SAL EK HEMEL MIS AS EK NIE GROOT GEDOOP IS NIE?
Sakkie Parsons
Een van my lesers het aan my ‘n video gestuur, waar ‘n pastoor die stelling maak, dat nadat die Nuwe Testament in werking gestel is, jy nie hemel toe sal gaan as jy jou nie groot laat doop het nie.
Om mee te begin in hierdie skrywe aan jou:
Ek dink, om dit baie lig uit te druk, dat dit op die minste baie, baie roekeloos is, om te suggereer, dat mense nie hemel toe gaan nie en met ander woorde hel toe gaan, net omdat hulle nie groot gedoop is nie.
Ek wil van die begin af noem:
Hoewel ek as baba gedoop is, gekatkiseer het in die NG Moedergemeente Worcester, waar ek in die skool vir blindes was – al die stappe deurloop het en as lidmaat aangeneem is — het ek jare later, toe ek werklik tot bekering gekom het, my laat groot doop.
Ek wil egter nie eerstens oor die stelling van die pastoor praat wat die doop aanbetref nie – alhoewel ek daaroor ook iets gaan sê.
Ek moet ook net noem, dat ek die eerste keer van die pastoor gehoor het toe een van my lesers die video aan my gestuur het.
So met ‘n glimlag –
Omdat ek blind is en ook, om dit so te stel tegnologies gestremd is, kom ek maar min op die internet.
Ek kom darem baie in die Woord.
Die rede waarom ek met jou hieroor deel is omdat dit stellings, soos die onbybelse stelling van die pastoor is, wat veroorsaak het (en jy kan dit maar gaan Google), dat daar min of meer 30,000 verskillende Christen denominasies in die wêreld is.
Mense gee voor hulle kry hierdie of daardie van ons Here en maak dan sulke roekelose stellings soos die pastoor gemaak het.
Die pastoor maak die stelling, en ek gebruik my eie woorde, dat die man aan die kruis hemel toe is, omdat hy dood is voor die Nuwe Testament in werking getree het. Met ander woorde voor Jesus gesterf het en daarom hemel toe is.
Die video is op die internet.
So, ons kan volgens hierdie pastoor, nie daardie man aan die kruis as voorbeeld gebruik om te sê dat jy in die nuwe Testamentiese tyd hemel toe kan gaan, al is jy nie groot gedoop nie.
My leuse in die verkondiging van die Woord, is dieselfde as die eerste hervormers sin:
“Die Woord, net die Woord en niks anders as die Woord nie.”
Hy kan sê dit is sy opinie en dit dan motiveer, soos ek nou die teendeel gaan doen deur my opinie met jou te deel en dit motiveer – maar dit is gewoon verkeerd om te sê dat hy so iets by ons Here gekry het en ons laat verstaan dit is Bybels korrek, as jy dit nie in die Bybel vind nie.
Laat ek verduidelik:
Hy sê dat die Nuwe Testament eers in werking getree het toe Jesus oorlede is en dit is heeltemal reg. Alhoewel hy later in die boodskap, so klink dit vir my, die begin van die Nuwe Testament so ‘n bietjie verder, na die opstanding van Jesus wil verskuif en om hier net alle verwarring uit die weg te ruim kwoteer ek vir jou Jesus se eie woorde wat hierdie saak aanbetref:
JHN 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, (Jesus hang hier al ongeveer 6 ure aan die kruis) sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
So, die pastoor is heeltemal reg as hy sê, dat toe Jesus as mens gesterf het, het die Nuwe Testament begin het – maar dit is verseker nie Bybels om voor te gee dat die man wie hemel toe is gesterf het voor Jesus gesterf het en daarom hemel toe is, omdat Jesus vir hom gesê het, dat hy nog vandag saam met Jesus in die hemel gaan wees nie, omdat die nuwe testament nog nie in werking getree het nie.
Inteendeel, maar onthou, ek sê nie dit is so nie, gewoon omdat ek nie klinkklare Bybelse bewyse het dat dit so is nie – maar ‘n mens sou selfs kon sê jy sien in die Woord, dat hy langer geleef het as Jesus.
Soos wat ek nou in my opinie aan jou gaan verduidelik.
Die meeste mense wat gekruisig is, gaan uiteindelik dood weens versmoring en jy kan dit ook gaan Google.
Omdat jou arms sywaarts uitgestrek is, kan jy nie behoorlik asemhaal as jy nie jou bene gebruik om jou op te stoot nie en onthou, jy stoot jou bene op teen jou voete wat ook vasgespyker is.
As die soldate wil hê jy moet gouer sterf, breek hulle jou bene deur dit met ‘n swaar voorwerp te kap en dan kan jy nie meer jouself opstoot om asem te kry nie.
Die Jode wou nie dat die liggame nog aan die kruis hang as die Sabbat begin nie en daarom het hulle gevra, dat die mense gouer moes dood, sodat hulle van die kruise afgehaal kon word en dit is gedoen deur die gekruisigde se bene te breek, dat hy homself nie meer kan opstoot om asem te kry nie:
JHN 19:31–33
31 En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie Sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.
32 Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was;
33 maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.
Onthou nou, ek gee my opinie. Ek kry dit nie direk uit die Woord, dat die man langer gelewe het as Jesus nie.
Hoe het die soldate duidelik kon sien, dat Jesus dood is?
Wel vir my is dit heel eenvoudig.
Hulle kon dit duidelik op twee wyses by Jesus se liggaam sien.
Eerstens, het sy kop vorentoe gehang. Jy het dit vroeër gelees maar ek deel dit weer met jou:
JHN 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, (Jesus hang hier al ongeveer 6 ure aan die kruis) sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Hoekom is dit belangrik?
Wel, as jy aan ‘n kruis hang is dit al klaar baie moeilik om asem te haal, so jy gaan jou kop regop hou en selfs effe of baie agter toe buig om suurstof saam met jou bene wat klaar baie pyn na jou kop stuur, reguit te maak om asem te kry.
Die tweede wyse waarop hulle kon sien dat Jesus klaar dood is, is natuurlik, omdat sy liggaam nou slap hang en sy bene as gevolg daarvan nou effe gebuig is en heel moontlik met die knieë effe na buite en nie langs mekaar, omdat Hy Homself moet opstoot een daar hou om ‘n asemteug te probeer in kry nie.
Duidelik, en ek gee net my opinie, was die ander twee se bene nog aan die op en af beweeg of ten minste reguit en die koppe nog regop, of selfs ken effe gelig om asem te kry.
Die een rede, en dit is my opinie, waarom Jesus reeds gesterf het, en die Romeine selfs verbaas was, dat Hy so gou dood is, is natuurlik al die mishandeling wat hy voor die kruisiging moes verduur.
Laastens, let nou op na die soldate se optrede.
Hulle breek eers die een se bene, sien Jesus se liggaamshouding en beweeg verby na die ander man en breek sy bene.
Dan en dit is my opinie, sien hulle dat dit ‘n bietjie meer optrede gaan neem om ook Sy bene te breek, omdat hulle nou nie by mekaar is nie en dit gaan in elk geval bietjie dom lyk as ‘n gesoute soldaat nou voor sy soldaat kamerade ‘n lyk se bene ook wil breek, sodat die lyk nie meer asem kan haal nie maar sommer omdat daar seker nou maar iets gedoen moet word, om te bewys, dat ons seker gemaak het Hy is dood, kom ons steek Hom maar met ‘n spies.
Een ding is baie seker, daar is absoluut geen, maar géén woord in die Woord wat jy amper kan gebruik om te sê dat die man dood is voor die Nuwe Testament begin het en daarom kon hemel toe gaan nie.
Soos jy nou gelees het, en ek sê nie dit is so nie, gewoon omdat ek nie iets gaan sê wat nie in die Woord staan nie – maar jy kan ‘n goeie saak uitmaak om te wys dat die man ná Jesus se sterwe aan die kruis aste ware vermoor was.
Een ding wat jy nie kan doen nie en wat hierdie pastoor met groot oortuiging probeer doen het, is om die man uit die prentjie te haal, sodat jy jou stelling kan maak, dat geen mens, toe die Nuwe Testament begin het kan hemel toe gaan, as hy/sy nie groot gedoop is nie.
As ‘n mens blind is, luister jy mooi na mense se stemme as hulle praat en dit het vir my geklink, toe die pastoor sy stelling maak, oor hoekom die man sonder dat hy gedoop was, nou hemel toe is, hy ‘n troefkaart gespeel het maar so met ‘n glimlag, dit was toe ‘n “joker” wat hy gespeel het.
Vir een omdat daar geen getuienis in die Woord is, dat die man voor Jesus gesterf het nie en vir twee, dat jy, soos ek jou gewys het, ‘n goeie saak kan uitmaak, dat die man nog geleef het toe Jesus dood is.
Dit ontstel my geweldig as mense sulke onbybelse stellings maak. Want dit maak ons Here Jesus se liefdesevangelie net goedkoop bespotlik in die oë van die wêreld en dit in die meeste gevalle, om jou eie beeld te poets.
Vandat ek in 1973 vir ons Here begin werk het, het jy hierdie tendens by baie evangeliste en herders en wat hulle ook al genoem wil word gekry, om soveel mense so gou as moontlik, so vinnig as moontlik, terwille van getalle, in die doopbad te kry en het ek dit kere sonder tal beleef, dat ‘n droë onbekeerde persoon die doopbad in gaan en ‘n nat onbekeerde die bad uitklim.
Ek deel graag jou sommer twee gevalle van ‘n hele paar wat ek kon gebruik het om te wys, dat Jesus reeds mense gered het voor Hy gesê het “dit is volbring.”
Dan deel ek daarna met jou ‘n geval in die Nuwe Testament waar mense, kinders van God geword het, sonder dat hulle eers gedoop is – en dit is gewoon net boos om te suggereer, dat God een of meer van Sy kinders sal laat hel toe gaan, as hulle vir die een of ander rede nie groot gedoop is nie.
LUK 7:48–50
48 En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.
49 Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?
50 En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
Hierdie volgende wat jy nou gaan lees is die een melaatse man van die 10 wat almal genees was, wat omgedraai het na Jesus toe:
LUK 17:15–19
15 En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ‘n groot stem verheerlik.
16 En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ‘n Samaritaan.
17 Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?
18 Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?
19 En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.
Ek weet nie hoekom Jesus soms iets so doen en dan ook op ‘n ander keer iets op die oog af anders sê nie.
Kyk maar net na die verskillende wyses wat Jesus blindes genees het.
Want soos my groot held Paulus, kyk ek ook maar in ‘n spieël en sien iets wat vir my ‘n raaisel is – maar ek mag nie iets verkondig, as of dit van ons Here af kom nie, as dit soos in so baie gevalle gewoon nie die waarheid is nie en alle leuens het hulle ontstaan by satan self:
Onthou nou, dat die pastoor ons duidelik laat verstaan het, hy het wat hy in daardie video verkondig by ons Here gekry.
JHN 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Van mense wat in denominasies is wat die kinderdoop aanhang en dit volgens hulle uit die Woord kan regverdig; Wel ek het al baie van daardie Christene ontmoet wat volgens my beter Christene is as ek.
Ek weet nie hoekom sommige van hulle, nie hulleself groot laat doop nie maar ek weet verseker:
1SAM 16:7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
Nou deel ek ook met jou ‘n voorbeeld uit die Nuwe Testament, nadat die Nuwe Testament in werking getree het.
Hierdie volgende mense van wie jy nou gaan lees, het waarskynlik nog nooit eens van so iets soos die doop gehoor nie, toe met hulle gebeur het, wat met hulle gebeur het:
Jy kan gerus die hele verhaal in Handelinge 10 gaan lees maar ek deel net met jou die volgende:
HAN 10:44–46
44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.
45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. (en hulle ook nou kinders van God is)
46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:
Later getuig Petrus as volg oor wat daar gebeur het met hierdie mense:
HAN 15:8 En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. (en hulle het kinders van God geword, net soos ons)
HAN 15:9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.
Gaan mense hel toe net omdat hulle nie soos ek gedoop is nie? Want ongelukkig doop die een so en die ander een weer anders.
Nee, verseker gaan niemand hel toe omdat hy of sy so, os so gedoop is nie.
Ek weet egter, dat hoe nader jy aan die Woord leef, hoe duideliker hoor jy ons Here se stem in jou lewe en dit is ook waarom ek my groot laat doop het, op die spesifieke wyse wat ek gedoop is.
Uiteindelik werk dit so as ons aan die anderkant van die graf arriveer:
1KOR 3:11–15
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12 En as iemand op dié fondament bou goud, (wat op ‘n normale wyse nie verbrand nie) silwer, (wat op ‘n normale wyse nie verbrand nie) kosbare stene, (wat op ‘n normale wyse nie verbrand nie) hout, (wat op ‘n normale wyse wel kan verbrand) hooi, (wat op ‘n normale wyse wel kan verbrand) stoppels, (wat op ‘n normale wyse wel kan verbrand)
13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Ek wil dan afsluit deur net soos ek die Woord verstaan met jou die volgende te deel:
Jesus het reeds alles gedoen om dit vir jou moontlik te maak om as jy uit hierdie lewe stap, die hemel in te stap.
Al wat uiteindelik gaan bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring, is of jy met of sonder Jesus aan die anderkant van die graf arriveer.
Het jy vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?
Is Hy die fondament waarop jy jou lewe bou?
Wel, dan gaan jy aan die anderkant van die graf met Jesus arriveer.
As jy onseker is, of jy Hom al aangeneem het as jou verlosser en Saligmaker, Wel dan het jy Hom nog nie werklik aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker nie.
Jy sal verseker weet as jy hierdie, die belangrikste stap wat jy ooit in jou lewe sal neem gedoen het.
As jy dit in alle opregtheid gedoen het, weet jy dat as jy jou laaste tree op hierdie aarde gegee het, jy saam met Jesus aan die anderkant van die graf gaan arriveer, omdat Sy Heilige Gees in jou is en weet jy, jy gaan nou die hemel intree.
In hierdie lewe het jy dan ook Jesus se Heilige Gees inwonend in jou hart en sal Hy jou lei van hoe jy gedoop moet word, as jy weer gedoop moet word.
Sy Heilige Gees wat jou in alle waarheid sal lei, sal ook op jou hart lê wat jy moet doen.:
JHN 14:15–17
15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid (ja, ook dwarsdeur die ewigheid, wat verewig gaan aanhou):
17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Groete,
Sakkie