ONS HET DIE VREDE VAN GOD, WAT ALLE VERSTAND TE BOWE GAAN

ONS HET DIE VREDE VAN GOD, WAT ALLE VERSTAND TE BOWE GAAN

Sakkie Parsons

‘n Paar mense het by geleentheid aan my geskryf en gevra of ek nie iets wil skryf oor die omstandighede in Suid-Afrika en al die siek valse bangmaak stories wat so van tyd tot tyd oor die Internet gestuur word nie.
Dit was juis toe daar weer so ‘n siek valse e-pos die rondte gedoen het.

Hier is dan hoe ek dinge beleef en ervaar:
Die eerste verstommende ding wat vir my uitstaan in die huidige omstandighede in Suid-Afrika, is die vrees wat daar onder baie mense is wat hulleself Christene noem.
Daar is ‘n sekere faksie onder die Christene in Suid-Afrika, so lyk dit vir my, wat in alles net “doom” en “gloom” sien.
Ek lees in die Woord:

2TIM 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

Ek merk ook as ek so na die “doom” en “gloom” Christene luister, dat daar ook ‘n groot mate van onvergenoegdheid in hulle is.  Natuurlik is dit nog iets wat nie by ‘n Christen aanwesig behoort te wees nie.
Oor die onvergenoegdheid wat onder sommige Christene is wil ek maar net sê, dat die Woord vir my sê dat ek met Jesus inwonend in my, die volgende behoort te ervaar in my lewe:

FIL 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Nou sê ek nie alles gaan maanskyn en rose wees nie maar met my oë op Jesus het ek heerlike vrede, goddelike vrede en kan ek my omstandighede uit daardie oogpunt benader en heerlik hanteer.

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Immers het ons Here vooruit vir ons gesê dat ons reis deur hierdie wêreld nie maanskyn en rose gaan wees nie.

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Ek sê ook nie dat ons nie moet werk, (party sal dit selfs veg noem), vir wat ons as belangrik in hierdie wêreld beskou nie – maar as ek aan daardie dinge meer aandag gee as wat ek aan my verhouding met ons Here en Sy koninkryk gee, het ek, soos ek die Woord verstaan, nodig om weer na my verhouding met ons Here te kyk.  Want ek is besig om in ‘n rigting te beweeg, wat letterlik, as ek nie iets daaraan doen nie, later in die hiernamaals ‘n helse probleem vir my kan word.

Nou wil ek iets sê oor al die bangmaak stories wat so oor die Internet gestuur word.

Dit is vir my tragies dat baie, amper wil ek skryf die meeste, van hierdie bangmaak stories, word deur mense geskryf wat hulleself Christene noem.
Soms as ek lees wat mense uitdink, sê ek vir myself, dat na my mening die persoon wat dit geskryf het, of ‘n baie verwronge sin vir humor het, of werklik geestelik siek moet wees.
Kom ons kyk na byvoorbeeld die geval van "die nag van die lang messe".
Ek gebruik maar die een, omdat hy maar kort-kort weer sy verskyning in die een of ander siek vorm maak maar jy weet self, dat ek kon uit ‘n magdom ander gekies het.
Iemand êrens het in die woorde "die nag van die lang messe", so lyk dit vir my, ‘n siek sentimentele romantiek gesien/ervaar en toe dit gebruik om, na my mening ‘n bangmaak storie vol allerlei drek te skryf.

Kom ek vertel gou vir diegene wat nie weet nie waar 'die nag van die lang messe' sy oorsprong het.
Ek kon nou baie oor “die nag van die lang messe” gesê het maar in baie kort net die volgende.

Soos dit nou maar gaan met diktators. Hulle loop altyd met ‘n vrees rond dat hulle omver gewerp gaan word en met Hitler was dit ook nie anders nie.  Hy, Hitler het die
SA wat later, wat mannekrag aanbetref, sterker gewees het as die weermag begin vrees.
Met bangmaak aanmoediging het mense soos Himmler Hitler sover gekry, dat Hitler sy grootste aanhanger, naamlik Ernst Röhm, die leier van die SA, met Ernst Röhm se
hele leierskorps en ‘n hele klomp ander in die nag van 29/30 Junie 1934 vermoor in wat Hitler “die nag van die lang messe” genoem het.

Nou het iemand met, na my mening, ‘n geestelike probleem iets van “die nag van die lang messe” êrens gehoor of gelees en dit nou as ‘n bangmaakstorie gebruik om die
arme gene, wat maklik vreesagtig word op hol te jaag.

Persoonlik kan ek nie, al probeer ek hoe hard, enige leier in die ANC of enige ander regdenkende leier, in enige ander realistiese politieke party in Suid-Afrika,
vereenselwig met wat ook al van Hitler nie.

Ek sluit natuurlik nie die Duitse volk in as ek van Hitler en of sy boosheid praat nie.

Ek kyk so na die lewe om my en ek probeer na die beste van my vermoë so te lewe:
Ons Here het my in hierdie land geplaas.  Ek het geen sê in die saak gehad nie.  Dit was die wonderlike besluit van ons Here.
So, solank as wat ons Here wil dat ek hier lewe en vir Hom lewe en werk, sal ek hier met die heerlike vrede wat Hy my gee dit vir Hom doen.

Te veel van ons het te min vertroue in ons Here en ons wil te veel dinge liewer op óns manier doen.

Soos die Pastoor wat vir my gesê het dat hy soms sal lieg as die omstandighede dit vereis. Toe gee hy my ‘n paar voorbeelde wanneer hy sal lieg en die groot tragedie
was, dat in elke een van daardie voorbeelde kon ek sien, dat hy sou lieg, omdat hy eintlik nie genoeg geloof gehad het om ons Here te vertrou om hom sonder sy leuen te
help nie.

Luister my vriend/vriendin –

FIL 1:6  omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

Ons Here het jou hier geplaas, laat jou lewe hier vir Hom ‘n getuienis wees, totdat ons Here anders sou besluit.

Ek pleit by jou my vriend/vriendin, dat voordat jy ‘n e-pos uitstuur, vra jouself hierdie vraag:
“Sal Jesus hierdie e-pos uitstuur?”

Dan dink jy aan die volgende uit die Woord, voordat jy besluit om te stuur, of nie te stuur nie.
Net nadat ons in die Woord lees.

FIL 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Lees ons – en ek wil jou mooi vra om te dink wat in ons Here se Woord geskryf staan voordat jy daardie e-pos uitstuur.

FIL 4:8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Dan, met dit wat jy as kind van God nou net gelees het, besluit jy om daardie e-pos te stuur, of nie te stuur nie.
Terwyl jy ook altyd onthou, dat ons vrugte moet dra wat by die bekering pas.

MAT 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
MAT 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.

MAT 7:19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

MAT 3:8  Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

My vriend/vriendin, kyk om jou en raak baie opgewonde.  Want jy sien alles wat moet gebeur wat sê, dit is amper tyd, dat Jesus ons kom haal.

LUK 21:25-28 
25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,
26  en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.
27  En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid.
28  En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.

Dink daaraan –
Toe jy vanoggend opgestaan het, was dit nog een slapie minder, voordat Jesus ons kom haal.

“If I believe it, then I must live it.”

Groete,
Sakkie