ONS ENIGSTE WEG NA REDDING IS DEUR JESUS CHRISTUS

ONS ENIGSTE WEG NA REDDING IS DEUR JESUS CHRISTUS.

Sakkie Parsons

Ek sit ‘n ruk gelede en ek dink hoe goed ons Here vir my is met die bure wat Hy my gegee het.
My bure links en regs en agter my is almal goeie en baie gawe mense.
Die mense voor my ken ek nie, want daar is ‘n groot oop stuk veld tussen ons, hulle woon in die volgende straat.
As dit egter al is wat van my en my bure gesê kan word:
“Dat ons goeie mense is, wat mooi en skoon lewens lewe.”
Dan is ek bevrees, is ons betreurenswaardige mense.

 Ek wil vandag graag met jou deel oor die vals persepsie dat om ‘n mooi en skoon en goeie lewe te lewe jou in die Hemel gaan bring.

Jy sien, as ek dink, dat as ek ‘n mooi en skoon en goeie lewe lei, ek op pad Hemel toe is, slaan ek die bal geheel en al mis.

As ek kan Hemel toe gaan omdat ek ‘n mooi en skoon en goeie lewe lei en goed doen aan ander mense, dan het Jesus verniet aan die kruis gesterf.
Dan is dit mos moontlik om sonder Jesus die Hemel in te gaan.

JESUS sê egter:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Let nou op wat Jesus nie gesê het nie.
Hy het nié gesê:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is ‘n weg en die waarheid en die lewe; …

Jesus sê ook nie:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is nog ‘n weg en die waarheid en die lewe; …

Nog minder sê Jesus:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is een van die weë en die waarheid en die lewe; …

JESUS sê:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Soos ek al so baie gesê het, sê ek nou maar weer – As Jesus sê:

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; …”

dan kan ek maar aanvaar, dat daar geen ander manier is om ‘n ware verhouding met God te hê, of om in die Hemel te kom nie.

Dan kan ek aanvaar dat geen goeie daad, of ander geloof, of wonderlike lewe, of wat ook al, gaan my daar kry nie.

Nou hoekom sê ek dit vir jou?

Want jy sien, baie ouers byvoorbeeld, dink omdat hulle kinders sulke wonderlike mooi lewens lewe, is hulle op pad Hemel toe.
Baie kinders dink, omdat hulle ouers sulke wonderlike mense is, is hulle op pad Hemel toe.

Dit maak nie saak hoe wonderlik my kind of my ma of pa of boetie of sussie of vriend of vriendin is nie, as hulle nie Jesus Christus aangeneem het, as hulle Verlosser en Saligmaker nie, is hulle op pad hel toe en as ek niks daaraan doen nie, dan staan ek aste ware en kyk hoe hulle op die hel afstorm.

Nou sê jy dalk en dalk met reg, dat jy nie met daardie geliefde kan praat nie.  Dalk kan jy nie, omdat jy nie die vrymoedigheid het nie.
Dalk het jy al gepraat maar dit help nie.
As jy alles gedoen het, wat jy van jou kant af kon doen, dan is daar nog een ding wat jy moet doen en wat jy daagliks moet doen en dit is om vir hulle te bid.

Want jy sien, daar is maar net één manier waarop ‘n mens ‘n kind van God kan word:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Die NLV stel dit so:

HAN 4:12  “Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.”

Enige ander manier wat reg lyk om by ons Here uit te kom, hoe mooi ook al, is maar net een van die baie paaie waarop satan mense verlei hel toe.

Daarom sê ons Here dan ook vir ons in Sy Woord.

Dit is JESUS wat hier praat:

JOH 10:9  “Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word…”

SPR 14:12  Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
                 

Groete
Sakkie