ONSE VADER WAT IN DIE HEMELE IS, LAAT U NAAM GEHEILIG WORD

ONSE VADER WAT IN DIE HEMELE IS, LAAT U NAAM GEHEILIG WORD

Sakkie Parsons

Ek glo dit is by die meeste mense so:
Jy weet dat dit is soos wat dit werk maar as jy weer op ‘n dag spesifiek daaroor dink, dan tref dit jou weer opnuut.  Hoe dit ook al sy, dit is wat nou die dag weer met my gebeur het.

Dit het my weer opnuut getref, hoe absoluut heerlik, wonderlik die liefdesverhouding tussen ‘n Christen en sy God is.

Laat ek verduidelik:
Baie mense sal dink dat dit verkeerd is van my om so te redeneer en dalk is hulle amper reg maar ek bestudeer nie ander godsdienste nie, bloot omdat dit in my oë ‘n nuttelose ding is om te doen en omdat ek gelukkig ook nie die tyd daarvoor het nie.  My uitkyk wat dit aanbetref is natuurlik soos met alle ander dinge in my lewe, presies dieselfde as my groot held Paulus:

1KOR 2:1  En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie,
1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

 

So ek erken ruiterlik, dat ek nie veel van ander godsdienste af weet, buiten dit wat ek oor die radio en TV hoor en wat ek deur die prediking van die lewens van die ander godsdienste se volgelinge sien nie, asook die bietjie wat ek genoodsaak is om partykeer vanweë my bediening moet naslaan.

Dit wat ek van ander godsdienste opmerk, deur die optrede van hul volgelinge is dit:
Hul god is, so lyk dit vir my, so ‘n op ‘n afstand god en daarby, ‘n ongenaakbare streng god.  As ek na sekere optredes van hul god se volgelinge kyk, sou ek selfs dink, ‘n wrede god maar kyk nou na jou en my God.

As ek al die voorbeelde moes noem, wat my weer opnuut getref het, wat hierdie saak aanbetref, sou hierdie e-pos tientalle bladsye lank gewees het, so ek volstaan elke keer met net ‘n voorbeeld of twee.

Eerstens het Hy ons baie, baie duur gekoop.
Omdat Hy volmaak is, kon net ‘n volmaakte prys ons vir Hom koop en die enigste volmaakte prys in die heelal was Sy Seun Jesus Christus.
Want moet nie ‘n fout maak nie.
As gevolg van die sondeval was ek – as ek nié Jesus aangeneem het as my God,
Verlosser en Saligmaker nie, was ek verkoop onder die sonde, gedoem vir die hel.

ROM 7:14  … maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.
ROM 7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.

Hoe heerlik om dit dan nou uit te jubel:

1KOR 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

1PET 1:18-21 
18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20  wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21  julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Ons Christene se God is ook nie ‘n op ‘n afstand God nie.  Nee!  Nou, nadat Hy jou met die bloed van Sy Seun gekoop het, staan Hy nie terug van jou af, want jy is maar‘n mens en Hy is God nie.
As jy Hom toelaat, omdat Hy jou met Sy hele Goddelike hart lief het,  raak Hy so betrokke by jou, Hy maak Hom aste ware een met jou.
Van binne en van buite.

Van binne!

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Van buite!

GAL 3:26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Ek wil dit jubelend uitroep:

“My God, my God!  Wat ‘n Liefdevolle God!”

Dan is dit ook nog nie die einde nie.
Nie net is jy nou Sy eiendom en is Hy so lief vir jou dat Hy jou van binne en van buite volkome Syne maak nie.
Jy kan Hom aanneem as jou eie!
Dink net daaraan!
Die God wat Hemel en Aarde geskape het en die heelal in die palm van Sy hand hou, Is nou jou Vader en jy is sy kind!"

ROM 5:5  en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
ROM 5:6  Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.

1THS 4:8  Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.

TIT 2:13  terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
TIT 2:14  wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

As iemand dalk dink dat ek dit nie reg verstaan nie, kom ons Jesus en Hy onderstreep
dit wat ek jou nou gewys het, deur te sê.

MAT 6:9  Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
MAT 6:10  laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

Jesus het nie gesê:
Só moet julle dan bid: die Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig…
Of enige ander woord wat jy daar kan sit nie.
Nee! Hy het gesê:

MAT 6:9  Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

Kan jy nou sien hoe absoluut geseënd jy en ek is wat Jesus aangeneem het, as ons Verlosser en Saligmaker?
Jy behoort aan Hom en Hy behoort aan jou en hierdie heerlike liefdesverhouding is tot alle mense se beskikking.  Al wat iemand moet doen om hierdie heerlike intieme liefdesverhouding met God Almagtig te hê is:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Groete,
Sakkie