ONS LIGGAAM, ONS SIEL EN ONS GEES – DEEL 2

ONS LIGGAAM, ONS SIEL EN ONS GEES – Deel 2

Skrywer:  Sakkie Parsons

 

In hierdie skrywe wil ek graag met jou deel oor die siel van die mens, soos wat ek dit uit die Woord verstaan.

Dan wil ek begin deur te sê: Daar is diegene wat redeneer dat die siel en die gees een en dieselfde is.

Nou sê ek nie dat jy hel toe sal gaan as jy so glo nie, maar soos ek die Woord in die geheel verstaan, is daar tog ‘n verskil.

Ons lees byvoorbeeld, en hier gebruik ek ‘n ouer vertaling omdat die meeste vertalings wat ek ken, hierdie gedeelte so vertaal:

HEB 4:12  “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

Ek het nie ‘n siel nie, ek ís ‘n siel wat ‘n liggaam het waarin ek leef.

Hierdie liggaam is soos ek jou in my vorige skrywe gewys het, om dit so te stel, ‘n tentwoning/voertuig, wat ons Here aan my toevertrou het en waarmee Hy wil dat ek deur hierdie lewe tot by die Hemelpoort sal reis – 

Tensy ek, wie die siel in hierdie liggaam is, in hierdie tentwoning/voertuig, verkies om liewer na die hel te reis.

Een ding staan soos ‘n paal bo water en dit is dat jy en ek eendag hierdie liggaam gaan verlaat, en omdat ons Here ons na Sy beeld geskape het, is een van ons eienskappe wat ons van alle ander lewende wesens onderskei, dat jy en ek ‘n siel is wat nooit, maar nooit weer, dood of tot niet, of wat jy dit ook al wil noem, kan gaan nie.

My siel gaan verseker eendag hierdie liggaam verlaat en ‘n voorbeeld dat dit verseker so gaan gebeur, lees ons byvoorbeeld in Gen 35:18, toe Ragel by geboorte van haar seun gesterf het:

GEN 35:18  “En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.”

Nog ‘n pragtige voorbeeld uit ‘n hele paar wat ek jou kon voorgehou het, is die volgende:

PSM 16:10 “…  want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.”

Dink ‘n bietjie na oor hierdie grootse werklikheid:  Elke mens wat ooit gelewe het, lewe op hierdie oomblik êrens.

Óf die persoon is in die hemel by ons Here waar hy wag om eendag beoordeel te word.
Let op dat ek gesê het, “beoordeel te word” en nie “veroordeel te woord” nie. Want vir ons wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, is daar geen veroordeling nie:

ROM 8:1 “Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.”

Wat ons Here aanbetref het ons, om dit so te stel, klaar ewige lewe status:

JOH 5:24 "Dit verseker Ek julle, wie My woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

Hoe kan ek so seker wees dat almal wat hulle tot ons Here bekeer het, en Hom tot die einde van hulle lewe hier op aarde gevolg het, nou al klaar in die Hemel is?

Wel, ek deel met jou twee gedeeltes uit die Woord, en besluit jy dan maar self of dit wat ek sê, meriete het.
Die eerste voorbeeld wat ek nou hier wil gebruik om te wys waar Jesus se volgelinge na ons uittrede uit hierdie lewe gaan wees, of anders gestel, as jy wil, wat met ons gaan gebeur wanneer ons die tydelike met die ewige verwissel, is van die man wat aan die kruis langs Jesus hang en vir Jesus vra om aan hom te dink wanneer Jesus in Sy koninkryk is. Dan antwoord Jesus hom:

LUK 23:43 “Jesus se antwoord was: "Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees."

Soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer. As Jesus sê “vandág,” dan kan jy maar weet, dit is “vandag.”

Die tweede voorbeeld wat ek met jou wil deel, is die woorde van my groot held Paulus, vir wie Jesus vertrou het om die grootste gedeelte van die Nuwe Testament te skryf, so hy sal darem seker onder leiding van die Heilige Gees sekerheid hê oor wat hy sê:

FIL 1:23  “Ek is in ‘n tweestryd.  Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.”

As jy nie in die eerste groep is nie, wel, dan is jy in die ander groep wat in die hel se tronk sit en wag om voor die Regter te verskyn en jou vonnis aan te hoor, van ewige gevangenskap in die helse tronk.

Laat ek verduidelik wat ek bedoel, hoe dit werk.

As jy in hierdie lewe op heterdaad in ‘n misdaad betrap word, word jy gearresteer en in die tronk gegooi totdat jy in die hof voorkom. Jy ervaar dus alreeds die ongerief ens. van ‘n tronk, wat jy verder gaan ervaar, na jou skuldigbevinding.

Dan beland jy later in ‘n hof.  Daar word jy verhoor, gevonnis en vir ‘n tydperk tronk toe gestuur, maar voor jou vonnis was jy al reeds vir ‘n tyd lank in die tronk en het jy alreeds die ongerief ens. van ‘n tronk ervaar, al was jy nog nie skuldig bevind nie. Al wat in die hof gebeur het, was dat jy kans gekry het om jou kant van die saak te stel en jy het gehoor hoekom jy in die tronk was en hoe lank die toestand nog gaan voortduur. Lees gou hier dan verduidelik ek verder:

JUD 1:6 “En wat van die engele wat hulle nie gehou het by hulle perke van gesag nie, maar hulle eie woonplek verlaat het? God het hulle met ewige kettings in die donker onder bewaking gehou vir die oordeelsaankondiging op die groot dag.”

Die gevalle engele het, omdat ons Here Alwetend en Alomteenwoordig is, jy kan maar sê, reg voor Sy oë, gedoen wat hulle gedoen het. Hulle is op heterdaad betrap en in die tronk gegooi. Daar bly hulle nou totdat hulle voorkom om hulle straf te ontvang.

Net nadat ons van die gevalle engele in JUD 1:6 gelees het en wat met hulle gebeur het, lees ons in die volgende vers naamlik JUD 1:7:

JUD 1:7 “Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur.”

Let nou op. Daar staan nie dat hulle die straf ”ondergaan het nie.”

Daar staan ook nie dat hulle “die straf sál ondergaan nie.” Daar staan:

JUD 1:7 “… As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur.”

Hulle is reeds besig om die straf te ondergaan.

Omdat hulle, wat ons Alwetende, Alomteenwoordige Here aanbetref, soos die krimineel, op heterdaad betrap was, sit hulle klaar in die tronk en ervaar reeds wat hulle na hulle hofsaak en vonnis vir ewig gaan ervaar.

Ek sluit hierdie skrywe eerstens af met hierdie vraag:

Waarheen is jy, siel, op hierdie oomblik, op pad, terwyl jy deur hierdie lewe na jou eindbestemming reis?

Tweedens sluit ek af met hierdie stuk goeie raad uit die Woord vir elke siel wat Jesus Christus aangeneem het:

JAK 1:21 “Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red.”

‘n Ouer vertaling stel hierdie gedeelte so:

JAK 1:21  “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.”

Groete,
Sakkie