ONS SAL NET SOOS JESUS WEES

ONS SAL NET SOOS JESUS WEES

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra die volgende:
“Groei kinders in die hemel?”

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk:
Die Woord gee ons nie ‘n direkte antwoord op hierdie vraag nie.  Daarom moet ek  antwoord dat ek nie klinkklare bewyse het van hoe ons gaan verander as ons aan die anderkant van die graf arriveer nie.
Dit gesê, wil ek tog met jou ‘n gedeelte uit die Woord deel wat, so lyk dit vir my, die sluier rondom hierdie vraag lig maar voordat ek daarby kom, net die volgende:

Daar is by my absoluut geen twyfel nie dat alle kinders wat nog nie die toerekenbaarheid stadium in hulle lewens bereik het nie en gesterf het, by ons Here in die Hemel is.
Die toerekenbaarheid ouderdom, soos ek dit verstaan, is sodra ‘n kind daardie stadium in sy/haar lewe bereik het, dat die persoon ‘n keuse vir of teen ons Here kan maak en onthou, om nié te kies nie, is om téén ons Here te kies.  Want, wie nie vir Jesus is nie, is teen Hom.  In die verband lees ek:

MAT 12:30  Wie nie aan my kant is nie, is teen My.  En elkeenwat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

Om terug te kom na wat ek gesê het; dat alle kinders wat nog nie toerekenbaar is nie en sterf, dat hulle in die Hemel is.
Jesus sê in die verband byvoorbeeld:

MAT 18:1-4 
1 In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag:  “Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?”
2  Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
3  Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie. 
4 Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk.

Is dit nie wonderlik nie?
Toe hulle wou weet wie die grootste is, toe wys Jesus hulle ‘n klein kindjie.

Om terug te kom na die vraag hier bo wat aan my gestuur was:
“Groei kinders in die hemel?”
In wat ek nou gaan sê, moet jy asseblief in gedagte hou – dit is net my opinie.
My groot held Paulus sê by geleentheid nadat hy ‘n stelling gemaak het:

1KOR 7:40  Ek is egter van opinie … En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is..

So in hierdie geval sê ek ook maar:
Ek is van opinie..  En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

Ons lees in die Woord:

1JHN 3:2  Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie.  Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn.  Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

As ons wat nog in hierdie lewe is wanneer Jesus gaan verskyn, “net soos Hy sal wees” is dit vir my net logies dat iemand wat Jesus aan die anderkant van die graf ontmoet, ook net soos Hy sal wees en dit geld na my mening vir babas reg deur tot by die oudste persoon wat as kind van ons Here aan die anderkant van die graf vir Jesus ontmoet.

Dus – Nee, ek glo nie babas groei aan die anderkant van die graf nie – hulle is net soos  Jesus.  Net so word bejaarde mense ook nie geleidelik jonger nie.  Hulle is net soos Jesus – volmaak, perfek, regverdig, triomfeerlik.

Wat en hoe dit plaasvind weet ek nie maar die verandering gaan plaasvind.

Dit geld na my mening vir alle kinders van ons Here.  Ook hulle wat byvoorbeeld wreed vermink, verbrand, deur wilde diere opgevreet of soos ek wat blind is, ‘n gebrek het.

Prys die Here!
Ons sal soos Hy wees!
Dit is hoe ek die Woord na aanlyding van 1JHN 3:2 verstaan.

Hoe heerlik om daardie ou koortjie te kan sing:

When we all get to Heaven,
What a day of rejoicing that will be.
When we all see Jesus,
We’ll sing and shout the victory.

                 
Want my vriend/vriendin ons sal nie meer babas,oumense, vermink, gestremd, of wat ook al wees nie!
Ons sal volmaak net soos Jesus wees!

Kyk hoe word die woord ‘volmaak’ in Engels beskryf:
Excellence;
Faultlessness;
Rightness;
Precision;
Flawlessness;
Aptness;
Victory;
Completion
Triumphant

Uiteindelik en hoe heerlik, is dit al wat saak maak.

Wat gaan gebeur en hoe dit gaan gebeur weet ek natuurlik nie maar dit gaan ‘n heerlike wonderlike verrassende gebeurtenis wees.                 

Groete
Sakkie