PROFESIEË AANGAANDE JESUS CHRISTUS IN DIE OU TESTAMENT

PROFESIEË AANGAANDE JESUS CHRISTUS IN DIE OU TESTAMENT

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n Naam gegee wat bo elke naam is.

Sakkie Parsons

Ek het ‘n skrywe ontvang waar die vraag in opgekom het: Waar in die Ou Testament kom die profesieë oor Jesus voor?

Daar is geweldig baie profesieë oor Jesus Christus in die Ou Testament, sommige mense beweer, dat daar honderde is.  Ek weet nie presies hoeveel daar is nie maar daar is baie en anders as byvoorbeeld mense soos Nostradamus se profesieë wat jy amper van toepassing kan maak op wat jy wil, is die Woord se profesieë oor ons Here Jesus baie duidelik op Hom van toepassing en hoef jy na my mening, glad nie te twyfel of dit op Jesus van toepassing is nie.

Ek deel graag met jou ‘n paar (nie almal nie) van hierdie profesieë en dan laat ek ook sommer dat ons Here se Woord vir jou wys waar hierdie profesie in vervulling gekom het.
Onthou nou, dat van hierdie profesieë honderde jare voor Jesus se geboorte geprofeteer was.

Die eerste een wat ek graag met jou deel, is die volgende:

JES 7:14  Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.

Toe kom die profesie in vervulling:

MAT 1:18-23 
18 Dit is hoe Jesus gebore is:  Maria, sy ma, was verloof aan Josef.  Nog voor hulle getroud is en hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy verwagtend was.  Die Heilige Gees het die baba in haar verwek.
19  Josef, haar verloofde, was in ‘n dilemma.  Aan die eenkant was hy ‘n wetsgehoorsame man; (die wet het vereis dat hy ‘n klag teen haar moes gaan indien vlg Deut 22:1-21) aan die ander kant wou hy haar die openbare skande spaar.  Daarom het hy hom voorgeneem on die verlowing privaat te verbreek.
20  Met hierdie dinge in gedagte het hy aan die slaap geraak.  Daarop verskyn ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê:  “Moenie huiwer om voort te gaan met jou huwelik met Maria nie.  Die Kindjie wat sy dra, is verwek deur die Heilige Gees.
21  Sy sal aan ‘n Seun geboorte gee, en jy moet Hom Jesus noem, (Jesus beteken die Here red) want Hy sal sy volk van hulle sondes red.”
22  Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur die profeet te laat uitkom:
23  Die maagd sal swanger word!  Sy sal aan ‘n Seun geboorte gee.  En die mense sal Hom Immanuel noem.”  (Hierdie naam beteken:  God is by ons.)

Die tweede een wat ek graag met jou wil deel, is die volgende:

MIG 5:1   En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Toe kom die profesie in vervulling:

LUK 2:1-7 
1 En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word.
2  Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was.
3  En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.
4  En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,
5  om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.
6  En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
7  en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die derde profesie wat ek met jou deel, is die volgende:

JES 9:5   Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
JES 9:6   tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.

Toe kom die profesie in vervulling:

LUK 2:8-14 
8 En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.
9  En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.
10  En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
12  En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
13  En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
14  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

Die vierde heerlike profesie wat in vervulling gekom het wat ek graag met jou deel, is die volgende.

SAG 9:9  Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.

Toe kom ook hierdie profesie in vervulling:

MAT 21:1  En toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle:

MAT 21:2-9 
1 Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ‘n eselin vind wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.
3  En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur.
4  En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is:
5  Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier.
6  En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het;
7  hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit.
8  En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi.
9  En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!

Die vyfde en voorlaaste profesie uit die Ou Testament wat ek graag met jou wil deel is die volgende:

JES 53:1-7 
1 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
2  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
7  Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

Toe kom ook hierdie profesie in vervulling:

MAT 26:67  Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan,
MAT 26:68  en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?

MAT 27:26-31 
26 Toe laat hy vir hulle Barábbas los, maar Jesus het hy laat gésel en oorgelewer om gekruisig te word.
27  Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar.
28  Toe trek hulle sy klere uit en werp ‘n rooi mantel om Hom;
29  en hulle vleg ‘n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en ‘n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!
30  En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof.
31  En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.

MAT 27:12-14 
12 En terwyl Hy deur die owerpriesters en die ouderlinge beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie.
13  Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie?
14  En Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die goewerneur hom baie verwonder het.

Die sesde en laaste profesie uit die Ou Testament oor Jesus wat in vervulling gekom het wat ek met jou wil deel, is die volgende:

PSM 22:16-20 
16 My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
17  Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
18  Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
19  Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
20 Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!

Ook hierdie profesie oor Jesus het tot op die letter in vervulling gekom:

MAT 27:35  En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp.
MAT 27:36  En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak.

JHN 19:28-30 
28 Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors!
29  En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring.
30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Weet jy?  In hierdie selfde Bybel, die Woord van God, hierdie God wat nie kan lieg
nie, is daar nog ‘n klompie profesieë oor Jesus en soos die profesieë wat reeds vervul
is, sal ook hierdie profesieë vervul word.

Omdat hierdie skrywe al reeds lank is, deel ek net twee met jou en as jy die twee
profesieë lees en jy het nog nie vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker
nie, onthou dan wat God wat nie kan lieg nie ook in Sy Woord van Jesus gesê het:

JHN 3:16-18 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Hier dan ten slotte is die eerste van twee profesieë wat ek met jou wil deel, wat
verseker net so in vervulling sal kom, soos die wat reeds in vervulling gekom het:

HAN 1:9-11 
9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
10  En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

         
Nou die tweede een wat ek met jou wil deel wat verseker net soos al die ander in vervulling gaan kom:

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.

Of soos die Woord dit ook op ‘n ander plek stel:

FIL 2:9-11
9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Groete,
Sakkie
E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za
Sel:            083 457 6669
  
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.