OF SAL CHRISTUS ‘N WONING MET SATAN DEEL? AFGODSBEELDE, VLOEKE EN DIE ONNODIGE VREES DAARVOOR AS KIND VAN GOD

OF SAL CHRISTUS ‘N WONING MET SATAN DEEL?

Afgodsbeelde, Vloeke en die onnodige vrees daarvoor as kind van GOD

Sakkie Parsons

Iemand het aan my ‘n vraag gestuur oor afgode, vloeke ens in en op jou huis en of ek met hierdie soort leringe te doen gehad het.

My antwoord is, dat ek van die dinge gehoor het, maar gelukkig nie die tyd of oortollige energie het om daarop te verspil nie.
Ek is verstom as ek soms sien en belewe hoe maklik bloedgewaste kinders van ons Here op hol gejaag en bang gepraat word deur hierdie soort van goed.
Dan voel ek ook om soos my groot held Paulus uit te roep:

GAL 1:6 -9
6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,
7  terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
8  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!
9  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!

Gelukkig is dit nie die soort vloek of vervloeking wat op ‘n ware kind van God van toepassing is nie.
Ek het my bekeer en Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.

Vir watter afgodsbeeld of vloek sal ek bevrees wees, terwyl Christus in my woon en ek in Sy weë wandel?
Watter bose gees kan van my besit neem en met ander woorde Christus uit my verjaag?
Of sal Christus ‘n woning met satan deel?

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Kan ‘n vloek van watter aard ook al beheer uit oefen oor my of myne terwyl Jesus in my woon en terwyl Hy my lewe in die holte van Sy hand het?
Nee!  O nee!!!
Nou kan satan in ‘n huis of plek besig wees met ‘n orgie – maar as ek instap om daar te woon of te wat ook al, wat ‘n kind van God daar sou wou doen, word dit ‘n geseënde plek, want ek stap saam met Jesus daar in.

Baie Christene raak soms, so lyk dit vir my, so behep met vloeke wat op hierdie of daardie rus en met hierdie beeld of daardie versiersel in iemand se huis of lewe, dat hulle twee dinge wat van kardinale belang is vergeet en dit omdat satan hulle mislei om hul tyd met gemors te mors, sodat hulle nie moet doen wat hulle eintlik veronderstel is om te doen nie.

Nommer een:

1JHN 4:4  Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

Sien jy wat jy nou gelees het?
Daar staan nie, dat jy sal, of kan oorwin nie.
Daar staan:

1JHN 4:4  Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

Hoekom het hierdie dinge en goete nie vat aan jou nie?

1JHN 4:4  Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

1JHN 5:4  Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Dit is absoluut absurd om te dink dat ‘n vloek op my as kind van God of iets van my kan rus as ek die seën van ons Here vra en gevra het, op my en myne.

Nommer twee:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
 

So, kom ek en jy doen dit.
Kom ek en jy verkondig die Evangelie en leer die mense wat Jesus ons geleer het, sodat hulle dit kan onderhou en die Heilige Gees sal die res wat gedoen moet word doen.

Verder, hou jou oog gevestig op Jesus, wandel in Sy weë en jy sal in elk geval nie tyd wil verspil op al hierdie ander dinge en goete waarmee mense hul tyd verspil nie.

Ek wil jou aanmoedig, om jou nie as ‘n Christen aan hierdie of daardie vloek te steur of te bemoei, of te vrees vir die of daardie klei, hout, yster beeld of voorwerp nie.  Dit is tog net hout, klei, yster ens.

Steur jou nie aan die dinge van die duister wat satan jou voorhou nie.  Jy is mos van die lig en watter gemeenskap het die lig met die duister?

MAT 5:14-16 
14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Laat ek en jy ons lig laat skyn en sodoende die duisternis om ons verdryf en ons Here sal enige iets anders wat gedoen moet word vir ons doen.

Kom ek wys jou gou hoe nikswerd is ‘n vloek of vervloeking wat oor ‘n kind van God in watter opsig ook al gespreek word.
Jesus sê:

LUK 6:28  Seën die wat vir julle vervloek en bid vir die wat julle beledig.

Sien jy?
Jesus sê nie dat jy nou aste ware moet “duck and dive” as jy vervloek word nie.
Nee! Jy moet die persoon seën.

LUK 6:28  Seën die wat vir julle vervloek …

Want, dit is nie jy, kind van God, wat ‘n probleem het nie. 
Dit is die persoon wat die vloek teen ‘n kind van God gespreek het, wat ‘n groot probleem het.
Daar is deesdae baie mense wat met baie sogenaamde bedienings na vore kom en vir sommige daarvan skud ek maar net my kop.
So met die tong in die kies.
Ek dink ek sal maar my soort bediening ‘n “one track mind” bediening noem.
Want, en ek wil jou aanmoedig om ook so te doen, ek volg maar my groot held Paulus in die verband.

Het ons Here hom dan nie in Sy Woord laat skryf nie?

1KOR 11:1  Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.

So ek wil jou aanmoedig –

Steur jou nie aan die mense wat: “Wolf, wolf,” agter allerlei dinge en goete aan skreeu, wat aan ‘n kind van God, wat in Sy weë wandel, geen vat het nie.

Kom ons verkondig die Evangelie soos Paulus, aan wie ons Here die grootste deel van die Nuwe Testament toevertrou het, dit verkondig het.

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Hoe doen ek dit?

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

O gaats!
Toe vergeet ek amper om iets oor die sogenaamde afgodsbeelde te sê, maar dan – wat is
‘n afgod?

1KOR 8:4  Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.

HAB 2:18  Wat baat ‘n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, ‘n gegote beeld, wat ‘n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak?
HAB 2:19  Wee hom wat vir ‘n stuk hout sê: Word wakker! vir ‘n dooie klip: Ontwaak! Kan hy ‘n mens leer? Kyk, hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie!

‘n Mens sou Habakuk 2:19 ook so kan verstaan, in elk geval dit is hoe ek dit verstaan;
Dat, wee die persoon wat beweer dat enige beeld of voorwerp ‘n gees of bonatuurlike krag van watter aard ook al het.

‘n Nuwer vertaling stel Habakuk 2:19 as volg:

HAB 2:19 Dit sal nog sleg gaan met julle wat vir ’n dooie beeld van hout of klip sê:
“Word wakker!” of “Staan op!”
Kan so ’n beeld miskien vir julle sê wat julle moet doen?
Al is hulle ook met goud en silwer oorgetrek, is daar tog nie werklik lewe in hulle nie.

Groete,
Sakkie