PORNOGRAFIE – HELP, EK IS VERSLAAF

PORNOGRAFIE – HELP, EK IS VERSLAAF.

Sakkie Parsons

Iemand het my by geleentheid gevra om iets oor pornografie te skryf, wat ek toe ook gedoen het.

Toe kry ek ‘n aangrypend eerlike brief van iemand wat aan pornografie verslaaf is en daardie gedagte uit die Woord van my gelees het en my vra of ek nie kan help met raad hoe om daarvan ontslae te raak nie.

Hier dan is my antwoord aan die persoon, wat ek ook met jou deel:

Die eerste wat ek altyd doen as iemand ‘n vraag aan my stuur, is om te kyk wat die Woord oor die onderwerp sê. As ek die Woord reg verstaan, en om dit so lig as moontlike uit te druk –  pornografie is vir ons Here walglik/afstootlik. Byvoorbeeld, ons Here sê:

MAT 5:28  “Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.”
 

Is dit nie presies wat ek doen as ek na pornografie gaan kyk nie?

Nou moet ek ook nie sommer so ligtelik oor die woord ‘egbreuk’ lees nie. Wat behels egbreuk?

Alles wat ons Here, wat seks aanbetref, verfoei. As ek egbreuk pleeg, is ek ontrou aan my lewensmaat en ek hoereer. Dit is uiteindelik presies wat ek doen as ek na pornografie kyk. As jy dit sny tot op die been – dan – wat ons Here aanbetref soos jy gesien het – pleeg ek egbreuk.  Ek is ontrou aan my lewensmaat en ek hoereer:
Die Ou Vertaling stel dit so:

MAT 5:28  “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”

Nou gaan ek ‘n geweldige stelling maak: Volgens wat ek in die Woord lees en dit geld natuurlik vir ‘n legio ander dinge ook, maar ek deel hier met pornografie.
As, om na pornografie te kyk en dit dan ook te geniet, nié vir jou persoonlik ‘n probleem is nie, en ek beklemtoon as dit nie vir jou ‘n probleem is nie, met ander woorde – jy sien niks verkeerd in daardie gedeelte van hoe jy lewe nie, het jy ‘n geweldige groot probleem. Jy het letterlik ‘n helse probleem. Want sien, van een ding kan jy geheel en al seker wees : Jy is nog nie ‘n kind van ons Here nie. Anders gestel: Jy is nog verlore en op pad na die hel. Lees hier:

1KOR 6:9  Besef julle dan nie dat mense wat ‘n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?  Moenie julleself bluf nie.  Mense wat ‘n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, 10diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een va hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Ek haal vers 10 ook aan uit die Ou Vertaling:

1KOR 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”

Hier het ek nou uit die Woord vir jou 10 lewenswyses gekwoteer, wat – as dit jou manier van lewe is, en dit nie vir jou ‘n probleem is nie, jy dan ongered is. Volgens die Woord wat jy nou gelees het is jy dus op pad hel toe en 4 van daardie lewenswyses kan met pornografie geassosieer word.

Kan jy sien hoe verskriklik verfoeilik is pornografie, volgens die Woord vir ons Here? Geen wonder dat satan dit reggekry het om volgens sommige mense, dit die mees populêre soort webtuistes op die Internet te maak nie.

Onthou nou dat ek hier eintlik met iemand deel vir wie pornografie ‘n vieslike probleem in haar/sy lewe is.
Vir jou wat tot hier gelees het en vir wie pornografie nie verkeerd is nie en ‘n probleem is nie wil ek graag sê:
Ek hoop werklik dat dit na dese tog vir jou ‘n probleem sal word, want die Woord sê weer vandag vir jou en – as die Woord dit sê – praat die Woord ook van alles wat vir ons Here verfoeilik is, soos ook pornografie:
 

2PET 2:21 “Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif wat aan hulle oorgelewer is.
2PET 2:22 Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy braaksel toe." En "'n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol."

Vir jou wat van pornografie in jou lewe ontslae wil raak, wil ek noem dat dit eintlik baie maklik is om van pornografie in jou lewe ontslae te raak.
Iemand sê nou dalk in haar/sy hart: “Sakkie jy weet nie waarvan jy praat nie.” Ek wil veral vir jou uitdaag en ja ek weet, ek het klaar uitgevind – Pornografie en alles wat daarmee gepaard gaan is die een ding wat daagliks deur die meeste mans en vrouens in die wêreld besoek word.

Volg al hierdie stappe en dan kontak jy my weer en vertel my of jy steeds dink dat ek nie weet waarvan ek praat nie.

Eers moet jy natuurlik vir Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker.  Want sien – sonder Jesus is jy ‘n verloorder, nog voor jy eens begin het:

JHN 15:5  “Ek is die druiwestok, julle is die lote.  Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Dan bely jy in werklike opregtheid al jou sonde aan ons Here, want hoe heerlik om te weet:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Besef dan weer opnuut dat seks, wat jou aanbetref, net vir jou en jou lewensmaat bedoel is en lewe so. My groot held Paulus skryf:

1KOR 7:1-4
1 “Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het.  Ja, 'n selibaat lewe is goed.
2 Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.
3 Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie.  Dit is haar reg, as getroude vrou.  Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie.
4 Met die huwelik het die vrou mede-seggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man mede-seggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.”

Onthou ook altyd, dat wat ook al tussen jou en jou lewensmaat in die huweliksbed plaasvind, moet vir albei geheel en al aanvaarbaar wees.

Dan doen jy ook hierdie praktiese stappe:

Gaan kry vir jou hierdie programme op die Internet as dit moontlik is, want ek weet nie of ‘n mens almal kan installeer en almal hulle werk doen nie, ekself is nie ‘n kundige op die gebied nie, maar sorg dat jy soveel van die programme as wat jy kan op jou rekenaar installeer en dat dit in werkende orde is:

www.PureOnline.com
www.BSafeOnline.com

Dan – en hierdie een moet verseker een van die programme wees wat jy aflaai en op jou rekenaar installeer, en jy moet die mense vir wie jy die meeste respek het en wie se mening oor jou doen en late jy die hoogste ag in jou lewe, deel van hierdie program maak. Die webtuiste se naam is: www.X3Watch.com

As jy dan webtuistes besoek wat met pornografie te doen het, sal hierdie program die mense wat jy op jou lys by hierdie program gevoeg het, verwittig dat jy daardie webtuistes besoek het.

As jy sou belang stel, hier is ook ‘n paar boeke wat jy vir jou kan aanskaf om te lees: Every Man's Battle: Winning the War on Sexual Purity One Victory at a Time by Stephen Arterburn;  Pure Freedom: Breaking the Addiction to Pornography by Mike Cleveland ;  The Game Plan by Joe Dallas.

Jy kan en sal die oorwinning oor hierdie, wat vir ons Here ‘n verfoeisel is, behaal as jy werklik wíl. Want jy hoor nog die Gees van ons Here wat in jou hart met jou praat en jou daarop wys dat dit wat jy doen báie verkeerd in die oë van ons Here is. Volg die aanwysings wat ek jou hierbo gegee het in opregtheid van hart en jy is ‘n wenner.

Ek sluit dan nou af met die volgende woorde van my groot held Paulus, wat jy gerus in groot letters kan neerskryf en êrens plaas waar jy dit gedurig kan sien, waar dit jou kan herinner aan hoe jy met ons Here se hulp besig is om jou lewe vir Hom te  verander – ook in jou sekslewe:

FIL 4:8  “Verder, broeders, (en susters) alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
NLV Vertaling:
FIL 4:8  Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

     

Groete
Sakkie