OOR SKINDER

OOR SKINDER

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

Wanneer is dit wat jy van iemand gaan sê skinder en wat sê die Bybel oor skinder?”

Dit is hoe ek dink ‘n Christen na hierdie saak moet kyk:

Voordat jy jou mond oopmaak en begin praat, vra jouself die volgende drie dinge af:

Eerstens, is dit wat jy nou gaan sê, iets goed of mooi van die persoon.

Tweedens, is dit wat jy nou gaan vertel, tot voordeel van die persoon van wie jy dit gaan vertel.

Derdens, is dit wat jy nou gaan sê verseker die waarheid.

As dit wat jy nou gaan sê nie aan al hierdie kriteria voldoen nie, gaan gou waar jy alleen kan wees en praat eers met ons Here oor die saak.  Want, ek ‘n volgeling van Jesus mag nooit iets sleg of lelik van iemand anders kwytraak nie.

Ek wil selfs sover gaan deur te sê, al sou dit die waarheid wees en dit is nie tot nadeel van die gemeenskap om jou, as jy liewer sou swyg nie.  Swyg dan liewer en bid daaroor.

Spr 11:12  Om neerhalend van ander te praat, getuig van dwaasheid.

’n Verstandige mens sal eerder stilbly.

Spr 11:13 ’n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime.

Die Ou Vertaling stel dit so:

Spr 11:13  Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak.

Hoe ook al, voordat jy praat, onthou wat Jesus gesê het:

Mat 12 :35 ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

Mat 12: 36 Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

Mat 12: 37 Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Onthou ook wat daar op ‘n ander plek geskryf staan:

JAK 4:11  Moenie lelike goed van mekaar sê nie, liewe broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan sê julle eintlik lelike dinge van die wet van God en kritiseer julle dié wet.  Julle is tog nie regters wat kan besluit of die wet reg of verkeerd is nie.  Julle taak is om te dóén wat die wet voorskryf, nie om daaroor te oordeel nie.

JAK 4:12 Net God – Hý wat die wet gemaak het – kan as Regter oor ons optree. Net Hý het die mag om te verlos of te vernietig. Dit is dus baie duidelik dat julle nie regter oor julle naaste kan speel nie.

Van watter wet vir die Christen word hier gepraat?

Mat 22:36-40  

36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Hoe tragies is dit nie, dat belydende Christene soms toelaat, dat hulle tonge uit die hel beheer word.

JAK 3:5  So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

JAK 3:6  Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan.

Die Ou Vertaling stel dit so:

JAK 3:6  Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.

Ek sal mos nie oor myself skinder nie.  Nou waarom sal ek as Christen dan aan iemand anders iets doen wat ek nie aan myself gedoen wil hê nie?

As jy werklik oor iemand wil praat, doen dit op jou knieë, omdat jy onthou:

Mat 6:6  Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Ek sluit af met hierdie goeie raad uit die Woord.

Spr 20:19  Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.

In ‘n nuwer Vertaling lees hierdie vers as volg:

Spr 20:19  ’n Mens wat stories verkoop, kan nooit ’n geheim hou nie en daarom moet ’n mens nie maats maak met iemand wat alles uitlap nie.

Groete,

Sakkie