OOR DIE VROU IN DIE HUWELIK

Oor die vrou in die huwelik

Sakkie Parsons

Ek wil begin met iets wat ek gesê het, toe ek oor die man in die huwelik geskryf het.

Daar is ‘n gesegde wat na my mening nie waar is nie en wat baie mense altyd kwoteer, so ek moet aanneem dat hulle dit ook toepas – en dit is dalk ook hoekom huwelike so gou tot nuut gemaak word.

Die gesegde word in een of ander variasie altyd so gekwoteer:

“Die huwelik is ‘n kwessie van gee en neem.”

Vir my is dit een van die sprekende voorbeelde van satan se vermoë, om met ‘n gruwelike leuen so na aan die waarheid te kom, dat die vieslike leuen eintlik na ‘n baie mooi waarheid lyk.

Ek sê vieslike leuen, omdat daar net eenvoudig nie iets soos ‘n mooi leuen is nie.

Jy sien, ‘n kind van God gee nie sy liefde of toegeneentheid, met die doel om iets in ruil daarvoor te ontvang nie.

My liefde vir my vrou, wie nou by Jesus is,  was onselfsugtig en onvoorwaardelik.

As iemand my vra hoe ek die huwelik in die verband sien, antwoord ek altyd as volg:

“Die huwelik is nie gee en neem nie.  Die huwelik is gee, en wees dankbaar vir wat jy ontvang.”

As ek gee, en dankbaar is vir wat ek van my vrou ontvang – en sy gee, en sy is dankbaar vir wat sy ontvang, het jy ‘n huwelik vol van die regte soort liefde.

Want – albei gee al die tyd en albei is dankbaar al die tyd teenoor ons Here en teenoor mekaar vir sy/haar huweliksmaat.

Ek gaan nou iets sê en ek weet dat baie vroue wat dit lees, se nekhare onmiddellik gaan rys en alhoewel dit nie so behoort te wees nie, want dit is soos dit in die Woord geskryf staan, vra ek asseblief, verdra my tog vir ‘n rukkie.

Daar staan dit in die Skrif:

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

Die eerste ding wat ek jou wil smeek om nie te doen nie –

Moet asseblief nie sê dat dit nie meer vandag van toepassing is nie, soos wat baie mense met so baie dele van die Skrif in hierdie laaste dae maak nie, want soos alles in die Skrif, is dit vandag nog net so relevant soos toe ons Here dit laat skryf het.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

HEB 13:9 Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …

So, daar staan dit geskrywe, op wit en swart.

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

Ek dink die rede waarom hierdie gedeelte uit ons Here se Woord by baie Christene ongewild geword het, veral by vroue maar nie net by vroue nie,  en dit is klaar iets baie verkeerd, want hoe kan ‘n deel uit die Woord by ‘n kind van God ongewild wees?

Dit het, so dink ek begin by ‘n verkeerde vertaling van die Woord, reg daar aan die begin.

Lees gou hier.

GEN 2:18  Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.

Daardie woord “hulp” skep die indruk, van soos ons altyd praat van “die huishulp” en dit is beslis nie wat ons Here bedoel het nie.

‘n Nuwer Vertaling sê dit na my mening soos wat ons Here dit bedoel het:

GEN 2:18 Toe sê die Here God ook: “Dit is nie goed dat die mens so alleen is nie. Ek sal vir hom ’n maat maak wat hom kan help en wat by hom pas.”

My vrou was my maat en my maat is my gelyke maar as God gee, dan gee Hy net die beste en my maat se help is soos my regterhand.  Ek kan net eenvoudig nie sonder die hulp, of dan help waarmee sy my bystaan klaarkom nie.

Jy sien ons is presies dit wat ons Here bedoel het, ons is een.

GEN 2:24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Wat nou?  Daar staan dit…EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

As ek ‘n vrou gewees het, sou ek in ekstase uitgeroep het, wonderlik!

Jy sien –

Ek mag niks van my vrou verwag wat nie ons Here se goedkeuring wegdra nie en dit geld van die slaapkamer tot waar sy of ons, ons ook al bevind.

Want, daar staan dit geskrywe:

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

As ons Here dit nie van my vrou sou verwag wat ek van haar vra nie, hoef sy dit ook nie te doen nie.  Eintlik mag sy dit dan nie doen nie, want dan doen sy nie wat daar geskrywe staan nie.

As iemand dalk dink ek verstaan daardie gedeelte verkeerd, lees dan gou hier.

KOL 3:18  Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.

As dit nie voor God betaamlikis wat ek van haar verwag nie, mag my vrou dit nie doen nie, want dan is sy aan ons Here ongehoorsaam.

Ek dink by dit wat in die Woord staan, nog een van die groot redes waarom ons Here die man die hoof van die huis gemaak het, is terwille van orde.

Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:

“To many cooks spoil the broth.”

Daar is ook ‘n ander een wat sê:

“To many chiefs and not enough Indians.”

Een persoon, iemand moet in die huwelik voor loop en dit het op my as man geval om te doen.

Omdat ons Here die vrou so ‘n volmaakte maat vir die man geskep het, sien ek in elk geval in baie, indien nie die meeste suksesvolle huwelike, wat ek van weet, dat die man die leiding gee maar dat die vrou stilweg die stuurwerk doen.

So, my ondervinding is en ek behoort te weet, ek het saam met so ‘n vrou geleef.

Die ware Christen vrou het nie ‘n probleem met byvoorbeeld Efesiërs 5:22 en al die ander gedeeltes in die Woord wat daarby aansluit nie – en glo vir my daar is nog gedeeltes wat hierdie vers onderstreep.  Nee, dit het vir haar dieselfde waarde en waarheid as al die ander Skrif in die Woord en in haar hart glimlag sy, want sy weet wat sy weet en dit is dat sy in werklikheid, omdat sy een met haar man is, ook mede-leier is.

Ek wil jou nou ten slotte wys, watter geweldige hoë agting ons Here vir jou as vrou het.

Ons Here sê in Sy Woord dat daar niks groter as die liefde is nie.

1KOR 13:13  En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Die Woord sê ook van ons Here:

1JHN 4:8  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

Ek word in die Woord beveel om my vrou lief te hê.

EFE 5:25 Manne julle moet jul eie vroue liefhê soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

Ek word deur God beveel om my vrou lief te hê.

As iemand wat gesag oor my het vir my ‘n bevel gee, beteken dit dat ek nie ‘n keuse gegee word nie.  Met ander woorde ek moet daardie bevel uitvoer en as ek dit nie doen nie, is ek ongehoorsaam en dit het verseker dan onaangename gevolge vir my.

So, al ons mans wat getroud is, luister –

EFE 5:25 Manne julle moet jul eie vroue liefhê soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.

Let ook op, dat ‘n man net sy eie vrou mag liefhê soos ‘n man ‘n vrou, met alles wat daarmee gepaard gaan, mag liefhê.

EFE 5:25 Manne julle moet jul eie vroue liefhê soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

Ek sluit af, soos ek dit wat ek oor die man in die huwelik geskryf het, afgesluit het.

Ek dink, dat dit baie goed is om, van tyd tot tyd, veral as ek en my lewensmaat woorde gehad het, so ‘n bietjie stil te word voor ons Here en met Sy voorskrifte oor die huwelik in my hart , vir myself te vra:

“Is ek in my huwelik op hierdie oomblik besig om die rol te vervul wat ons Here van my verlang?

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.