ORGAANSKENKING – SOOS JULLE WIL HÊ DAT DIE MENSE AAN JULLE MOET DOEN

ORGAANSKENKING –
“SOOS JULLE WIL HÊ DAT DIE MENSE AAN JULLE MOET DOEN”

Sakkie Parsons

Oor die onderwerp waaroor ek nou met jou gaan deel net die volgende: As daar nou Christene is wat nie glo om dit te doen nie, hoef hulle natuurlik nie skuldig te voel nie, want, soos ek sal verduidelik, nêrens in die Woord is daar ‘n voorskrif wat opsigtelik vir ons sê, dat dit van ons verwag word nie.

Tog dink ek dat dit iets baie edel is om te doen en ek dink dat daar veral een gedeelte in die Woord is, wat kort en kragtig vir my persoonlik sê, dat ek reg is in my redenasie oor hierdie saak.

Iemand stuur aan my ‘n baie mooi skrywe waarin die persoon my, my opinie oor orgaanskenking vra.  Die persoon skryf onder andere:

“Ek wil nie teen my Heer se wil so iets doen nie want dit was Hy wat my toevertrou het met ‘n gesonde liggaam, wat ek Hom al die lof en eer gee!!! Maar ek voel, na my dood het ek in elk geval nie hierdie verganklike liggaam nodig nie, want ek sal dan in my onverganklike liggaam wees.”

Dit is wat ek nou noem:
“’n Pragtige, onselfsugtige, oopkop en veral liefde vir my medemens-manier om na hierdie saak te kyk.

Die eerste wat ek myself natuurlik altyd in wat ook al vra, is:

“Wat sê die Woord?”
Die antwoord is dan natuurlik, in hierdie geval, soos ook in baie ander gevalle, die Woord sê niks direk nie, bloot omdat so iets, in die tyd wat die Woord deur ons Here aan ons gegee was, eenvoudig nie bestaan het nie, maar soos ook in baie ander soortgelyke dinge, is daar, so glo ek, wel ‘n antwoord in die Woord vir ons.

Kom ons kyk eers net gou weer wat sê die Woord van ons liggame en ek gee terwille van die lengte van hierdie skrywe net twee voorbeelde:

2KOR 5:1  “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”

My liggaam is nie ek nie.  My liggaam is soos ‘n woning waarin ons Here en ek woon en as ons Here en ek my tentwoning verlaat het, bly my tentwoning agter, wat dan verder afgebreek word.  Dan sê die Woord van my liggaam, of dan stoflike oorskot soos ons ook daarvan praat:

GEN 3:19  “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Waar kry ek hierdie (kort en kragtige) stelling waarvan ek praat, uit die Woord wat vir my sê, dat dit ‘n hoog prysenswaardige en Christelike ding is om te doen?

LUK 6:31  “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

Ek weet bloed skenk, is nie orgaan skenk nie, maar ek wil tog iets interessant noem
wat ek nou eendag gehoor het. Ek hoor nou eendag oor die radio, dat die meeste bloed wat byvoorbeeld geskenk word, vir dames wat geboorte skenk, gegee word.
Ek kan my nie indink hoe ek sou voel as my vrou moes sterf omdat daar nie vir haar bloed was, toe sy geboorte geskenk het nie.

Ek het dit al belewe dat iemand wat ek baie goed geken het, gesterf het omdat daar nie ‘n nier vir die persoon beskikbaar was nie.

Ek sou natuurlik ook nie omgegee het as die medici al so vêr gevorder het, dat hulle ‘n oog oorplanting op my kon doen nie.

Ek het ‘n man geken wat nie eens wou hê dat sy vrou of kinders na ‘n dokter toe moes gaan as hulle siek was nie. Hy het baie dapper godsdienstige uitlatings gemaak, oor hoe hy sou optree as hy siek word, want hy was ‘n baie gesonde mens. Tot die dag dat die “pawpaw” die “fan” geslaan het en hy met nierstene gesit het. Toe sing hy amper huilend ‘n heel ander deuntjie.

So, as iemand wat hierdie skrywe lees, my, en mense wat soos ek redeneer, wil kruisig, dink daaraan dat jy, of een van jou geliefdes, dalk ook eendag in ‘n hospitaal kan lê en bid dat daar tog êrens, iemand sal wees wat besluit het om aan andere te doen soos sy/hy graag sou wou hê dat daar aan haar/hom gedoen moet word.

Jare gelede sit ek en die dokter wat baie jare my dokter was, en gesels. Ek sê toe vir hom dat ek gelees het dat die gemiddelde ouderdom van mense in Jesus se tyd, 27 jaar was. Ek vra hom toe of dit moontlik was. Hy sê toe vir my dat dit absoluut so was en hy sê toe hy sal dit vir my bewys.

Hy neem toe my gesin se lêers en kyk daar deur en toe sê hy vir my: “Daardie tyd het mense na verloop van tyd gesterf as hulle blindederms moeilikheid gegee het. Daardie tyd het mense na verloop van tyd gesterf as hulle mangels sleg geword het.” Hy noem toe nog so een en ander wat hy in ons lêers sien en sê toe vir my: “Sakkie, volgens hierdie lêers, sou jou gesin in Jesus se tyd almal voor die ouderdom wat jy nou is, uitgesterf het.”

Ek luister ook nou die dag na Discovery en toe sê hulle daar, dat in die Romeinse tyd, 50% van die kinders in Europa nie hulle tienerjare oorleef het nie.

Ek het al gewonder of dit nie ‘n goeie ding sou wees, as hulle ‘n wet inbring wat dit so sal stel: “Tensy jy nie ‘n duidelike instruksie nalaat dat jou liggaam nie vir orgaanskenking beskikbaar is nie, jy outomaties ‘n orgaanskenker is, as jy sterf.”

Persoonlik is ek baie dankbaar teenoor ons Here vir dit wat die medici vandag kan doen, terwyl ek onthou:

LUK 6:31  “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.“
                 

Groete
Sakkie