omdat God vir Piet met ‘n eie wil geskape het, soos wat Hy wil, dat ook Sy wil gerespekteer moet word en deel van God se wil is, dat jy en ek ons eie wil sal gebruik om vir Hom of teen Hom te kies.

God wou Piet geskape het tot Sy eer en wat Piet se keuses in sy lewe ook al gaan wees, gaan nie wat God wou skep verander nie.
God het byvoorbeeld besluit, toe hy Piet geskape het, dat Piet vir 92 jaar hier op aarde Hom moet verheerlik maar God het toe ook voor Hy Piet geskape het reeds geweet dat Piet sy eie vrye wil gaan gebruik, om nie tot God se eer te lewe nie en  op 55 jarige ouderdom selfmoord gaan pleeg.  Net soos wat hy ook nog voor Hy Piet geskape het, geweet het van al die ander verkeerde besluite wat Piet in sy lewe gaan neem, soos om aan sigarette verslaaf te raak en so nog God se tempel, Piet se liggaam ook te beskadig.
Tot so ver wat Piet aanbetref.

Terug by my stelling wat ek reg aan die begin gemaak het naamlik:

“Ek wil begin deur dan sommer dadelik te sê, dat dit natuurlik nié waar is, dat jy en ek nie ‘n eie vrye wil het nie.
Jy en ek is nie marionette of robotte of so iets nie.

God wil hê, dat alle mense wat geskape is by Hom in die hemel moet wees en ek gebruik net een voorbeeld, anders gaan die skrywe werklik baie lank wees:

JOH 3:16-21 
16 “God het die mensdom (dit is elke mens wie deel van die mensdom is) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit is elke mens in die mensdom) wat in Hom glo, (uit eie vrye wil) nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense (dit is elke mens van die mense in die mensdom wie Hy geskape het) te veroordeel nie, maar sodat die mense  (dit is elke mens in die mensdom wie Hy geskape het) deur Hom verlos kan word.
18  “Die persoon wat aanhou (uit eie vrye wil) glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie (uit eie vrye wil) aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie (uit eie vrye wil) tot geloof gekom het
in die enigste Seun van God nie.
19 Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense (wie hulle eie wil so gebruik het) eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade (uit eie vrye wil) was boos.     
20 Elkeen wat (uit eie vrye wil) doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word
nie.  
21 Elkeen wat egter (uit eie vrye wil) die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”

Dink ‘n bietjie hieroor:
As dit waar was, dat ons nié ‘n vrye wil het oor waar ons die ewigheid wil deurbring nie;
Waarom het God Sy enige gebore Seun na die aarde gestuur om op een van die wreedste wyses vermoor te word en so vir ons as Paaslam geslag moes word, sodat ons die keuse, uit eie vrye wil mag hê om eendag die hemel in te stap?

1KOR 5:7-8
7 (Gebruik julle eie vrye wil en) Verwyder hierdie slegte invloed onder
julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees, want dit is tog wat julle in wese is. (omdat julle, julle eie vrye wil gebruik het om Jesus aan te neem as julle Verlosser en Saligmaker) Ook vir ons is daar immers ’n Paaslam geslag – Christus.
8 Kom ons vier dan fees, (uit eie vrye wil) nie met die ou brood van sonde en onsedelikheid nie, maar (uit eie vrye wil) met die nuwe brood van reinheid en waarheid.

Dink verder ook hieroor:
As dit waar is, dat ons nié ‘n eie vrye wil het nie;
Waarom op dees aarde moet ons almal wie dit wel doen so hard werk om die Evangelie van Jesus Christus, by soveel as moontlik mense uit te bring, sodat hulle ‘n besluit vír of téén ons Here kan maak, as dit nie nodig is vir hulle om so ‘n besluit te maak nie, want hulle gaan tog beland waar hulle gaan beland, in die hemel of in die hel.

Om dit nog ‘n stap verder te neem:
Waarom hoef ek dan hoegenaamd ‘n heilige lewe te lewe?
Dit maak mos dan hoegenaamd nie saak wat ek doen en hoe onheilig ek lewe nie!
Ek gaan mos beland waar ek gaan beland, of in die hemel of in die hel, al doen ek wat.
Waarom moet ek dan nog waak, omdat ek nie weet wanneer my Here gaan kom nie?

MAT 24:42-44
42  Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.
43 “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie.
44 Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

As ek nie ‘n eie vrye wil het nie, maak dit mos nie saak of ek waak of nie waak nie.  Wat gaan gebeur, gaan gebeur.  Ek gaan in die hemel of in die hel beland en niks wat ek doen, of nie doen nie, gaan dit verander nie, omdat ek gewoon nie ‘n wil het om dit mee te verander nie.

Maar nou werk dit so:

JOH 3:36  Wie (sy eie vrye wil gebruik en) aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; (omdat hy sy eie vrye wil gebruik en Jesus aangeneem het as sy Verlosser en Saligmaker) wie egter (sy eie vrye wil gebruik en) aan die Seun ongehoorsaam
is, sal die lewe nie ervaar nie, maar (as gevolg van sy eie vrye wil) die oordeel van (die regverdige) God rus op hom.”

Ek kon so nog baie voorbeelde genoem het maar ek volstaan dan met die voorbeelde uit die Woord wat ek nou met jou gedeel het.

Wat het ek dan nou vir jou probeer sê as jy dit afsny tot op die been?

Net dit – en die heilige Woord van God maak dit vir ons kinderlik maklik om te verstaan:
Ek het, omdat ek na God se beeld geskape is, ‘n eie vrye wil en deur besluite wat ek hierdie kant van die graf met my eie vrye wil maak, bepaal ek en net ek, waar ek die ewigheid gaan deurbring.

Ek sal nie eendag as ek voor God staan my vinger na iemand anders kan wys en sê:
“Daar staan die rede waarom ek nie kwalifiseer om saam met Jesus die ewige lewe deur te bring nie.”
Ek sal ook nie myself kan verdedig en sê:
“Maar Here, U het my nie ‘n keuse gegee nie, omdat ek nie ‘n wil van my eie gehad het wat hierdie saak aanbetref nie.”

ROM 14:11-12 
11 Die Skrif sê mos:
“So seker as Ek lewe,”
verklaar die Here,
“elke knie sal voor My buig,
en elke tong sal bely
dat Ek God is.”
12 Elkeen van ons sal dus (as gevolg van ons eie vrye wil) oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.

Die vraag dan vandag vir jou wie nou hier lees, is dit:

Het jy al jou eie vrye wil gebruik en Jesus aangeneem as jou verlosser en Saligmaker?

As jy onseker is of jy al daardie besluit geneem het, dan het jy nog nie daardie besluit geneem nie.
Maar jy kan vandag sekerheid kry en dit vir altyd hê dat jy dit gedoen het en dat jy nou, om dit so te stel, met jou hand in die hand van Jesus gereed is om eendag vir ewig by Hom, saam met Hom die ewigheid deur te bring.

Sê nou net met volle opregtheid in jou hart die volgende en voeg sommer jou eie woorde ook by:

“Here Jesus,
Ek besef dat ek tot nou toe nog oppad hel toe was, omdat ek nog nie my eie vrye wil waarmee U my geskape het, gebruik en besluit het om my rug op die wêreld te draai en U te volg nie.
Ek besef dat ek vol sonde en sonder U verlore en vir die hel bestem is.
Ek vra U vergewe my.
Ek wil U kind wees en ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker.
Amen.”

Nou soek jy ‘n Christen gemeente.
Woon een van hulle dienste by en reël ‘n ontmoeting met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.
As jy nie seker is van so ‘n ware Christen gemeente in jou omgewing nie, kontak my en ek sal probeer help.

Groete,
Sakkie