REÏNKARNASIE

REÏNKARNASIE

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of daar so iets soos reïnkarnasie is.

Ek wil my antwoord op hierdie vraag so begin:

Dit is na my mening geheel en al onmoontlik om in Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker te glo en ook te glo dat reïnkarnasie ‘n werklikheid is.

Om mee te begin sal jy nie eens die woord reïnkarnasie in watter vorm ookal, in die Woord kry nie.

Ek het gesê dat jy nie in Jesus as Verlosser en Saligmaker kan glo as jy in reïnkarnasie glo nie. Want, ten eerste sê dit waarin jy glo, dat Jesus ‘n paar keer gelieg het en dat Sy Woord op sommer baie plekke lieg.

Ek kon nou ‘n groot klomp aanhalings gemaak het, maar ek volstaan met die volgende, net om die belaglikheid van reïnkarnasie uit te wys. As jy in reïnkarnasie glo, dan, na my mening, sê jy dit wat jy nou gaan lees, is ‘n spul leuens. Kyk wat sê Jesus vir die man aan die kruis wat net nou saam met Hom gaan sterf:

LUK 23:42  “En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in U koninkryk kom.
LUK 23:43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

Die moordenaar het nie eers in een of ander vorm eers weer ‘n draai op die aarde kom maak nie. Toe hy sterf, is hy onmiddellik na Jesus en daar sal jy en ek hom kry as ons, ons oë aan die anderkant van die graf oopmaak. Dit is ook presies waar ons die bedelaar in die volgende voorbeeld gaan kry:

LUK 16:22  “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.”

Natuurlik sal ek, as ek Jesus Christus nie aanneem as my Verlosser en Saligmaker nie, die volgende persoon in die hiernamaals raakloop en net soos hierdie man sal ek nie nog ‘n kans kry om hier op die aarde ‘n draai te maak nie:

LUK 16:23  “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”

Onthou jy wat sê Jesus, wat het Abraham vir die man in die hel geantwoord, toe hy wou hê dat iemand uit die dood na die aarde moet teruggaan?:

LUK 16:27  “En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
LUK 16:28  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
LUK 16:29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
LUK 16:30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
LUK 16:31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

Dit maar net om te wys, toe die man sy oë in die hel oopmaak, was hy daar om te bly.
Dan is daar, wat hierdie saak aanbetref, ook nog die voorbeeld van wat op die berg van verheerliking gebeur het. Hier verskyn Moses en Elía nadat hulle honderde jare gelede op aarde geleef het, as niemand anders nie as Moses en Elía, en nie as enige iets of iemand anders nie. Bloot omdat daar net eenvoudig nie so iets belaglik as reïnkarnasie is nie:

MAT 17:1  “En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring.
MAT 17:2  En Hy het voor hulle van gedaante verander, en Sy aangesig het geblink soos die son, en Sy klere het wit geword soos die lig.
MAT 17:3  En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom.
MAT 17:4  Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.”

Jy sien – die Woord, anders as reïnkarnasie, leer ons dat as ek hier uittreë, treë ek óf by Christus in, óf ek treë die hel in, en dit is niemand anders as Jesus wat dit by meer as een geleentheid vir ons leer. Ek haal ons God en Verlosser in die volgende gedeelte aan:

MAT 7:13  “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”

Enige iemand wat enige iets anders soos reïnkarnasie verkondig, maak Jesus en dus vir God Almagtig uit as ‘n leuenaar, want onthou wat getuig die Woord van Jesus:

JHN 1:1  “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”

JHN 1:14  “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”

So, kom jy en ek bly by die waarheid wat ons Here ons in Sy Woord leer en dit is, dat wanneer ons hier uittreë, treë ons by Christus in. Paulus sê in dié verband die volgende:

FIL 1:23  “Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;”

Groete,
Sakkie