ONS HET NOU VRYE TOEGANG TOT DIE ALLERHEILIGSTE

ONS HET NOU VRYE TOEGANG TOT DIE ALLERHEILIGSTE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek som sy vraag aan my so op:

“Ons weet dat die Ark ‘n hele paar keer rond geskuif is en weet nie of daar bewyse is van waar hy laaste was of is nie.”

Volgens wat ek die Woord lees, lees ons die laaste keer van, om dit so te stel, van Moses se ark in 2 Kronieke 35.

2 KRO 35:3  Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die HERE, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die HERE julle God en sy volk Israel;

Soos ek die Evangelie van Jesus Christus en Sy Nuwe Verbond verstaan, maak dit regtig nie saak waar die ark was, of waar hy nou is, as hy nog êrens is nie.

Wat, om dit so te stel, wel saak maak is dat die Voorhangsel van bo tot onder geskeur het en dat ons nou self toegang het tot die Allerheiligste en self met ons Here kan praat oor ons sonde en al ons ander omstandighede:

MAT 27:50  Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee.
MAT 27:51  En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

Nou kan ons, omdat Jesus vir ons op Golgota Homself geoffer het:

1KOR 5:7  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
1KOR 5:8  Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Nou het ons Jesus ons Hoëpriester wat vir ons intree by die Vader:

HEB 4:14-16 
14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Nou – en laat ek dit net weer sê, maak dit nie saak waar Moses se ark is, as dit inderdaad nog êrens is nie.
Christus is in my en ek is ook, om dit so te stel, met Hom aangetrek.

So, van binne en van buite is ek toegerus om self in die Allerheiligste na my God te gaan.

Van binne:

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Van buite:

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Ongelukkig is dit ook so, dat baie mense vir Jesus sê: “Here, Here” – Maar die voorhangsel van die Ou Verbond het nog nie in hulle harte van bo tot onder geskeur, sodat hulle regtig geestelik kan ingaan in die Allerheiligste  en so persoonlik met ons Here kommunikeer nie.

Hulle soek nog na hierdie en gaan kyk nog na daardie en klou nog aste ware krampagtig vas aan dinge uit die Ou Verbond en is uiteindelik geestelik self; nog vis, nog vlees.

Van hulle kan gesê word, daarom staan dit vir ons as voorbeeld van Israel in die Nuwe Testament opgeskryf:

2 KOR 3:14-17 
14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.
15  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart;
16  maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.
17  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.

Nou sê ek natuurlik nie iemand gaan hel toe as hulle die ark, Moses of Noag s’n, of enige iets anders soek, of dit wat reeds gevind is wil gaan besigtig nie.

Ek noem net, dat nie een van die dissipels ooit byvoorbeeld:
Mense aangemoedig het om na Jesus se graf te gaan kyk nie, of die Nagmaalbeker wat Jesus gebruik het, rondgestuur het en ja selfs nie eens mense aangemoedig om na Golgota te gaan, of Jesus se grafdoeke rondgestuur het nie – gewoon omdat dit nie deel van die wyse is waarop die Evangelie van Jesus Christus verkondig moet word nie.

Ek moedig graag mense aan om die Evangelie te verkondig soos ons dit van Jesus self en deur sy apostels van Hom ontvang het:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Volgens wat ek die Woord verstaan is die kriteria wat gebruik moet word:
Die Woord, nét die Woord en niks anders as die Woord en dit wat in die Woord vir ons, Sy volgelinge  voorgeskryf word nie:
Dit is die ryk man in die hel wat hier eerste praat en onthou nou, dat dit Jesus is wat hierdie gebeurtenis met ons deel:

LUK 16:27-31 
27  En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
28  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; (dit was die Bybel vir die mense van die ou testament) laat hulle na dié luister.
30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode (sjoe! Wat ‘n grootse wonderteken) na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete (die Bybel in daardie tyd tot hulle beskikking) nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Jesus sê hier:
As jy gister by iemand se begrafnis was en hy kom vandag na jou en sê, dat hy uit die dood terug gekom het om jou te vertel dat jy jou moet bekeer en jy glo nie dit wat jy in die Woord lees nie, sal jy jou nie werklik bekeer nie.
Jy mag verstom wees.
Jy mag selfs rondgaan en mense vertel wat jy belewe het en hulle met groot ywer vertel dat hulle hulleself moet bekeer – maar volgens Jesus sal dit alles net vir ‘n tyd wees, wat selfs jare mag duur maar werklik bekeer, sal jy volgens Jesus jou nie werklik bekeer nie.
Want:
Net die Woord, níks anders as die Woord, want dit is ons Here se eie woorde waarmee Hy Sy Evangelie na ons bring, sal jou tot Hom bekeer.
My groot held Paulus lig hierdie wyse van die verkondiging van Jesus Christus se Evangelie só uit as hy skryf en ek kwoteer hier ‘n ouer Vertaling:

1KOR 2:1  En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid (ook nie die wysheid van allerlei tricks of foefies) nie,
1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. (Sy woord, net Sy Woord en niks anders as net Sy woord en dit wat Hy vir ons in Sy Woord voorskryf nie.)

Kom jy en ek verkondig Sy Woord op hierdie wyse.  Terwyl ons deur ons woorde en ons lewe, ek het amper geskryf, deur verál ons lewe dit teenoor die wêreld uitjubel:

ROM 1:16  Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo …

Groete,
Sakkie