OOR DIE DOOP

OOR DIE DOOP

Sakkie Parsons

Iemand het my, my sienswyse oor die doop gevra.

Ek deel hier met jou ook dit wat ek vir die persoon gestuur het.
Voordat ek iets oor die doop sê, net dit:
Ek glo nie iemand sal hel toe gaan as hulle nie gedoop is nie.
Jy sal wel verlore gaan as jy nie Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en saligmaker nie.

JHN 3:16-18 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun (Jesus) gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Alhoewel dit vir my persoonlik ondenkbaar is dat iemand wat Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker nie sou gedoop wil word nie, glo ek dat die volgende op onder andere sulke mense van toepassing is.
Ek gebruik hier ‘n nuwer vertaling.

1KOR 3:11-15
11 want Jesus Christus is die enigste fondament, en daarom kan niemand ’n ander fondament kom lê nie.
12Tog maak dit saak waarmee ’n mens op hierdie fondament bou. Party bou met goud of silwer of juwele. Ander bou weer met hout of gras of strooi.
13Maar die dag as Christus terugkom sal dit baie duidelik wees hoe elkeen gewerk het. Dit sal met vuur getoets word en die vuur sal wys watse werk dit is.
14As iemand se bouwerk bly staan na die vuur dit getoets het, sal hy ’n beloning kry.
15Maar as iemand se werk verbrand, ly hy dit alles skade, maar hy self sal behoue bly, al is dit soos iemand wat uit ’n brand gered is.

Ek wil met hierdie skrywe ook niemand aanval nie.  Ek verduidelik net hoe ek die doop verstaan.

Hier dan is na die beste van my vermoë,’n verduideliking van die doop soos ek dit verstaan.

Ek wil begin om te sê, dat daar by my geen twyfel is nie, dat iemand wat hom of haar tot die Christelike geloof  bekeer het behoort gedoop te word en dat jy net gedoop mag word as jy jou bekeer het van jou sondige lewe en jy kan jou net bekeer as jy glo en verstaan dat die lewe wat jy sonder Jesus gelewe het, verkeerd was en dat jy ‘n omkeer moet maak en dit is iets wat ‘n kind nie kan doen nie, om nie eens van ‘n baba te praat nie.

HAN 2:38-39 Petrus antwoord toe: “Elkeen van julle moet hom bekeer en hom laat doop in die naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe en julle die Heilige Gees gee. 39Want God se belofte is vir julle en vir julle kinders en almal wat nog ver is. Dit is bedoel vir almal wat die Here God nog sal roep om na Hom toe te kom.”

MAR 16:15-16 Hy het ook vir hulle gesê: “Julle moet oor die hele wêreld gaan en die Goeie Nuus vertel aan al die mense wat God geskape het. 16As iemand hierdie boodskap glo en gedoop word, sal hy gered word. Maar as iemand dit nie glo nie, sal hy gestraf word.
                 
HAN 8:34-37 Die amptenaar vra toe vir Fillipus: “Sê my, van wie praat die profeet hier? Is dit van homself of van iemand anders?” 35Filippus begin toe by hierdie deel van die Skrif en vertel hom die Goeie Nuus oor Jesus Christus.
36Langs die pad het hulle by water uitgekom. Die amptenaar sê toe: “Kyk, hier is water. Waarom kan ek nie gedoop word nie?”
37“Jy kan gedoop word,” antwoord Fillipus, “as jy met jou hele hart glo” . Toe antwoord hy: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.”

Let net weer op die volgende wat jy nou net gelees het.

HAN 8:37  “Jy kan gedoop word,” antwoord Fillipus, “as jy met jou hele hart glo.”

Kyk ook gou wat gebeur, waar daar ‘n geval was waar dit moontlik was, dat kinders ook gedoop kon word.

HAN 8:9-13 Maar in daardie dorp was daar ’n sekere Simon wat al jare lank ’n groot indruk op die mense van Samaria gemaak het met sy toordery. Hy het gesê dat hy besondere krag het. 10Klein en groot in daardie dorp het geluister wat hy sê want hulle het geglo dat daardie Simon ’n god is met die naam “die Groot Krag van God” . 11Dit was omdat hy deur die jare ’n indruk op die mense gemaak het met sy toordery dat hy so ’n houvas op hulle gekry het. 12Maar toe Fillipus vir hulle die Goeie Nuus oor Jesus Christus en oor die nuwe ryk van God vertel het, het hulle geglo, en daar is ’n hele aantal mans en vrouens gedoop. 13Simon het self ook geglo en is gedoop...

Let net op na die volgende in dit wat jy nou net gelees het.

Klein en groot het in Simon geglo.

HAN 8:10 Klein en groot in daardie dorp het geluister wat hy sê want hulle het geglo dat daardie Simon ’n god is met die naam “die Groot Krag van God” .

Net die mans en vroue is egter gedoop nadat hulle onder leiding van Fillipus se prediking tot bekering gekom het.

HAN 8:12 Maar toe Fillipus vir hulle die Goeie Nuus oor Jesus Christus en oor die nuwe ryk van God vertel het, het hulle geglo, en daar is ’n hele aantal mans en vrouens gedoop.

Dan glo ek ook dat ‘n mens deur onderdompeling gedoop moet word.

Let op, dat Jesus na Sy doop, uit die water uit gekom het.

MAT3:16 Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik weer uit die water uitgekom.         

Dieselfde het gebeur, nadat Fillipus die amptenaar gedoop het.

HAN 8:38-39 Die amptenaar laat toe die wa stilhou. Fillipus het hom gedoop. 39Toe hulle weer terugkom uit die water uit, het die Gees van die Here Fillipus daarvandaan weggeneem…

Jy sien, die doop is eintlik ‘n begrafnis.

ROM 6:3-5 Julle weet tog dat ons aan Jesus Christus verbind is toe ons gedoop is. Dit beteken dat ons ook met sy dood verbind is. Dit is net so goed of ons self gesterf het.
4Ons kan sê dat ons by die doop saam met Hom gesterf het en saam begrawe is. Maar die wonderlike krag van die Vader het Christus weer lewendig gemaak, en net so is ons ook weer lewendig gemaak sodat ons elke dag ’n nuwe lewe kan lei.
5Want as ons so aan Hom verbind is en saam met Hom gesterf het, sal ons ook soos Hy in ’n nuwe lewe ingaan.

KOL 2:12 julle is saam met Hom begrawe toe julle gedoop is en julle het saam met Hom in ’n nuwe lewe ingegaan omdat julle glo dat God deur sy krag vir Christus weer lewendig gemaak het.

Die doop is nie sommer iets wat nie gedoen hoef te word nie.

JHN3:22-23 ’n Bietjie later het Jesus en sy dissipels weer van Jerusalem af weggegaan maar hulle het in die gebied van Judea gebly en mense gedoop.
23Johannes was ook nog besig om mense te doop by Enon naby Salim waar daar baie water was.

Let op na veral die volgende in dit wat jy nou net gelees het.
Jesus en Sy dissipels het ook gedoop.

JHN3:22 ’n Bietjie later het Jesus en sy dissipels weer van Jerusalem af weggegaan maar hulle het in die gebied van Judea gebly en mense gedoop.

So, moet nie glo dat die doop nie regtig nodig is nie.
God doen nooit iets wat onnodig is nie en Jesus is ook God.

JHN 1:1-5
Die Woord was van altyd af daar. Hy is die Seun van God wat by God was en wat self ook God is.
2Dit is Hy wat van altyd af saam met God was 3en dit is deur Hom wat God alles geskep het. Daar is niks—nie ’n enkele ding—wat nie deur Hom gemaak is nie. 4Hy besit lewe en kan lewe gee. Dit is hierdie lewe wat vir mense lig gebring het. 5Sy lig skyn in die donker, en die donkerte kan dit nie uitdoof nie.

Dan ook, jy kan mense net doop deur onderdompeling as daar tot jou beskikking ‘n plek met genoeg water is.

JHN 3:23 Johannes was ook nog besig om mense te doop by Enon naby Salim waar daar baie water was.

Nog net een iets oor die doop wat ek jou wil wys:
My hele lewenswandel as Christen bestaan daaruit om Christus so getrou en nougeset as moontlik te volg.
Jesus leer my dan ook en ek kon baie voorbeelde uitgewys het maar soos my gewoonte is, probeer ek terwille van die tyd wat jy het om te lees wat ek vir jou stuur my tot twee te beperk.

MAT 10:38 As iemand nie gewillig is om sy kruis te dra soos iemand wat ter dood veroordeel is en agter My aan te kom nie, is hy nie werd om my volgeling te wees nie.

MRK 8:34 Jesus roep toe al die mense wat daar was saam met sy dissipels nader en sê vir hulle: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy eie belange prysgee en die kruis dra soos ’n mens wat ter dood veroordeel is en saam met My kom.

Lees gou hier hoe wys Jesus my die weg in verband met die doop:

MAT 3:13-17 Jesus het ook in daardie tyd van Galilea af by die Jordaan rivier aangekom om deur Johannes gedoop te word. 14Johannes wou Hom ompraat om daarvan af te sien: “Dit sou die regte ding wees as U vir my doop,” het hy vir Jesus gesê, “maar nou kom U na my toe en vra dat ek U moet doop!”
15Jesus se antwoord was: “Laat dit nou so gebeur, want op die manier doen ons alles wat God wil hê.” Johannes het toe ingestem.
16Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik weer uit die water uitgekom. Toe gaan die hemel oop, en Jesus sien hoe die Gees van God soos ’n duif afkom tot by Hom.
17Toe kon daar ook gehoor word hoe ’n stem uit die hemel sê: “Dit is my Seun wat Ek liefhet en oor wie Ek bly is.”

Ek kon nog meer gesê het, byvoorbeeld, oor die verskillende maniere van onderdompeling en alhoewel ek mense nie sal doop soos wat baie mense wel doop nie, is vir my die heel belangrikste dat die persoon, hom of haar bekeer en dan die stap neem om gedoop te word.

Onthou ook, dat elke persoon wat Jesus ooit in Sy wandel op aarde na Hom geroep het, het Hy in die openbaar geroep.

As jy besluit om jou te laat doop, sê jy aste ware ook in die openbaar eintlik:
“Jesus het my genooi om Hom te volg en hier gaan ek nou agter Hom aan.”

Ek hoop ek kon vir jou lig wys wat hierdie baie belangrike saak aanbetref.

Groete,
Sakkie