ONS VYAND IS VERSLAAN! DEEL 1 VAN 2

ONS VYAND IS VERSLAAN!
DEEL 1van 2

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Het die duiwel steeds mag oor die dood?”

Hier dan is hoe ek die Woord wat hierdie saak aanbetref verstaan:

Eers is dit goed om te verstaan, dat die satan nog nooit onbeperk, die ja- en amen-sê oor die dood, of wat dit aanbetref – oor enige iets anders in die skepping gehad het nie.

Ons Here het reeds daar aan die heel begin van die skepping vir ons gewys en ook gedemonstreer en vir ons die slang as ‘n sigbare bewys gelaat, waarna ons altyd na kan kyk, as ons sou twyfel oor wie uiteindelik die laaste sê, oor wat ookal in Sy skepping het.
Ons lees:

GEN 3:14  Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, gaan Ek jou vervloek onder al die diere op die aarde. Op jou pens sal jy seil en stof sal jy eet so lank as wat jy lewe.”

‘n Baie goeie voorbeeld in die Woord waar ons kan sien dat satan nog nooit kon maak en breek soos wat hy lus het nie, sien ons as ons Job 1 van af vers 6 lees.
Ek kwoteer net vir jou vers 12:

JOB 1:12 “Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.

Dit gesê wat ek nou geskryf het – moet ons verseker nie vir een oomblik dink dat ons, ons nou nie aan satan hoef te steur nie.
Die satan is ‘n formidabele teenstander, wat die mens al vir duisende jare bestudeer het en hy weet presies hoe om jou en my te benader.
Jy en ek het geen kans teen hom sonder ons Here se Gees nie.
Ons Here self noem satan onder andere:

JOH 12:31 Nou vind die oordeel oor hierdie wêreld plaas; nou sal die leier van hierdie wêreld na buite toe uitgedryf word. (‘Prins van hierdie wêreld’ was ‘n ander naam vir satan)

Asook:

JOH 14:30 “Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld (‘n verwysing na die satan) is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie.

Dan ook nog:
2 KOR 4:4  Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie. Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is.

Die satan is volgens dit wat jy nou gelees het, die god, regeerder en leier van hierdie wêreld – vir die ongelowiges.
Wanneer ‘n mens dít besef, wonder jy nie meer waarom daar soveel boosheid in die wêreld is nie.

Hoe heerlik egter om dan ook te onthou wat daar in die Woord aangaande Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker geskryf staan:

HEB 2:14  Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, (dit sluit jou en my in) het Jesus ook ten volle mens net soos hulle (ons) geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel.

Die mag wat die duiwel gehad het, is die mag om jou en my, vir ewig in die hel te laat doodgaan. 

Maar nou het Jesus deur Sy Kruisoffer ons – wie Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker – van daardie verskriklike vir ewig doodgaan gered!:

HEB 2:15  Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het.

1JOH 3:8  … Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig.

FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee
      wat belangriker is as elke ander naam.
10  Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11  en elke tong sal bely:“Jesus Christus is Here!”  En só sal God die Vader verheerlik word!

Wat moet ‘n mens doen om hierdie Jesus Christus van wie jy nou gelees het se Gees
inwonend in jou te hê, sodat satan ten spyte van al sy mag, jou nie vir ewig in die hel ‘n
verskriklike dood te laat sterf nie?

– Want een saak staan soos ‘n paal bo water –

Vir so lank as wat jy en ek op hierdie aarde lewe, gaan die satan ons nie met rus laat nie en ons
Here het ons vooruit hieroor gewaarsku:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan
vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Dan kom my groot held Paulus en hy bevestig uit eerstehandse ondervinding uit sy eie lewe, wat ons Here se wáre kinders in een of ander opsig in ons eie lewe kan verwag:

2KOR 4:6-9 
6 God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte (dit is jy en ek wie Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.
7  Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – (ons stoflike liggame) die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.
8  Op elke manier word ons onder druk geplaas,
maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward,
maar nie wanhopig nie;
9  ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
platgeslaan,
maar nie vernietig nie.

Dan en hoe wonderlik, sluit Paulus 2KOR:4 af as hy skryf:

2KOR 4:17  Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid (dit is die ewige lewe saam met Jesus Christus)  wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
2KOR 4:18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

Ek sluit dan hierdie eerste gedeelte van my antwoord oor:
“Het die duiwel steeds mag oor die dood?”

– deur te sê dat jou en my énigste redding van satan en die ewige dood in die hel is Jesus Christus.

JOH 6:47  “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe.”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

JOH 6:47  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.

So, wat moet ons doen om nie deur satan na die hel verlei te word nie?

Ons moet Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker.

ROM 8:1  Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou hééltemal wéggeneem.
 
In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

ROM 8:1  Daar is dan nou géén veroordelíng vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Hieroor gesels ek met jou in die tweede gedeelte van hierdie kort reeks.

Groete,
Sakkie