ROOK VERSLAWING

ROOK VERSLAWING

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en die volgende vir my gevra:
 

“Kan jy asb vir ons se waar in die Bybel staan dit dat jy nie mag rook nie?”

Hier is dan hoe ek volgens wat ek in die Woord vind, na die rookgewoonte kyk:

Om mee te begin, nêrens in die Woord lees ek iets van rook, soos in die rook gewoonte nie maar soos ek die Woord verstaan, is rook verseker sonde.

Ek lees ook nie in die Woord van pornografie nie maar dit beteken nie dat pornografie verseker ‘n gruwelike sonde is nie.

Onthou as jy die volgende lees, dat rook verslawend is.  Met ander woorde, ‘n sekere sy van jou lewe word beheer, of dan oorheers deur jou rookverslawing.

1KOR 6:12  Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie;  alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.

Vervolgens:
Dit sou baie verkeerd in my oë wees, as iemand iets wat aan my behoort beskadig.
Hoe verskriklik verkeerd is dit nie, om iets wat aan ons Here behoort te beskadig nie en van ons liggame, wat natuurlik ook ons longe en hart insluit, wat deur rook beskadig en in baie gevalle heeltemal vernietig word, veral wat jou longe aanbetref, sê die Woord.

1KOR 6:19  Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie?  Julle behoort nie aan julleself nie,
1KOR 6:20  want julle is teen ‘n duur prys gekoop.  Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

As jy dink dat rook nie ‘n gevaarlike beskadiger van jou liggaam en ook baie onskuldige mense om jou is nie, gaan vra jou dokter.

Iemand sê dalk, dat ek so oor rook afgaan maar wat van al die mense wat hulleself op ‘n gereelde basis byvoorbeeld ooreet en hulle liggame so beskadig en dat dit maar net een van baie voorbeelde is wat hulle kon noem.

Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:
“Two wrongs doesn’t make a right.”
Ek kan mos nie een sonde gebruik, om ‘n ander sonde goed te praat nie!

Vra jouself by dit alles wat ek jou nou gewys het, ook die volgende af:

“Kan ek, kind van ons Here met ‘n rein gewete sê, dat rook nuttig is?

1KOR 6:12  Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; …

In Die Nuwe Lewende Vertaling waarvoor ek so lief is, lees 1KOR 6:12 so:

1KOR 6:12  Jy kan dalk sê: “Ek mag nou enigiets doen.”  Maar ek sal daarop antwoord:  “nie alles is vir jou goed nie.  Selfs al sê jy “ek mag enigiets doen,” mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”

Met 1KOR 6:12 uit Die Nuwe Lewende Vertaling in gedagte, kan ek sê dat rook goed is vir my en my getuienis?

As ek ook onthou dat daar geskryf staan:

ROM 15:2  Ons moet aan die beswil van ons naastes dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.

Kan ek, as ek daardie sigaret opsteek en die rook in my longe intrek, sê, dat ek nou ons Here deur my liggaam verheerlik?  Terwyl ek nie net myself nie maar almal in my onmiddellike omgewing benadeel?

1KOR 6:20 Ou Vertaling:   Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Ek vra weer:
Kan ek terwyl ek my sigaret rook en myself beskadig, terwyl ek ook almal in my onmiddellike omgewing benadeel, werklik met ‘n rein gewete sê:

“Ek, hierdie kind van ons Here, is nou besig om my Here te verheerlik.”
As ek onthou dat daar ook geskryf staan:

1KOR 10:31  Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

Toe ek tot bekering gekom het, het ek gerook maar soos ek die Woord al hoe beter leer ken het, het ons Here se Gees deur die Woord te gebruik, my duidelik laat verstaan, dat ek, Sy kind, nie behoort te rook nie, omdat rook my getuienis as kind van ons Here, sowel as my liggaam groot skade aandoen.

My antwoord op jou vraag dan net weer –
Nêrens in die Woord word rook by die naam genoem nie maar baie ander hedendaagse booshede word ook nie by die naam genoem nie.

As ‘n mens egter die Woord gereeld lees en bestudeer, kom jy gou agter dat net soos in die geval van rook, ons Here ook al die ander booshede en dit sluit die moderne booshede in, ook in Sy Woord aanspreek.

Ten slotte nog net dit.

Ek kan myself min dinge indink wat terselfdertyd meer selfsugtig, meer selfgesentreerd en ongevoelig is, as die daad om in ‘n ander mens se geselskap te rook, of daar te rook, waar ‘n ander persoon moet leef of werk.

As ‘n mens dan so selfvernietigend wil optree deur te rook, behoort ‘n mens darem ten minste die bedagsaamheid te hê, om nie ander by jou selfvernietiging te betrek nie.
                 

Groete
Sakkie