ONS HERE GAAN AAN JOU GODDELIKE STATUS GEE
Sakkie Parsons
Toe ek nou weer lees wat in 1Johannes 3 deur Johannes onder leiding van die Heilige Gees aan jou en my vertel word, het daar weer so ‘n groot opgewondenheid in my opgekom en ek wil dit wat ek weer opnuut aan gedink het, graag met jou ook deel.
Lees net gou die volgende gedeelte:
1JHN 3:1 Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
1JHN 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
1JHN 3:3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.
Jy weet my kinders is nie sommer kinders nie, hulle is in my oë baie besóndere
kinders, so besonders, daar is in my hart nie nog sulke kinders op aarde nie. Ek sal
waar dit in my mensheid moontlik is, doen wat ek kan om hulle te help en of by te
staan.
By geleentheid het Jesus vir ons gesê.
Mat 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!
Soms word ons so getrap, sê nou maar by die werk of deur mense wat veronderstel
is om lief vir ons te wees, dat ons baie keer letterlik dink: “Ek is sommer gemors.”
Baiekeer is die trapwerk juis die gevolg van omdat jy jou kindskap uitlewe.
Ek weet ek het dit baie in my eie lewe belewe. Geen wonder dan ook, dat Johannes in dieselfde vers waar hy van ons kindskap van ons Here praat, jy kan maar sê, in dieselfde asem ook noem dat ons probleme met mense wat nié ons status het nie, gaan hê.
1JHN 3:1 Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
Net nadat Johannes ons duidelik laat verstaan het, dat as kinders van ons Here, ons
nou nie juis deur die wêreld omhels gaan word nie, sê hy na my mening iets so
fenomenaal, dat ten minste wat my betref –
“It boggles the mind.”
Eers benadruk hy weer, dat ons kinders van ons Here is – en dan sê hy vir ons wat
ons Here se grootse heerlike plan met ons, Sy kinders is:
1JHN 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
Dink net wat beteken dit.
1JHN 3:2 … maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees…
Ons gaan aan Jesus gelyk wees – en wie is hierdie Jesus aan wie ons gelyk gaan
wees?
Die Woord sê van Hom –
JHN 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Ons Here gaan aan jou goddelike status gee.
Geen wonder dat Petrus by geleentheid in sy gees na die mense vir wie hy skryf
gekyk het – en toe vir hulle skryf:
1PET 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
So, as mense jou verkleineer, veral vanweë jou Christelike status. Onthou dan:
“So what!”
Jesus sê, dat hulle dit met die heiliges voor jou ook gedoen het:
Mat 5:11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.
Mat 5:12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
Kom ons bly wandel net in die weë van die Here, soos Johannes sê dat ons moet
doen, net nadat hy vir ons vertel het dat ons goddelike status gaan kry.
1JHN 3:3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.
Natuurlik het hy ook geweet waarvan hy praat. Want, hy was mos daar by Jesus toe
Jesus gesê het –
Mat 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Ek weet verseker nie watter wonderlike dinge alles op ons wag wanneer ons, ons
goddelike status gekry het nie, of dan wanneer ons aan Jesus gelyk gaan wees nie –
maar ek het ‘n idee wat van ons eerste take gaan wees:
1KOR 6:2 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? …
Nog ‘n deel van daardie eerste dinge wat ons gaan doen wanneer ons met ons nuwe
status beklee is, is die volgende:
1KOR 6:3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, …
So, heilige van God, wat Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker –
Ons Here sê vir jou:
JHN 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Groete,
Sakkie