PORNOGRAFIE – WIL JY JOU EWIGE LEWE HIERVOOR PRYSGEE?

PORNOGRAFIE – WIL JY JOU EWIGE LEWE HIERVOOR PRYSGEE?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg.  Ek het net so hier en daar iets in die skrywe so effe verander om die skrywer anoniem te hou:

“Oom Sakkie ek probeer mans wat hulleself Christene noem, van wie ek weet, wat glo hulle mag vulgêre video’s en foto’s onder mekaar versprei daarop wys dat dit ernstige sonde is.
Ek benodig ‘n Woord of Vers om te wys wat my siening staaf.
Die meisies wat hul foto’s van stuur het wel dit gedoen omdat hul seker dit geniet maar ek voel ons liggaam is n tempel van God en jy durf nie sê jy is n gelowige en dit dan rondstuur nie.”

Ek kon aan die persoon se skrywe sien dat die persoon baie ontsteld en diep gekrenk was oor dit wat aan hom/haar gestuur word en vra hy/sy vir gedeeltes uit die Woord om te help om aan vriende en kennisse te wys hoe vernietigend dwaas hulle is en dit is dan nou wat ek gaan doen – maar eers die volgende:

Van die skrikwekkende statistieke wat jyself kan nagaan op die internet as jy jouself wil gewis, dat ek die waarheid praat, noem ek net na my mening, drie verskriklike aanslae deur satan met pornografie op die lewens van Christene, omdat ek aan Christene skryf.

Dit is baie insiggewend vir my, dat die een dag in die week waar daar die meeste na pornografie gekyk word Sondae is.  Die een dag wat Christene, om dit so te stel, eenkant sit om as gemeentes bymekaar te kom om dienste te hou tot eer en verheerliking van ons God en ons Verlosser.

Pornografie is nou die grootste vernietiger van ‘n ware Christen verhouding in die huwelik, wat met daardie soort egbreuk begin en dan uitkring na al die booshede daarom.

Jesus, ons Verlosser en Saligmaker sê:

MAT 5:28  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

Dan is daar die pandemie oor die wêreld maar veral hier in Suid-Afrika van gesinsgeweld en verkragting, waar ons beweer, dat soveel as 80% van die bevolking Christene is.
Mense so jonk as 14 jaar verkrag al.

Onthou, ek deel in hierdie skrywe met in die eerste plek Christene, mense wie hulleself Christene noem.

Kom ons kyk net gou na ons as Christene en enkele uitsprake uit die Woord wat jou en my en by name ons liggame aanbetref, wat ons in gedagte moet hou voor ons ‘n foto of iets van onsself of iemand anders oor die internet uitstuur:

1KOR 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

1KOR 6:15-20 
15 Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie?
Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer (na my mening kan jy hier in die plek van hoer ook pornografie lees) maak? Nee, stellig nie!

16  Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer (na my mening kan jy hier in die plek van hoer ook pornografie lees) aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees. (En dit is ek, terwyl ek pornografie geniet ook in my gees, met die pornografie wat ek voor my sien.)

17  Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

18  Vlug vir die hoerery. (Na my mening kan jy hier in die plek van hoerery ook pornografie lees) Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery (na my mening kan jy hier in die plek van hoerery  ook pornografie lees) bedryf (in hierdie geval in die fantasie in my gees met pornografie) sondig teen sy eie liggaam.

19  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. (wat jy nie kan doen as jy met pornografie besig is nie)

Luister:

ROM 6:16  Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?

Van jou en my wie werklik volgelinge van Jesus Christus is, van ons kan met reg van dinge soos onder andere pornografie gesê word:

ROM 6:17-19 
17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is,
18  en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.
19  Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.

Ons lees in die Woord ook:

1JHN 2:16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees (dit is ook deel van pornografie) en die begeerlikheid van die oë (dit is ook deel van pornografie) en die grootsheid van die lewe—(waarvan valsheid van my eie ek in pornografie deel is) is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Jy en ek is na God se beeld geskape en ons het baie dieselfde eienskappe as ons Vader.
Byvoorbeeld, soos my Vader het ek ‘n wil van my eie, dit is deel van my goddelike DNA.  Daarom lees ons:

1KOR 6:10-12 
10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders (ook deel van pornografie) of afgodedienaars (ook deel van pornografie) of egbrekers (ook deel van pornografie) of wellustelinge (ook deel van pornografie) of sodomiete (ook deel van pornografie) of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

11  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

12  (met my eie wil) Alles is my geoorloof, maar (met my eie wil weet ek) nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, (omdat ek my eie wil het) maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie. (ek gaan myself nie ‘n slaaf van byvoorbeeld pornografie laat maak nie)

GAL 6:7-8
7 Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai!
8 Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.

As ek reeds ‘n slaaf van pornografie is, gaan ek – omdat my lewe, my ewige lewe daarvan afhang, dadelik daaraan werk om daarvan ontslae te raak.

Kry hulp soos in onmiddellik.  Want anders gaan jy uiteindelik nie meer kan omdraai nie – gewoon omdat jy nie meer sal wil omdraai nie en dit jou ook nie meer gaan pla nie.

Lees die volgende met ernstige aandag en ondersoek jouself:

2PET 2:19-22 
19 Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.

20  Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.

21  Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.

22  Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

So, los hierdie booshede en draai terug na Christus, want uiteindelik kind van God, is dit die klipharde werklikheid van pornografie maar ook álle ander dinge waarmee satan ons as kinders van God vasvang:

Ek pleit by jou kind van God, moet nie moedswillig voortploeter in satan se drek nie. 

Ek smeek jou in die naam van Jesus Christus –  Moet nie moedswillig voortgaan om in satan se rioel rond te ploeter nie.  Want, sê die Woord:

HEB 10:26-29 
26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,

27  maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

28  As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;

29  hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

Want, as ek aanhou met daardie verkeerd in my lewe, kom daar ‘n tyd, dat jy so ver van ons Here af beweeg, dat jy nie meer Sy stem hoor nie en jy ook nie meer omgee of jy Sy stem hoor nie.

Uiteindelik as ek net aanhou en aanhou voortploeter in die verkeerd in my lewe, wat dit ook al is, kom daar ‘n tyd, sê die Woord, dat die volgende op my van toepassing word:

HEB 6:4-6 
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Onthou, dat ek hierdie skrywe rig aan elke kind van God wat hierdie skrywe lees. 
Jy wie Jesus Christus aangeneem het as jou verlosser en Saligmaker.
Ek het nie ‘n opdrag van ons Here af, om met mense te deel wat nié deel van Christus se Verlossing wil wees nie – 

Daarom sluit ek dan hierdie skrywe af met die volgende uit die kosbare Woord van ons Here aan elke volgeling van Jesus Christus.  Jy wie Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker:

1TIM 6:11-16 
11 Maar jy, man (en vrou) van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.

12  Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.

13  Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 14dat jy die gebod (Christelike opdrag van jou Christelike lewe/getuienis) onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die Salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here,16wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

Ek het nog meer oor hierdie onderwerp geskryf wat ek enige tyd kan aanstuur op jou bestelling naamlik:
Pornografie – Help ek is verslaaf
Oor Pornografie

Groete,
Sakkie