IS ONS HERE DIE SKEPPER VAN ALLE KINDERS WAT VERWEK WORD

IS ONS HERE DIE SKEPPER VAN ALLE KINDERS WAT VERWEK WORD?

Sakkie Parsons

Iemand het my ‘n vraag gevra, wat in kort hierop neerkom:  of ons Here werklik alle babas wat verwek word se lewens lank gelede vooruit beplan het.

Dan noem die persoon voorbeelde van dinge soos buite-egtelik, verkragting en kinders van mense wat ons Here nie geken of selfs nie wou ken nie, en omdat ekself in hierdie volgende kategorie val, sou ek nog mense wat met die een of ander gebrek gebore word, ook byvoeg.

Dit is dan hoe ek na hierdie saak kyk.  Ek lees die Woord kinderlik, soos ons Here wil dat ons Sy Woord moet lees. Hy sê mos:

MAT 18:2  “Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan
MAT 18:3  en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”

MRK 10:15  “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Dan, by geleentheid onderstreep Jesus as’t ware wat jy nou net gelees het as Hy sê:

MAT 11:25  “In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.”

Nou goed.

Eerstens laat die Woord my persoonlik in geen twyfel hoegenaamd nie dat ons Here die Skepper van alles in die heelal en daarom ook van elke mens is. Ons lees byvoorbeeld die volgende wonderlike waarheid:

JHN 1:3-5
3  “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

Hoe absoluut heerlik wonderlik is dit nie dat wanneer ons Here ons van die skepping van die mens vertel, dan sien ons dat ons Here die mens heel anders as die res van die skepping skep en geskep het:

GEN 1:26  “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
GEN 1:27  En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”

Daarom weet ek ook, dat wanneer ons Here ‘n mens skep, skep Hy elke deeltjie aan en in daardie mens, om ‘n presiese deeltjie van die groot geheel te wees. Die groot geheel waarvan ons net die heel kleinste deeltjie sien:

PSM 139:13-18
13  “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
14  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.
15  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
17  Hoe kosbaar is dan vir my U gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
18  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.”

Weet jy watter ander wonderlike heerlikheid sien ek nog in PSM 139:13-18?
Volgens wat ek hierdie gedeelte saam met die res van die Woord verstaan, het elke vrou wat al ooit ‘n miskraam gehad het, hierdie heerlike wonderlike wete dat, as gevolg van wat met haar gebeur het, is daar iemand in die Hemel, wat andersins nie daar sou gewees het nie.

Nou, omdat sonde die wêreld ingekom het, probeer satan hoofsaaklik deur die mens, om soveel as moontlik, ons Here se skepping te verwoes.

Dan kyk ons soms met ons klein, beperkte verstandjies na wat ons as ‘n gemors sien, en omdat ons, soos ek reeds gesê het, net die heel kleinste deeltjie van die groot geheel sien, bevraagteken ons die feit, of ons Here nog ten volle in beheer is. Kom ek wys jou ‘n voorbeeld uit die Woord van wat ek bedoel met die groot geheel. Lees gou hier:

MAT 1:1-16
1  Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:
2  Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers;
3  en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, en Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram,
4  en Ram die vader van Ammínadab, en Ammínadab die vader van Nagson, en Nagson die vader van Salmon,
5  en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai,
6  en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,
7  en Salomo die vader van Rehábeam, en Rehábeam die vader van Abía, en Abía die
    vader van Asa,
8  en Asa die vader van Jósafat, en Jósafat die vader van Joram, en Joram die vader van
Ussía,
9  en Ussía die vader van Jotam, en Jotam die vader van Agas, en Agas die vader van Hiskía,
10  en Hiskía die vader van Manasse, en Manasse die vader van Amon, en Amon die vader van Josía,
11  en Josía die vader van Jegónia en sy broers in die tyd van die Babiloniese ballingskap.
12  En ná die Babiloniese ballingskap het Jegónia die vader geword van Seáltiël, en Seáltiël was die vader van Serubbábel,
13  en Serubbábel die vader van Abíud, en Abíud die vader van Éljakim, en Éljakim die vader van Asor,
14  en Asor die vader van Sadok, en Sadok die vader van Agim, en Agim die vader van Elíud,
15  en Elíud die vader van Eleásar, en Eleásar die vader van Mattan, en Mattan die vader van Jakob,
16  en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.”

Iemand sal na hierdie 16 verse kyk en sê dat dit net ‘n lys van ‘n klomp name is, maar ek wil jou ‘n paar mense in hierdie lys wys wat, indien sommige mense wat vandag lewe daardie tyd sou gelewe het, hulle ook maar soos vandag, na die mense op hierdie lys en hulle omstandighede sou kyk en gewonder het of ons Here werklik nog in beheer is, maar Hy was, en is.

Ek dink Esau het soms, wanneer hy aan Jakob gedink het, gewonder wat ons Here besiel het om so ‘n skelm bedrieër te skep, maar Jakob was deel van ons Here se plan vir die redding van die wêreld en met ander woorde, ook die redding van jou en my:

MAT 1:2  “Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda …”

Dan is daar Salomo se ma Bátseba. As Dawid se buite-egtelike verhouding met haar nie plaasgevind het en sy verwagtend geraak het nie, sou Dawid nie met haar getrou het nie en sou Salomo nie gebore gewees het nie:

MAT 1:6  “… en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría, … “

Nou het ek nie eens iets oor Ragab gesê nie. Jy sien. Ons is mense en ons sien net ‘n baie, baie klein deeltjie van die prentjie maar dit is vir my persoonlik heerlik gerusstellend om te weet dat Hy die hele prentjie beplan en sien. So – al verstaan ek nou nie alles nie, weet ek dat ek in veilige hande is en dat ek ook eendag die lieflike prentjie in die geheel gaan sien:

1KOR 13:12  “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Daarom kan ons Hom met groot vrede vertrou en blindelings volg. Met die tong in die kies, in my geval het ek nog die eer om dit sommer letterlik en figuurlik te doen, (ek is fisies blind) terwyl ek onthou dat Hy vir ons sê:

JES 55:8  “Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE.”

Hoe absoluut wonderlik groot hierdie volgende gedagte. Elke ongebore en gebore kindjie behoort aan ons Here en die Hemel behoort ook aan hulle, totdat hulle die toerekenbaarheid ouderdom bereik, daarna besluit elke mens vir haar/homself waar sy/hy die ewigheid gaan deurbring:

MRK 10:13 “En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf.
MRK 10:14  Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”

Ek sluit af met die volgende.

Êrens tussen kindwees en volwassenheid, kom daar ‘n dag wanneer die mens voor ons Here self toerekenbaar word vir haar/sy doen en late en daar na, met haar/sy wil waarmee ons Here haar/hom na ons Here se beeld geskape het, kies sy/hy om Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker, of om dit nie te doen nie.

Tot daardie tyd, in elke mens se lewe egter, soos ek die Woord verstaan, is elke kind ‘n outomatiese kandidaat vir die Hemel:

MRK 10:14  “Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”

MAT 18:3  “ … en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”

Hoe absoluut wonderlik!

Nie net is alle kinders wat verwek word, die skepping van ons Here nie, maar wanneer ons Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker, dan maak dit nie saak of ek buite-egtelik, of wat ook al, by geboorte gewees het nie:

2KOR 5:17  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. “

Groete
Sakkie