ONTHOU NET ALTYD JESUS – JOU VERLOSSER EN SALIGMAKER

ONTHOU NET ALTYD JESUS – JOU VERLOSSER EN SALIGMAKER

Vir al my broers en susters wat op hierdie oomblik steier onder satan se aanslae.

Sakkie Parsons

Ek gesels nou eendag met iemand en toe kom ‘n gedagte in die vorm van ‘n vraag weer in my hart op wat ek met jou wil deel.

Eers egter wil ek net graag dat jy die volgende uit ons Here se kosbare Woord lees:

Ek wil begin met Woorde van Jesus:

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

So, van een ding kan ‘n kind van ons Here baie seker wees.

Jou lewe hier op aarde gaan nie maanskyn en rose wees nie.  Daarvoor gaan satan sorg. Maar tog het wáre Christene iets wat net anders is as jy met hulle te doen kry.

‘n Vrede, ‘n geluk, ‘n vreugde wat hulle onderskei van ander mense – maar lees eers net hier wat Paulus getuig van satan se aanvalle in sy lewe:

2KOR 11:24-28 

24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.

25  Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, n nag en n dag het ek op die diepwater deurgebring

26  dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;

27  in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.

28  Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.

Nou net sodat jy kan sien, dat as ek oor hierdie saak met jou deel, ek weet waarvan ek praat.  Ek praat nie van hoorsê nie.

Natuurlik het ek ook ander tragedies in my lewe moes hanteer, maar hierdie wat ek met jou deel, sal altyd in my lewe vir my uitstaan en daarom wil ek hulle weer hier as voorbeelde gebruik.

Ek deel met jou die eerste keer toe satan my met ‘n hamer tussen my oë geslaan het.

Ek het altyd ‘n oog probleem gehad maar in 1978 kom ek agter, dat my oë nou vinnig agteruit gaan en dit was al klaar vir my iets geweldig om te verwerk maar die mees skrikwekkende gedagte vir my was, en dit het ook gebeur, dat ek binne kort nooit weer my kinders, wie almal toe nog klein gewees het, se gesiggies weer gaan sien nie –

Maar ek het Jesus onthou en steierend orent gekom en so soekend deur die newels van my omstandighede, net gesorg, dat ek my oë op Jesus kry en my oë op Hom hou en op my lewenspad voortgegaan.

Eers al strompelend maar met my oë op Jesus het dit al hoe beter gegaan, totdat ek later weer heerlik regop kon loop en soms sommer so in die stap net die bande van die pak op my rug wat ek moes dra, so effe geskuif as hy begin pla vanweë dinge wat my padlangs gekom het – maar die mees skrikwekkendste hou van satan moes nog kom.

In Desember 1997 ontdek hulle melanoom kanker by my en op my vraag aan my dokter wat ek baie goed geken het, van wat my kanse is, is sy antwoord:

“Sakkie, as ons dit nie kan keer nie, het jy 3 en as jy gelukkig is 6 maande..” maar ek het Jesus onthou en steierend orent gekom en so soekend deur die newels van die hou van my omstandighede, net gesorg, dat ek my oë op Jesus kry en op Hom hou en op my lewenspad voortgegaan.

Eers al strompelend, maar met my oë op Jesus het dit al hoe beter gegaan, totdat ek later weer heerlik regop kon loop en soms sommer so in die stap net die bande van die pak op my rug wat ek moes dra, so effe geskuif as hy begin pla het vanweë dinge wat my padlangs gekom het maar weer – die mees skrikwekkendste hou van satan moes nog kom.

In 2012 bel my vrou se neuroloog my en sê vir my, dat my vrou dementia het en op my vraag van hoe lank ekself haar nog sal kan versorg, was haar antwoord, omtrent ‘n jaar.

7 Jaar later, en ek kan nie eens begin om te probeer om met jou al die hartseer en trauma van daardie 7 jaar te deel nie, bel die hospitaal my een oggend êrens na 6 die oggend en sê, dat ek moet kom, my vrou gaan sterf en toe ek daar kom, sê hulle ek is te laat en my wonderlike huwelik van 37 jaar met my vrou kom tot ‘n einde.

Maar ek het Jesus onthou en steierend orent gekom en so soekend deur die newels van die hou van my omstandighede, net gesorg, dat ek my oë op Jesus kry en op Hom hou, en op my lewenspad voortgegaan.

Eers al strompelend maar met my oë op Jesus het dit al hoe beter gegaan, totdat ek later weer heerlik regop kon loop en soms sommer so in die stap net die bande van die pak op my rug wat ek moes dra, so effe geskuif as hy begin pla vanweë dinge wat my pad langs gekom het.

Nou, hoe is dit dan moontlik dat ware kinders van ons Here, so gelukkig blymoedig in vrede deur die lewe kan gaan?

Want, prys die naam van ons Here!

Ons is eerstens met Jesus Christus beklee:

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Nie net is ons met Jesus Christus beklee nie maar hy leef ook in ons:

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God

Jy kan eintlik met groot respek sê, ons is met Jesus Christus deurweek.

As jy Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, kan jy vol vrede deur die lewe gaan, want jy het ‘n wonderlike toekoms wat vir jou wag!

Ek deel met jou die volgende van baie uit ons Here se kosbare Woord wat dit verseker:

1PETRUS 1:3-9 

3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

4  sodat ons n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

5  wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

6  Daarin verheug julle jul, al word julle nouas dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,

7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met n onuitspreeklike en heerlike blydskap,

9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

Vir nou, terwyl ons nog oppad na ons wonderlike ewige bestemming is, het ons ook hierdie sekere wete:

HEB 4:14-16 

14 Terwyl ons dan n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.

15  Want ons het nie n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Vir al my broers en susters wat op hierdie oomblik steier onder satan se aanslae, laat ek dan nou met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

1PET 5:8-11 

8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

9  Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

10  En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!

11  Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.