Sal ek die Hemel mis as ek rook?

Iemand skryf aan my as volg:

Ek het ‘n vraag asb. Ek het Jesus as my Saligmaker aanvaar. Ek het als moontlik in my lewe reggestel volgens die Woord. Ek sukkel net om op te hou rook.  Sal dit my die Hemel laat mis?

Heel eerste voor ek verder gaan:
Volgens wat ek die Woord verstaan, sal niemand hel toe gaan bloot omdat sy/hy aan rook verslaaf is nie.
Niemand mis die hemel oor iets wat hulle verkeerd gedoen het nie.
‘n Mens mis die hemel oor iets wat jy nié gedoen het nie.

‘n Mens mis die hemel as jy nie vir Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

Jy sien en hoe absoluut wonderlik heerlik!

JOH 1:12-13
12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13 Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie.
     Hulle is uit God gebore.

Natuurlik is rook sonde maar so is ‘n legio ander dinge ook.
Die sonde wat ek doen, of dit rook of wat ook al is, mag net nooit die norm in my lewe word nie.
Ek moet aanhou om daarteen te veg, al sou dit ook beteken dat ek my hele lewe daarteen veg.

Glo my as ek vir jou sê, dat daar uit ‘n mens se oogpunt gesien, baie erger gewoonte sondes is waaraan kinders van ons Here verslaaf is maar soos ek net weer dit baie duidelik wil stel:  Daardie gewoonte, of dan verslawing en ja, selfs soms my soort lewenswyse, mag nooit vir ‘n kind van God die norm van haar of sy lewe word nie.  Ons moet daar teen bly veg.

Ek deel ook met jou as jy my sou vra met groot liefde die volgende wat ek geskryf het en ek is baie seker dat jy as jy dit rustig wanneer jy die tyd daarvoor het klaar gelees het, sal jy sekerheid oor jou eie omstandighede hê.

In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars.

Is ek met my swakheid of verslawing gedoem?

Rook verslawing.

Groete,
Sakkie