ONS HET ‘N WIL VAN ONS EIE ONTVANG

ONS HET ‘N WIL VAN ONS EIE ONTVANG.

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, waarom mense wat nie Christene is nie, soms net sulke mooi en in baie gevalle beter lewens leef as baie Christene.
Wie lei hulle?

Dit is dan in kort hoe ek hierdie saak sien:

Die mens is na God se beeld geskape en twee van die eienskappe van God wat elke mens het is die volgende.

Die eerste is dit: 
Ons Here is onsterflik.  God kan nie dood gaan nie.  Hy lewe vir ewig.
Jy en ek kan ook nie dood gaan nie.  Ons liggame gaan tot niet maar jy en ek leef vir ewig en ons gaan die ewigheid, of in die Hemel, of in die Hel deurbring.

Die tweede eienskap van ons Here wat jy en ek het en dit is na my mening wat hier ter sprake kom, is ‘n wil van ons eie.
Soos ons Here kan ons ‘n besluit neem.

Of ek ons Here ken of nie, ek het ‘n wil wat God my gegee het, omdat ek na Sy beeld geskape is.   Ek kan en gaan hierdie wil uitlewe soos ek besluit om te doen en die persoon wat nie ‘n belydende Christen is nie, besluit soms met hierdie Goddelike wil sonder dat hy selfs weet dat hy hierdie Goddelik wil het, om te doen wat goed is.

ROM 2:14  Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ‘n wet.
ROM 2:15  Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan.  Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek.

Jy sien, God gaan nie inmeng met jou en my wil om Hom te volg of goed te
doen nie, alhoewel Hy wil hê dat ons almal in die Hemel by Hom moet wees.

JHN 1:12  Aan almal wat hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Tog getuig Jesus self, alhoewel soos ons gesien het, dat Hy dit anders wil hê:

MAT 7:13  “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne.  Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.
MAT 7:14  Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie!  Min is die mense wat dit kry!”

Uiteindelik egter, so dink ek, is dit nie hoeveel beter die een of die ander om my is nie – maar wat sien die mense as hulle na my kyk.

As ek sê, dat ek God se kind is, moet die mense om my die familie ooreenkoms kan sien.

GAL 3:26  Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.
GAL 3:27  Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal.

Groete,
Sakkie