ONS LIGGAAM, ONS SIEL EN ONS GEES – DEEL 1

ONS LIGGAAM, ONS SIEL EN ONS GEES – Deel 1

Skrywer:  Sakkie Parsons

In hierdie skrywe van my aan jou hanteer ek twee vrae wat aan my gevra is, in een antwoord.

Iemand het my gevra of ek die verskil tussen ons siel en ons gees kan verduidelik en iemand het aan my geskryf en gevra of ons fisiese liggame na die beeld van God geskape is, en as dit so is, wie is dan na God se beeld geskape met die groot verskeidenheid van nasies met hulle eie kenmerke in gedagte.

Ek begin dan om die tweede vraag eerste te antwoord en wil my antwoord op so ietwat van ‘n ligter noot begin.

Jou en my fisiese liggaam het eintlik niks met ons, om dit so te stel, beeldskap van ons Here te doen nie.

So met ‘n glimlag. As dit so was, was ek nie na ons Here se beeld geskape nie, want God is nie blind nie maar ek is.

Ons liggame is maar net soos die Woord dit noem, ‘n tentwoning waarin ons woon.

2KOR 4:16-18
16 “Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, (ook ons liggaamlike gebreke en ja, selfs ook die oudword-proses) maar dit bewerk vir ons 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

2KOR 5:1 “Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net 'n tentwoning is, afgebreek word, ons 'n permanente blyplek by God het, 'n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.”

In ‘n ouer vertaling lees 2KOR 5:1 as volg:

2KOR 5:1  “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”

Jy – wie binne in daardie liggaam is, keer ook uit eindelik terug na God en jou liggaam, of dan tentwoning, bly hier agter en word maar weer soos die stof van die aarde:

PRE 12:7  “… en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”

Uiteindelik gaan jou en my liggaam, hou oud of jonk, hoe heel of hoe gebroke en ja, hoe lig of hoe donker, maar weer terug na die aarde:

GEN 3:19  “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Jy en ekself, sal egter die hiernamaals, òf die hemel òf die hel intree en die besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring, lê geheel en al by ons. Ons Here het klaar gedoen wat gedoen moet word om ons in die Hemel te kry:

JOH 3:16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.”

Ons besluit egter self of ons Hom gaan aanneem as Verlosser en Saligmaker of nie:

JOH 1:12 “Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

JOH 3:18 "Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”

In my volgende skrywe in hierdie kort reeks van 3 gedagtes uit die Woord, deel ek met jou oor ons siel, maar om dan wat ek in hierdie skrywe aan jou geskryf het, af te sluit –

Jy en ek kan nie vir ons ‘n plek in die hemel koop of verdien nie, Jesus het reeds op Golgota alles gedoen wat gedoen moes word, om ons daar te kry:

JES 53:5  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
JES 53:6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

Ja, Hy het alles klaar gedoen wat gedoen moes word en toe gee Hy ons ook nog hierdie heerlike versekering:

JOH 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak.
JOH 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Ja, ons pad na die hemel lê oop voor ons maar besluite wat ek hier op aarde neem terwyl ek in hierdie liggaam/tentwoning op pad na die hemel is gaan bepaal of ek die hemel gaan instap.

Dit is my besluit of ek Jesus Christus gaan aanneem as my Verlosser en Saligmaker of nié, en as ek Hom aangeneem het, hang dit van my af of ek end-uit by daardie besluit gaan bly en of ek, soos Judas en so baie ander, my rug voor die einde van my reis op hierdie aarde op Hom gaan draai en weer van die nou weg na die breë weg, hel toe gaan beweeg.

Kom jy en ek volg die raad in hierdie verband wat ons Here vir ons in Sy Woord laat skryf het, vir solank ons nog in hierdie liggaam reis op ons pad hemel toe:

HEB 12:1-3
1 “Met so 'n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag,
veral die sonde wat so maklik 'n houvas op 'n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
2 ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het,
die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
3 Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.”

Groete,
Sakkie