ONS SIEN UIT NA ‘N NUWE HEMEL EN ‘N NUWE AARDE

ONS SIEN UIT NA ‘N NUWE HEMEL EN ‘N NUWE AARDE

Sakkie Parsons

Iemand skryf vir my as volg:
“Hallo,
Can you help me about end times – And amegedon battle.”

Daar is natuurlik ‘n wye verskeidenheid opinies oor hierdie twee gebeurtenisse.  So, wat ek met jou deel is net een van die sienswyses, die een wat ek glo die naaste aan dit is van wat die mens kan verwag maar selfs in hierdie sienswyse is daar baie dinge waaroor ek nie so seker is, soos van die mense wat dit onderskryf nie.  Daarom deel ek met jou net dit waaroor ekself geen twyfel het nie.

Ek het reeds met jou by ‘n vorige geleentheid oor ‘Armagéddon’, of dan ‘die slag van Armagéddon’ gedeel.
Nou wil ek met jou deel oor die einde van die wêreld soos ek dit verstaan.

Lees eers gou hier en ek kwoteer Die Nuwe Lewende Vertaling.

2PET 3:7-18 
7 God het presies so –deur Sy Woord – beskik dat die Hemele en die Aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8  Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes:  Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
9  Die Here stel nie die vervulling van Sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie.  Nee, Hy wag geduldig terwille van julle.  Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.
10  Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief.  Dan sal die Hemele met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die Aarde met alles wat daarop is, vergaan.
11  Aangesien alles om ons so gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan God lewe!
12  Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.
13  Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ‘n nuwe Aarde, soos God beloof het.  Daar sal almal voor God reg lewe.
14  Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word.  Lewe in vrede met God.
15  En onthou:  Die Here se geduld is ‘n geleentheid om gered te word.  Dis mos presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het.
16  Hy praat hieroor in al sy briewe.  Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan.  Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen.  So bewerk hulle, hulle eie ondergang.
Petrus se slotwoorde

17  Geliefdes, julle weet dit nou vooruit.  Wees dus op julle hoede dat julle nie saam gesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie.  Ek wil nie hê dat julle, julle eie standvastigheid verloor nie.
18  Sorg dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd.  Amen.

Ons Here wat die skepping soos ons dit ken tot stand gebring het, gaan die skepping soos ons dit ken heeltemal vernietig.
Vir die mense wat wil beweer dat die heelal wat deel van die skepping is, net te groot is om sommer so tot nuut gemaak te word, wil ek maar net sê:
Hierdie skepping/heelal wat volgens die meeste wetenskaplikes deur “the big bang” tot stand gekom het, gaan as ek die woord reg verstaan, met ‘n nog “bigger bang” verdwyn.  Dit sommer net vir die wat in die “big bang” glo.  Ek glo my God spreek net 'n Woord.

Dieselfde God wat hierdie skepping/heelal tot stand gebring het – deur net ‘n woord te spreek, gaan ook hierdie skepping/heelal tot nuut maak – deur net te sê dit moet gebeur en dan, hoe heerlik!  Bo heerlik! Bo heerlik! – gaan daar ‘n nuwe Hemel en ‘n nuwe Aarde deur ons Here geskep word, vir al die mense wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.

OPG 21:1-4 
1 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.
2  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
3  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.
4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

So, waarmee sal ek afsluit vir jou wat reeds Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker?

Ek sluit dan deur vir jou wat Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker te sê, dat soos ek by ‘n vorige geleentheid vir jou uit die Woord gewys het, niks van die verskriklikhede van die einde van hierdie wêreld vir ons Sy kinders wag nie.

Daarom kon Petrus wat vir ongeveer drie jaar deur Jesus onder andere aangaande hierdie dinge ingelig was, vir ons skryf:

2PET 3:12  Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.
2PET 3:13  Maar ons sien uit na die nuwe Hemele en ‘n nuwe Aarde, soos God beloof het.  Daar sal almal voor God reg lewe.

Ek volstaan dan nou wat hierdie saak aanbetref met Petrus se slotwoorde, nadat hy ons oor die einde van die skepping soos ons dit nou ken vertel het.

2PET 3:17  Geliefdes, julle weet dit nou vooruit.  Wees dus op julle hoede dat julle nie saam gesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie.  Ek wil nie hê dat julle, julle eie standvastigheid verloor nie.
2PET 3:18  Sorg dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd.  Amen.

Groete
Sakkie