ONS VYAND IS VERSLAAN! DEEL 2

ONS VYAND IS VERSLAAN!
DEEL 2

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe oor die vraag:
“Het die duiwel steeds mag oor die dood?”
het ek onder andere die volgende gesê:

Jou en my énigste redding van satan is Jesus Christus.

Ál een – die énigste Een – wie jou en my van die verskriklike ewige dood in die hel kan red, is JESUS CHRISTUS deur Sy offer vir die mensdom op Golgota.

Ons lees:

JOH 3:14-17 
14 Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, (jy kan daardie geskiedenis gaan lees in Num 21 van af vers 5) só moet die Seun van die Mens verhoog word
15  sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.
16  “God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

Ek moet Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker.

Hoe doen ‘n mens dit?

Ons lees:

HAN 2:37-39 
37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Broers, wat moet ons doen?”
38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.
39  Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

In ‘n ouer vertaling lees HAN 2:39 soos volg:

HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Hoe wonderlik om mekaar, ons wat Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, altyd met groot blydskap ook in ons swaar op hierdie aarde, aan die volgende te herinner:

JAK 4:7  Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister.  Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.

Om dan die vraag:
“Het die duiwel steeds mag oor die dood?” op te som:

Die satan het nét mag oor die dood, my geestelike dood, as ék hom die mag daaroor gee.

Die mense wat Jesus Christus nié aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie, gee satan daardie mag om hulle geestelik dood te maak en hulle sal vir ewig in die hel ‘n verskriklike dood sterf en tog nooit sterf nie.

Nie omdat satan outomaties mag oor die dood, hulle geestelike dood het nie, maar omdat hulle met hulle eie wil waarmee ons Here hulle geskape het, satan mag oor hulle lewe gegee het.

‘n Voorbeeld van die lot wat vir sulke mense wag, kry ons in LUK 16:24  en dit is Jesus self wat hierdie man in die hel se woorde  vir ons kwoteer:

LUK 16:24  “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’

Dit is nou meer as 2,000 jaar later, dat Jesus ons van hierdie man se woorde vertel het  en niks het nog vir daardie man verander nie en niks gaan tot in alle ewigheid ooit vir hom verander nie.

Hoe wonderlik dat die evangelie van Jesus Christus by jou en my uitgekom het en dat ons toe ons harte op Jesus se geklop oopgemaak het!

Want elke mens wat hierdie lewe uittree en aan die anderkant van die graf arriveer sonder dat sy/hy Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, sal vir ewig in dieselfde omstandigheid wees as die man van wie Jesus ons hier bo vertel het.

Hoe oneindig dankbaar is ek nie, as ek in die Woord lees wat my omstandighede gewees het, voordat Jesus Homself aan my bekend gemaak het.

Ek lees:
 
EFE 2:12  Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.
EFE 2:13 Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding
      met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis.

Van ons, die mense wie vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en enduit Hom deur hierdie lewe volg, aan ons sê Hyself:

JOH 5:24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het díe ewíge lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit dIe dood na dIe léwe.

Met ander woorde –
Wat Jesus Christus se volgelinge aanbetref, bestaan die dood nie meer nie!
Natuurlik sal ons stoflike liggame eendag tot niet gaan maar onsself kan dit uit jubel:

1KOR 15:55  “O dood, waar is jou oorwinning?  Dood, wat het van jou angel geword?”

Ten slotte nog net dit:

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker –

Nou moet ek tog net nie redeneer, dat ek my nou nie meer aan satan hoef te steur nie.
Nou gaan satan eers hard probeer om my, my rug op ons Here te laat draai en my in die hel te laat beland.  Daarom lees ons ook:

1PET 5:8  Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
1PET 5:9  Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

Hoe heerlik as ek dit lees om ook hierdie woorde van ons Here aan ons te onthou:

MAT 24:13  Maar elkeen wat enduit volhard, sal gered word.

Asook:

OPB 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
OPB 3:22 Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Groete,
Sakkie