SAAM MET JESUS ‘N DRAAI IN DIE PAD
Sakkie Parsons
Iemand het my gekontak en my vertel van iemand anders wat besig is om blind te word en omdat ek ook blind is, my om raad in die verband gevra.
Ek het toe die volgende antwoord vir die persoon gestuur maar dit wat ek nou gaan sê, geld na my mening vir enige krisis/beproewing wat my padlangs kan kom en ek praat nie van hoorsê nie.
Ek was natuurlik baie gelukkig, omdat toe my oë vinnig agteruit gegaan het, ek reeds ‘n kind van ons Here gewees het maar laat ek voor begin.
Ek was nog baie klein toe die welsyn ons kinders van my ouers weggeneem het.
Dit was dan ook ‘n welsynsbeampte wat toe met tyd agter gekom het dat daar fout met my oë is. Sy moes baie oplettend gewees het, want ek kon toe nog baie, baie goed gesien het.
Ek kon tot in my twintiger jare nog met ‘n fiets vir my meisies gaan kuier het en selfs toe ek heeltemal blind was, het my vrou, wie nou by Jesus is vir my gesê, dat ‘n mens nie aan my oë kan sien, dat ek blind is nie, ten sy jy baie mooi kyk en klaar weet ek is wel blind nie.
Ek sê dit maar net, om te wys hoe ‘n wonderlike welsynsbeampte ons Here destyds my padlangs gestuur het, want sy het toe dadelik gereël dat ek na die skool vir blindes in Worcester gaan.
In 1973 het ek tot bekering gekom en is gedoop.
In 1978 het ek agtergekom dat my oë nou vinnig agteruit gaan maar ek was ‘n kind van ons Here en ek het geweet en dit is tot vandag toe my leuse.
Rom 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Toe hulle in 1997 Melanoom kanker by my ontdek, vra ek die dokter:
“Wat is my kans?”
Sy antwoord was dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3, dalk 6 maande oor om te lewe.
Ek het my God vasgegryp en dwarsdeur 1998 se weeklikse behandeling, aan Hom geklou en geweet:
Rom 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Hoekom vertel ek hierdie verhaal van myself, as iemand my raad vra vir iemand wat besig is om blind te word?
Want, die enigste werklike boeke kennis wat ek het hoe om probleme op te los, is die Woord en die duidelikste praktiese bewys wat ek het, dat dit wat in die Woord staan, 100% werk, is my eie ondervinding op die lewensweg.
So, die eerste wat ek vir mense sê om te doen om te kan hanteer wat in die lewe jou padlangs kom is – begin by die begin.
HAN 2:37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Broers, wat moet ons doen?”
HAN 2:38 Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.
HAN 2:39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”
Jy sien, daar is maar net een ware padna God om hulp te kry –
JHN 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Ja! hierdie Weg, Waarheid en Lewe, is nie net presies wat Hy sê dat Hy is nie maar by dit alles, het Hy, my en alle ander blinde mense se blindheid en alle ander gestremdheid en siektes en wat daar ook al is, van wie ook al, wat die lewe vir ons moeilik maak, op Homself geneem.
Jes 53:3 Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, ‘n man van smart en bekend met hartseer. Hy was verag, maar ons het nie omgegee nie.
Jes 53:4 Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het swaar gedra aan ons pyn. Ons het al die tyd gedink hy ly omdat God hom straf.
As jy reeds gedoen het, wat ek hier bo genoem het, is die volgende stap volgens my ondervinding:
Gryp ons Here vas en ek wil amper met groot respek byvoeg en klou vir al wat jy werd is.
Wat ek hiermee bedoel, is dit:
Praat gedurig met ons Here oor die krisis in jou lewe en praat jou hart uit.
Wat ek nou gaan sê, het ons nie in 1997 gedoen nie maar bloot omdat ons nie daaraan gedink het nie en omdat niemand dit voorgestel het nie maar omdat jy en jou gesin feilbare mense is wil ek die volgende voorstel:
As dit moontlik is, kom in aanraking met ‘n pastorale sielkundige en kry berading, jy en jou gesin. Onthou, dat dit wat met jou gebeur, vir jou gesin, omdat hulle lief is vir jou, dit ook ‘n geweldige traumatiese ding is wat gebeur.
Omring jou ook met vriende wat kinders van God is. Hulle bemoediging en ondersteuning gaan jou baie help.
Onthou ook, dat dit wat met jou gebeur nie die einde van die lewe is nie maar ‘n ander begin en as jy hierdie ander begin ‘n halwe kans gee, word dit ‘n hele heerlike nuwe avontuur. Onthou Romeine 8:28 – ek herhaal dit uit die 1953 Vertaling:
Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Ek kyk na my lewe as ‘n pad en hierdie pad lei my met baie draaie maar ook lang reguit gedeeltes tot in die Hemel.
Die draaie in die pad is die krisisse/beproewings wat my pad langs kom en glo vir my party van hierdie draaie kan baie skerp wees.
As hierdie pad draai, moet ek saam draai of anders gaan ek ‘n groot ongeluk maak.
As ‘n krisis in jou lewe opdoem, volg die pad.
Met ander woorde, gaan saam met Jesus deur die krisis/beproewing/draai.
Moet nie jou eie pad probeer maak, soos om die krisis te ignoreer, of jou oorgee aan selfbejammering, of drank, of so iets nie. Ek persoonlik weet nie van een persoon wat kortpad geneem, of sy of haar eie pad gemaak het, wat ongeskonde anderkant uitgekom het nie maar ek kan met groot vrymoedigheid vir jou sê dat ek, omdat ek elke keer die padvolg wat ons Here in Sy Woord vir ons wys, ongeskonde deur al my krisisse gegaan het en wat meer is, ek aan die anderkant van elke krisis ‘n beter mens was as wat ek voor die krisis gewees het.
Daar is maar een Persoon wat weet hoe om die draaie in die pad op pad Hemel toe reg te hanteer en Sy Naam is Jesus Christus.
JHN 14:6 Daarop het Jesus gereageer: “Ek is die pad en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.
Natuurlik is daar ander paaie wat baie belowend lyk maar almal is doodloop paaie en
die tragedie is, dat hulle almal in die hel doodloop. Wat ek bedoel is dit:
Hulle word in sigself nog groter probleme en dan sit jy letterlik op die ou end met
helse probleme.
Spr 14:12 Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het.
Ek het in my lewe, behalwe die gewone, deur drie geweldige groot, kom ons noem
dit ter wille van hierdie skrywe, krisisse gegaan, waarvan ek hier van twee melding
gemaak het maar met “Hindsight” weet ek nou dat hulle almal eintlik nuwe
geleenthede gewees het.
Ek weet ook dat as ek nie ‘n persoonlike verhouding met Jesus gehad het nie, ek nie
nou hier sou gesit en aan jou geskryf het nie.
As ek beproef word en ek verstaan dit nie heeltemal nie, onthou ek ook:
1PET 1:6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry.
1PET 1:7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.
Weet jy wat is vir my persoonlik baie sleg van ‘n krisis/beproewing?
Omdat ek ‘n gewone mens is – die krisis/beproewing.
Weet jy wat is vir my persoonlik so heerlik van ‘n krisis/beproewing?
Die feit dat Jesus dit saam met my hanteer.
Jesus wil as jy Hom ‘n kans gee, saam met jou deur die draai in die pad gaan, maak
nie saak hoe skerp en teen watter spoed daardie draai is nie.
Hy sê dan ook.
Mat 11:28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.
Sien jy wat daar geskryf staan?
Dit is nie dalk, of miskien, of so iets nie. Dit is sal.
Die 1953 Vertaling stel dit so:
Mat 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
Hy wil jou help. Hy sê vandag vir jou –
OPG 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
OPG 3:21 Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.
Verder, by ‘n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê:
JHN 8:12 “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Groete,
Sakkie