OOR ABORSIES

OOR ABORSIES

Sakkie Parsons

Vir enige persoon wat hierdie e-pos gaan lees, wat op een of ander manier betrokke was by dit waaroor ek hier my mening gee, wil ek asseblief mooi vra, om weer die eerste gedeelte van hierdie e-pos te lees nadat hulle die hele e-pos klaar gelees het.

Ek wil dan begin deur te sê, dat na my mening, is dit nie vir Christene ‘n geval van ‘n keuse tussen ondersteuning vir die ma of die kind nie. Ons is almal God se kosbare kinders en ‘n onskuldige baba behoort nie dood gemaak te word net omdat volwassenes byvoorbeeld “‘n fout” gemaak het nie.

As volwassene moet ek ook weet:  As ek God om vergifnis gevra het en dit bedoel het, dan het Hy my vergewe en as ek dan nog met skuldgevoelens loop, is dit nie omdat God my nie vergewe het nie. Dan is dit omdat ek myself nog nie vergewe het nie. Met ander woorde dan moet ek daaraan werk dat ek soos God myself ook vergewe.

Een feit wat die Woord onteenseglik verkondig is, dat as ‘n vrou bevrug raak, het God die mens begin skep wat Hy reeds lank voor daardie bevrugting besluit het om te doen en net God mag besluit wanneer daardie mens gaan sterf.

Voor ek aan gaan noem ek net weer.

Dit maak nie saak hoe groot of hoe verskriklik of hoe wat ook al my sonde is nie.  Daar is nie ‘n sonde in die wêreld wat te groot of te verskriklik of wat ook al is, dat die bloed van Jesus dit nie tot niet kan maak nie. Behalwe natuurlik die sonde teen die Heilige Gees. Daarom dan ook dat God vir my en jou sê:

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.  Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

God is nie Een wat net praat nie, Hy doen wat Hy sê.

Lees hier waar Jesus aan die kruis hang vir jou en my en die twee wat saam met Hom gekruisig is:

LUK 23:39-43 
39 “Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê:  ‘Is jy dan nie die Messias nie?  Red jouself en ook vir ons!’
40  Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  ‘Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! 
41  Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.’
42  Hy het verder gesê:  ‘Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.’
43  Jesus se antwoord was:  ‘Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.’”

Jou en my Jesus sê:

OPG 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.
OPG 3:22  Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Dit is hoe eenvoudig dit is.

Ek moet Jesus aanneem as My Verlosser en Saligmaker.  Dan – as ek dit gedoen het -moet ek besef dat dit wat ek gedoen het, verkeerd was en dan vir Hom ekskuus sê en vir Hom vra om my te vergewe en dit bedoel en my lewe dan in Sy hand plaas.  Weet jy, dan dink God nooit weer daaraan nie en jy moet dit dan ook vergeet.

Ek en ‘n paar mense het die naweek oor aborsies gesels.

Iemand het eendag vir my gesê –  dit was nadat die persoon my opinie oor hierdie saak gevra het – dat ek maklik kan praat want ek is ‘n man.  Toe sê ek vir die persoon, soos ek maar altyd vir mense sê as hulle my vir my opinie vra omtrent ‘n saak: “Ek het net die Bybel, vir my is dit die hoogste gesag wat ek as mens fisies het om te wys.” Dan gee ek my opinie en ek wys uit God se Woord hoekom ek so redeneer.

Toe ons klaar geredeneer het, het ek gelei gevoel om ook met jou te deel oor hoe ek die saak sien.  Nie om te stry nie, maar sommer om vir jou te vertel hoe ek dit sien.
Ek weet dat mense met allerhande redenasies kom van hoekom ‘n aborsie gedoen kan word, maar ek sê dit maak nie saak hoe ek redeneer nie, maar as dit nie uit God se Woord, eintlik moet ek sê deur God in Sy Woord gestaaf word nie, beteken dit niks. 

Wat nog te sê as die redenasie reg téén God se Woord ingaan. Ek sal begin om vir jou te sê dat ek glo dat ‘n aborsie is niks anders as moord nie. Nou kan jy my vra om dit uit God se Woord te staaf. Nou goed: Onthou dat al die mense in die Bybel deur God vir ons as voorbeelde daar is.  Wat vir hulle gegeld het, geld ook vir my.

PSALM 139:13-18                   
13U self het my diepste wese gemaak,  my in die moederskoot gevorm.
14Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
15My beendere was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot.
16U het my gesien voor ek gebore is.  In U boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.
17Kosbaar is U gedagtes vir my, o God!  Hoe onmeetlik is die totaal!
18As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees.

Kyk weer na vers 16:

PSALM 139:16
16U het my gesien voor ek gebore is.  In U boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.

God het my gesien voordat ek gebore was maar, nie net het my wonderlike God my gesien nie, Hy het reeds vir my hele lewe ‘n meesterplan in Sy boek uiteen gesit:

PSALM 139:16, die tweede gedeelte:
“In U boek is alles opgeteken;  elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.”

Iemand kan dalk sê dat Dawid ook ‘n man was.  So hy kan maklik praat en wie sê in elk geval dat dit wat hy geskryf het onder lyding van die Heilige Gees was, of dat dit wat hy geskryf het hoegenaamd in die Bybel moes gewees het siende wat ons als van hom weet?

Weer sê ek dat ek net die Bybel het.

So kom ons kyk wat is die getuienis in die Bybel oor Dawid se geloofwaardigheid.

Dit is Jesus wat hier oor Dawid getuig:

MAT 22:43  “Waarop Jesus vra:  ‘Hoe noem Dawid Hom dan ‘Here’, terwyl hy tog onder die inspirasie van die Gees praat?  Hy sê:
MAT 22:44  ‘Die HERE het vir my Here gesê:  Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’”

Jesus kwoteer Dawid en dan sê Hy dat Dawid onder leiding van die Gees skryf wat hy geskryf het. Die gedeelte wat Jesus kwoteer het, is die volgende:

PSM 110:1  ‘n Dawid psalm. “1Die HERE het vir my heer gesê:  “Sit op die ereplek aan my regterkant totdat Ek jou vyande verneder het tot ‘n voetbankie onder jou voete.”

As Jesus vir Dawid kwoteer, kan ek met algehele sekerheid ook vir Dawid kwoteer. Op ‘n ander plek in die Bybel sê God self vir Jeremia:

Onthou nou, dit is ons Here self wat hier praat:

JEREMIA 1 vers 5:
5“Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld.”

Ons lees in die Nuwe Testament:

EFE 1:3-6 
3 “Prys ons goeie God, die Vader van ons Here Jesus Christus, voortdurend, want Hy is wonderlik goed vir ons!  Deur wat Christus gedoen het, het Hy al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, verniet vir ons gegee.
4  Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies.  Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om sonder foute net Syne te wees.
5  Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as Sy kinders aan te neem.  Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê.
6  Daarom prys ons God se grootheid.  Deur Sy Seun wat Hy liefhet, het Hy onverdiende goedheid aan ons gegee.”

Volgens wat ek die Woord verstaan, is daar geen, absoluut geenstadium na bevrugting, dat daar nie ‘n mens in die moeder se baarmoeder is nie.
Jy sien, voordat my ma swanger geraak het, het God my reeds so goed geken, dat Hy ‘n meesterplan vir my hele lewe opgetrek het.

Ek wil net vir die interessantheid daarvan noem dat ek teenoor ‘n sekere prediker my saak gestel het soos wat ek dit hier gestel het. Sy reaksie was as volg: “As ‘n vrou gewelddadig verkrag sou word, hy haar sou ondersteun indien sy ‘n aborsie sou wou hê.”

Persoonlik kan ek nie dink aan ‘n manier van verkragting wat nie gewelddadig is nie maar dit daar gelaat. Ek sê soos die sportmanne so graag van skeidsregters sê: “Hulle moet konsekwent wees.” In ons geval dan, moet die kerkmanne, of dan skeidsregters wat agter die kansels staan ook net konsekwent wees en vir ons sê wanneer het ‘n lewe nou waarde?  Wanneer dit “gewelddadige verkragting” is,  of wanneer dit net vir die lekker oor die tou trap is?

Het ‘n baba wat deur verkragting, kom ons los nou maar die “gewelddadige” gedeelte daarvan uit want volgens my kry jy nie ‘n nie-gewelddadige verkragting nie.  Het so ‘n baba wat verwek word, minder reg om te lewe as twee mense wat sommer terwille van hul eie drange ‘n kind verwek en dan ‘n “vrywillige aborsie” soos dit genoem word, aanvra. Sal jy vir die een sê dat jy mag ‘n aborsie laat plaasvind maar vir die ander een, jy mag nie.

Ek sluit af met hierdie vrae:

Besluit ons Christene ook nou soos die terroriste wie mag lewe en wie nie? Het ons al so aan die wêreld gelyk geword? Stel ons die reëls op, of lewe ons volgens die Bybel? Wie besluit volgens ons Christene, wie mag gebore word en wie nie?  Is dit God of Christene?

Eintlik moet ek vra:

Wie van ons mag nou in ‘n swangerskap besluit, oor wie mag vermoor word en wie mag lewe?

Ek dink nou net daaraan, dat iemand vir my kan vra:

“As God dan ‘n meesterplan vir my in Sy boek opgetrek het, hoe is dit dan dat so baie mense se lewens so vol probleme is? “

Ek is na die beeld van God geskape.  Met ander woorde in my is daar eienskappe van God. Ek noem vir jou twee:

God is onsterflik en ek ook.  Ek gaan eendag uit hierdie aarde uittree en ek gaan die Hemel intree en daar vir Ewig Lewe.  Of, ek gaan eendag hier uittree en die hel intree en daar vir ewig ‘n verskriklike dood sterf en tog nooit sterf nie.

Dan ook, God het ‘n wil van Sy eie en so ook ek. God wil hê dat alle mense moet Hemel toe gaan en tog gaan die meeste mense hel toe, omdat hulle hul wil uitoefen om God nie te dien nie.  Jy sien – God het ‘n meesterplan vir my lewe opgestel, maar as ek my wil uitoefen en nie die plan wil volg nie en veranderings aanbring, dan moet ek nie die skuld voor God se deur lê nie.

Dan is daar ook gevalle waar mense in situasies beland wat hulleself niks mee te doen gehad het nie. Soos – ek het niks daarmee te doen dat ek blind is nie, maar van myself en alle sulke gevalle, ook gevalle waar mense soos babas/mense in die baarmoeder vermoor word, sê ek soos my groot held Paulus:

1 KORINTIËRS 13 vers 12:
“12Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”

Iemand sê dalk, dat dit nou ‘n maklike uitweg is wat ek volg.
My antwoord is.
Dit, na my mening, is die enigste Bybelse wyse om te volg.
In die tussentyd juig ek saam met Dawid:

PSALM 33 vanaf vers 20:
“20Ons vertrou op die HERE om ons te red. Hy is ons hulp en beskermer soos ‘n skild.
21In Hom is ons harte verheug, want ons vertrou op sy heilige Naam.
22Laat u troue liefde ons oordek, HERE, want ons hoop op U alleen.”

Geniet jou lewe vandag en altyd in die Here.

Groete,
Sakkie