ONS HET HIERDIE SEKERE WETE

ONS HET HIERDIE SEKERE WETE!

Sakkie Parsons

Iemand het vir my geskryf en met my gepraat oor hoe ons Christene soms versoek en in hartseer en lyding gedompel word.

Dit is hoe ek na hierdie dinge kyk as dit my pad langs kom.
Eerstens, ek is God se kind en nie sommer net kind nie.

ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ons is ook nie net God se kinders en mede-erfgenaam saam met Jesus nie, nee! Ons is Sy broers/susters.

MAT 12:50  Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.

Ons Here dink soveel van jou en my, Sy kind, Sy broer/suster dat Hy ons nie net mede- erfgename saam met Jesus gemaak het nie maar dat Jesus ook bereid was om vir jou en my Sy vriende te sterf en Hy sê vir jou en my van dit wat Hy vir ons gedoen het:

JHN 15:13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

Jesus sê vir jou en my God se kinders:
Jy Jesus se broer/suster, mede-erfgenaam en vriend/vriendin, moet weet, dat satan ons met mag en mening sal toetakel maar dat ons verseker kan weet:
 
1KOR 10:13  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Asook:

JAK 1:2-4 
2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,
3  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

Daarom kan ons in die gees regop staan, ons skouers terug trek en aan die wêreld hierdie getuienis gee:

2KOR 4:8  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;
2KOR 4:9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.

Want jy sien, ons God, Hy wat ons Sy kinders noem – Hy wat ons mede-erfgenaam van Jesus gemaak het, Hy wat ons Sy broer/suster noem, ons Vriend, wat bereid was om vir ons te sterf, Hy sê:

LUK 12:4  En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;
LUK 12:5  maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!

Want sien, ons, Sy kinders, Sy broers/susters, Sy mede-erfgenaam en vriend, weet, ja! Ons het hierdie sekere wete!

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

So, jy kan met heerlike opgewondenheid in jou hart vandag hierdie eenvoudige maar baie, baie waar koortjie sing:

Ek is op my pad Hemel toe, Ek is op my pad Hemel toe.
Singend, singend, altyd singend, ek is op my pad Hemel toe.

Groete,
Sakkie