OOR SELFMOORD

OOR SELFMOORD

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie gevra oor selfmoord.

As jy nou die begin van my skrywe lees gaan dit dalk vir sommige mense klink of ek mense wat selfmoord pleeg, onverwyld verdoem na die hel en dit sal nie heeltemal reg wees nie.  So, lees asseblief die hele skrywe aan jou.
Ek kyk so na selfmoord:
Eerstens wil ek sê dat selfmoord natuurlik sonde is.
Jy mag nie doodslaan nie.

EXO 20:13  Jy mag nie doodslaan nie.

Selfmoord is ook ‘n baie onnatuurlike ding om te doen.  Dit is heeltemal teen die mens se natuur, soos God ons geskape het.

Met dit in gedagte, is dit vir my baie insiggewend, dat feilik almal in die Bybel wat ons van lees wat selfmoord gepleeg het, eintlik volgens normale standaarde almal op die ergste gladnie meer soos ‘n normale mens gefunksioneer het nie.  Hiermee sê ek nie dat alle mense wat selfmoord pleeg, boos was of buite hul verstand was nie maar ek wys uit dat in die gevalle waarvan ons uit die Woord lees, dit wel die geval was.

Die enigste een van wie ons nie weet of hy ‘n (om dit baie lig uit te druk) nie ‘n sielkundige probleem of ander afwyking van die normale gehad het nie, was Saul se wapendraer maar dan ons weet niks van hom, of na hierdie, of na daardie kant toe nie.
Hier is ‘n paar voorbeelde van wat ek werklik bose mense noem, wat selfmoord gepleeg het.

1SAM 31:4  En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin.

2SAM 17:23  En toe Agitófel sien dat sy raad nie opgevolg is nie, saal hy die esel op en maak hom klaar, en hy het na sy huis in sy stad gegaan en aan sy huis bevel gegee en homself gewurg. So het hy dan gesterwe; en hy is begrawe in die graf van sy vader.

1KON 16:18  Net toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning bo-op hom aan die brand gesteek, sodat hy gesterf het,

Die volgend skrif praat van Judas wat Jesus verraai het.

MAT 27:5  En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.

Ek sê verseker nie, dat iemand wat selfmoord pleeg inherent boos is nie maar ons mag ook nie iets wat baie verkeerd is nou afwater tot iets wat, nou ja nie goed is nie maar darem ook nie so sleg soos moord is nie.  Dan kom ons op die punt, waar ons begin deel wees van waarteen die Woord ons ook baie duidelik waarsku en wat in baie denominasies reeds op die een of ander wyse na vore kom en as Evangelie verkondig word:

JES 5:20  Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.

Ek luister nou eendag na ‘n program oor die TV en hulle gesels met ‘n sielkundige oor selfmoord en hy sê toe:
“Ek verkies om nie van selfmoord te praat nie.  Ek verkies om van selfdood te praat.”
Toe dink ek oor iets wat ek oor die nuus ‘n dag of wat van tevore gehoor het.
‘n Polisieman het sy vriendin met ‘n ander man betrap en toe skiet hy haar dood en toe homself.

Wat sal ons dan nou sê?
Het hy nou eers moord en toe selfdood gepleeg, of het hy twee mense doodgemaak, met ander woorde ‘n dubbele moord gepleeg.

Ek weet ons is nie onder die wet van Moses nie en daarom as iemand met my iets uit die Ou Testament deel en dit op ‘n Christen wil van toepassing maak, gaan kyk ek eers of daar iets in die Nuwe Testament ook so iets vir die Christen geskryf is.  Want die Nuwe Testament is presies dit, ‘n Nuwe Testament, wat ons Here vir Sy kinders opgestel het en laat skryf het.

HEB 8:13  As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.

Tog is die Ou testament nog steeds vir ons belangrik.  So belangrik, dat Jesus en Sy dissipels, onder andere my groot held Paulus dikwels daar uit kwoteer het.
So ek lees in die Ou testament:

EXO 20:13  Jy mag nie doodslaan nie.

Dan kom ons Here in die Nuwe Testament en Hy onderstreep dit wat jy nou gelees het, in nog sterker taal, as hy vir ons laat skryf:

1 KOR 6:19 Of verstaan julle nie dat julle liggame 'n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort
nie aan julleself nie,
1 KOR 6:20 want julle is teen 'n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

In hierdie volgende gedeelte praat Paulus eintlik van die gemeente in geheel maar met dit wat jy nou net gelees het, in gedagte en die feit dat ‘n ouer vertaling dit so stel, dat jy dit op jou eie liggaam van toepassing kan maak, dink ek dat ek dit ook so mag doen.

1 KOR 3:16 Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie?
1 KOR 3:17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel.

In die ouer vertaling waarvan ek praat, lees hierdie gedeelte so:

1KOR 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
1KOR 3:18  Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;

As iemand vir wie ek baie lief is nou selfmoord pleeg mag ek nie daardie daad mooier maak as iemand wat iemand anders se keel afsny nie.
Dit is soos om ‘n verpakking waarin daar dodelike gif is se naam toe te plak en op die nuwe plakkertjie, lekkernye vir kinders te skryf.

Die moordenaar van wie ek jou hier bo vertel het, wat toe selfmoord gepleeg het.
Sal ons nou van ‘n dodenaar wat selfdood gepleeg het praat?
Ek luister nou een Sondagaand na ‘n program oor RSG en ‘n dominee van een van ons christen denominasies, sy is ook ‘n professor praat van ‘n buite-egtelike kind as ‘n voorkind.
Kan jy sien hoe maak ons al hoe meer die evangelie van Jesus bespotlik?
Gaan ons nou van ‘n buite-egtelike verhouding begin praat as ‘n voor verhouding?
Ek wil net noem, dat ek elke kind wat op watter wyse ook al verwek is, presies soos ek my eie kinders sien.  Hulle is kinders, wonderlike skeppings van ons Here.

Terug by selfmoord.

Persoonlik kan ek my nie indink dat ‘n mens wie se saak reg is met ons Here, met ander woorde, iemand wat ‘n werklike liefdesverhouding met ons Here het, sal wil selfmoord pleeg nie.
Vir iemand wat wil selfmoord pleeg wil ek sê en glo vir my, ek weet waarvan ek praat.  Ek moes in my lewe al ‘n paar diep en donker kuile deur swem maar ek het altyd ons Here vas gegryp en geklou vir al wat ek werd was en elke keer as ek anderkant uitgekom het en ek kyk terug, kon ek maar net in groot verwondering uitroep.
“Wow   !!!  “Wat ‘n God is die Here van die heelal nie, en ek het die genade om aan Hom te behoort!!!
Ek is Sy kind.
Want, daar staan dit geskryf:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Vir iemand wat dink ek weet nie wat dit is om op daardie plek te wees waar iemand is wat selfmoord oorweeg nie, deel ek in baie kort net twee van baie meer voorbeelde uit my eie lewe en ek weet ek het dit al in die verlede ook gebruik maar glo my dit was skrikwekkende tye.
In 1997 ontdek hulle melanoom kanker by my en op my vraag wat my kanse is, sê die dokter, dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 en as ek gelukkig is 6 maande om te lewe.
Dit was erg maar was toe eintlik niks in vergelyking met die laaste 9 jaar van my vrou se lewe nadat hulle dimensie by haar gediagnoseer het nie.
Vir die laaste 7 jaar van haar lewe het ek elke dag na haar in die tehuis waar sy gewees het gestap en die stadige agteruitgaan van haar belewe.
Ek het soms so gehuil, dat my keel toegetrek het en ek nie kon asemhaal nie.
Vandag kyk ek terug na daardie skrikwekkende vol wanhoop jare en ek staan in verwondering van hoe ons Here my daar deur gedra het.

Ek wil vir iemand wat selfmoord oorweeg, die volgende sê:
Jy het nie nodig om moord “selfmoord” te oorweeg nie, want Sy Woord sê.

LUK 1:37  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Waarom sal ek byvoorbeeld nie so ‘n dwase stap soos selfmoord, met ander woorde, moord oorweeg nie?
Want, ek gaan nie na satan luister, wat my teen ons Here wil draai nie.

DEUT 5:17  Jy mag nie doodslaan nie.

Ek gaan verseker ook nie as gevolg van my optrede, vir my geliefdes ‘n nalatenskap los wat ‘n negatiewe invloed op hulle vir jare en jare kan hê nie.  Want, ek weet daar staan ook geskryf.

FIL 2:3  Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
FIL 2:4  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.

Nou nadat ek dit alles geskryf het, is daar nog een ding wat ek baie duidelik moet uitwys.
Geen selfmoordenaar gaan hel toe net omdat die persoon selfmoord gepleeg het nie.
Dieselfde geld vir byvoorbeeld ‘n verkragter en ander sondaar soos ek en al die ander sondaars om my.
Want wat die Hemel se deure vir my oopmaak is net dit:

Het ek Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker?

As ek dit gedoen het, staan daar van gewone mens soos ek met al my swakhede geskryf:

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

As ek Hom nie aangeneem het nie, dan, selfmoord of nie selfmoord nie, is ek ‘n kandidaat vir die hel.

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Hoe kan ek wat ‘n kind van ons Here is moord op myself oorweeg?  Terwyl ek weet:

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Nee! Ek neem al my laste en doen daarmee wat daarmee gedoen moet word.

1PET 5:7  Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

So as selfmoord by jou opkom, onthou dan en moet nie ‘n gewillige prooi wees nie.

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Dan herinner jy jouself en tree dan as volg op:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

As jy wat nou hier lees onseker is of jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, weet dan, dat jy Hom nog nie aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.

Ten slotte, om dan op te som hoe ek na hierdie saak kyk:

Selfmoord is ‘n gruwelike selfsugtige boosheid en ek dink nie ‘n ware kind van God sal, nee, eintlik moet ek seker sê, behoort dit te oorweeg nie maar selfmoord, moord, egbreek ens. op sigself is nie wat my in die hel laat beland nie.

As ek nie vir Jesus aanneem as my Verlosser en Saligmaker nie, dan is ek verseker nog op pad hel toe.  Dit is wat my verseker in die hel sal laat beland.

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Groete,
Sakkie