OOR DIE ONTSTAAN VAN DIE VERSKILLENDE VOLKE UIT DIE MENSERAS

OOR DIE ONTSTAAN VAN DIE VERSKILLENDE VOLKE UIT DIE MENSERAS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek sal graag wil weet waar kom al die nasies van die Bybel vandaan?“

Ek reken dat die persoon eintlik maar wou weet waar kom alle nasies, ook die wat nie in die Woord genoem word nie, vandaan.

Die eenvoudige antwoord sal natuurlik wees:
“Van God af.”
Want, alle mense is deur God geskape en nie alleen is elke mens deur God geskape nie maar God het ook elke mens na Sy Beeld geskape.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Ek dink egter, dat die persoon eintlik wil weet hoe die verskillende volke met hulle onderskeie unieke kenmerke ontwikkel het.

Hier is dan hoe ek met my menslike verstand hierdie saak verstaan.
Die eerste wat ek verseker weet, is dat alle volke uit Noag en sy drie seuns ontstaan
het.

GEN 9:18  En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän.
GEN 9:19  Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.

As jy nou Genesis 10 gaan lees, kry jy, as ek nou reg is, ‘n lys van omtrent 70 volke
wat uit hierdie familie ontstaan het maar natuurlik is dit nie al die volke wat al ooit
bestaan het en wat nou op hierdie oomblik bestaan nie.
Volke het gekom en volke het gegaan.
Die twee jongste volke op die oomblik op aarde waarvan ek weet, wat nadat die
Woord geskryf is ontstaan het, is die Amerikaners van Noord-Amerika en dan
natuurlik ons, die Afrikaners van Suid-Afrika, wat natuurlik ook na my kennis die
jongste volk op aarde is.

In Genesis 11 sien ons dat ons Here die mense oor die aarde verstrooi.
Ons lees onder andere:

GEN 11:6-8 
6  En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.
7  Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.
8  So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi;

Met ander woorde, soos ek die Woord verstaan, was daar aan die begin net hierdie
een volk waaruit die menseras bestaan het.
Soos wat die groepe uit hierdie een volk uit mekaar beweeg het, was hulle
genoodsaak om onder mekaar te trou en omdat die ‘gene poel’ nou baie kleiner was,
het met die ondertrouery sommige sterk gene in daardie groep meer na vore gekom en
swakker gene het minder uitgestaan en soms selfs heeltemal verdwyn.

So het groepe wat mettertyd ander dialekte begin praat het, wat later in ‘n heel nuwe
taal ontwikkel het, saam met hulle unieke uiterlike, tot nuwe volke gelei.

Uiteindelik egter, is daar wat ons Here aanbetref, soos ek dit verstaan, wat die mens
aanbetref, net een ras, die menseras, waarvan Hy elke lid na Sy beeld geskape het.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Só lief het ons Here elke lid van hierdie menseras, wat Hy na Sy beeld geskep het, dat
Hy Sy seun gestuur het, om vir die hele menseras wat oor die hele wêreld as
verskillende volke versprei is, se sonde te sterf. 

Sodat elke lid van hierdie menseras,hoe haar/sy uiterlike ook lyk en watter taal sy/hy ook al praat, as sy/hy Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker, by Hom in die Hemel kan wees.

JHN 3:16-18 
16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Nou, omdat ek my bekeer het en Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker,
kyk ek om my en ek sien alle mense as potensiële dissipels van Jesus.
Nou probeer ek na die beste van my vermoë, dat die volgende in my lewe gestalte kry.

KOL 3:9-17 
9   Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
12  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
15  En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
                 

Groete,
Sakkie