OP ‘N DAG TOE DIE SEUNS VAN GOD KOM OM HULLE VOOR DIE HERE TE STEL

OP ‘N DAG TOE DIE SEUNS VAN GOD KOM OM HULLE VOOR DIE HERE TE STEL

Sakkie Parsons

Iemand het aan my die volgende geskryf:
“In Job 1 vers 6 en Job 2 vers 1 praat die skrywer van die seuns van God ( nuwe vertaling praat van die hemel wesens) wat voor die Here kom staan het en die satan was ook een van hulle.”
Dan vra die persoon:
“Van wie word hier gepraat?”

Laat ek net eers weer iets verduidelik voordat ek sê hoe ek na hierdie saak kyk.

Elke mens wat die Woord lees, lees die Woord met ‘n sekere bril, wat hy/sy mee wil lees.
Omdat ek die Woord verkondig met die oog daarop om so veel as moontlik mense in ‘n regte verhouding met ons Here te kry, is daar dinge waaraan ek nie baie aandag gee nie.  Nie omdat dit nie belangrik is nie maar omdat daar vir my in my mensheid dinge is wat net meer belangrik is.
My hele uitkyk in die verkondiging van die Woord kan in die volgende woorde van my groot held Paulus saam gevat word:

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Dit gesê, behoort ons ook met ‘n antwoord gereed te wees as iemand ons met ‘n vraag
nader, al het dit nie werklik invloed op my liefdesverhouding met ons Here nie.

1PET 3:15  Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

Hier is dan nou hoe ek na hierdie gedeelte kyk en ek kwoteer hier net die een gedeelte
uit Job omdat dit vir my antwoord genoegsaam is:

JOB 1:6  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
JOB 1:7  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.

Dit is natuurlik nie die eerste  keer wat ons van die Seuns van God in die Woord lees
nie en na my mening, as ‘n mens die eerste keer onthou, is dit nie so moeilik om te
sien wie die seuns van God in Job is nie.
So, kom ons kyk gou eers na die eerste keer:

GEN 6:2  sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.

GEN 6:4  In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.

Die Woord sê nie vir ons ronduit wie hierdie seuns van God gewees het nie en dit is dan ook hoekom sommige vertalers in Job se geval van engele praat en ek is ook van mening dat die engele van ons Here wat ons in Job van lees nie dieselfde gevalle engele van Gen 6 is nie, omdat na my mening hulle in gevangenis geplaas was, anders sou hulle dieselfde mos net weer oor en oor kon doen.

2PET 2:4  Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;

As iemand dalk wil noem dat ek nou 2PET 2:4 uit verband kwoteer, wys ek net
daarop, dat dit baie interessant en insiggewend is, dat net nadat ons Here in Sy Woord
vir ons vertel van die vergryp van die seuns van God in Gen 6, Hy ook die verdelging
van die aarde met water aankondig en net nadat ons 2PET 2:4 lees, lees ons ook:

2PET 2:5  en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het;

Kom ons kyk dan nou gou weer na Job 1:6-7:

JOB 1:6  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
JOB 1:7  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.

As ek vers 6 lees, kry ek die indruk dat satan en die seuns van God wat voor ons Here
verskyn het, nie daar was omdat hulle so graag daar wou wees nie maar dat hulle
aangesê was om daar te wees om, so lyk dit vir my, verslag oor hul doen en late te
gee.

JOB 1:6  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.

Ook as ek vers 7 lees, hoor  ek aste ware:
“Toe satan gee verslag.”

JOB 1:7  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? …

Hoekom ons Here wat alles weet, hulle aantree weet ek nie, ek weet net daar is ’n baie
goeie rede en hoekom ons Here in Sy Woord hulle na alles nog steeds Sy seuns noem, weet ek ook nie maar daar is verseker ‘n baie goeie rede, wat eendag vir ons glashelder sal wees.

Hierdie een ding weet ek egter verseker –
By die oordeel sal die wêreld en satan en al sy demone, om dit so te stel, met ‘n
ander God te doen kry.

MAT 3:12  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

MAT 13:41-43 
41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,
42  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
43  Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

Groete,
Sakkie