Sal ons in die Hemel mekaar herken

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het vir my geskryf en gevra, of ons, ons geliefdes in die Hemel sal herken en of hulle wat reeds daar is ons sal herken.

Ek gaan nou, om dit vir my maklik te maak, die persoon wat vir my geskryf het Frances noem.
Iemand het blykbaar vir Frances gesê, dat ons mekaar daar nie sal herken nie en met ander woorde ook nie vir mekaar meer lief sal kan wees nie.  Met ander woorde, so beweer party mense, jou liefde vir jou kinders, of ouers, of man, of vrou byvoorbeeld, hou hier op aarde op.

Ek deel nou met jou my antwoord aan Frances, soos wat ek dit sien in die Woord:
Ek glo natuurlik dat ons verseker mekaar sal herken en nie net herken nie maar dat ons dieselfde liefde vir ons geliefdes sal hê.  Net dan sal daardie liefde heeltemal volmaak wees.
Jy sien –
Die liefde vergaan nimmermeer.
As ons Here in Sy Woord sê nimmermeer, dan kan jy maar weet, dit is nimmermeer.
Lees gou hier:
(Ek gaan van tyd tot tyd terugkom na hierdie skrifgedeelte toe)

1KOR 13:8  Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.

Die NLV stel dit so:

1KOR 13:8-13 Die liefde sal nooit vergaan nie.  Maar profesieë sal tot niet gaan, die spreek in tale sal ophou, en kennis sal verouder raak.  9Ons ken maar net ten dele en ons profeteer maar net ten dele.  10Wanneer die volmaakte egter gekom het, sal al die onvolmaakte uitgedien wees.  11Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind.  Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind ontgroei.  12Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.  13Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.  Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Ek weet dat Jesus sê dat ons in die Hemel nie sal trou nie maar dit sê nie na my mening, dat ons nie mekaar sal herken en lief wees vir mekaar nie.

Iemand het ook vir Frances gesê, dat as ons mekaar in die Hemel sou herken, daar chaos in die Hemel sou wees.
Ek noem graag die volgende voorbeeld uit ons Here se Woord om na my mening te wys dat ons wel verseker sal weet, wie is wie.

MAT 17:1-8  Verheerliking van Jesus op die berg.

1Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ‘n hoë berg uit waar hulle alleen was.  2En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander.  Sy gesig het begin straal soos die son.  Sy klere het skitterwit geword.  3En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.  4Petrus sê toe vir Jesus:  “Here, dis wonderlik om hier te wees!  As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig:  vir U en, vir Moses een en een vir Elia.”  5Maar terwyl hy nog praat, oordek ‘n helderglansende wolk hulle, en daar kom ‘n stem uit die wolk wat sê:  “Hý is my geliefde Seun.  Hy is ‘n Kind so na my hart.  Doen wat Hy vir julle sê.”  6Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval.  Hulle het groot geskrik.  7Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle:  “Staan gerus maar op, moenie bang wees nie.”  8Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen.

Dit is vir my geheel en al ondenkbaar dat Jesus daar met Moses en Elía kan staan en gesels en Moses weet nie wie Elía is nie en Elía weet nie wie Moses is nie en nog erger, Jesus stel nie eens die een aan die ander voor nie.

Dit was natuurlik nie nodig nie, die twee was ou vriende maar mense wat hulle nog nooit gesien het nie, word deur die Heilige Gees ingelig wie die twee manne daar by Jesus is, wat nou so lekker met mekaar en met Jesus gesels.

Dieselfde Heilige Gees wat daardie dag die dissipels gehelp het om Moses en Elía te herken, sal ook in my en in die Hemel wees as ek daar arriveer.

Ek weet nie presies hoe dit gaan werk nie, want van my liefde vir my vrou en kinders en al die ander mense wat ek lief het en nog gaan lief kry wat nimmermeer sal verbygaan, sê ons Here in Sy Woord, dat ek moet onthou:
(Ek haal aan uit die Ou Vertaling)

1KOR 13:9-10  Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. 10Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.

As ek dan soos ‘n beterweterige kind met my menslike verstand wil probeer uit redeneer en verklaar hoe dit in die Hemel gaan werk moet ek ook onthou,  in die selfde gedeelte waar ons Here in Sy Woord sê:

1KOR 13:8  Die liefde vergaan nimmermeer; …

Sê Hy ook:

1KOR 13:11  Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.

Nou – as volwasse kind van ons Here besef ek, dat ek nooit hier op aarde alles gaan weet nie en dat ek dus nie met my menslike verstand moet probeer uitwerk hoe dit gaan werk nie maar net my God moet glo, as Hy vir my sê dat ware liefde wat van God af kom, nimmermeer verby sal gaan.
Ook in daardie selfde gedeelte waar Hy praat oor die liefde wat nimmermeer sal verby gaan, laat Hy my duidelik verstaan dat:

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Al wat ek verseker weet en wat ek met groot vrymoedigheid vir jou kan sê is, jou liefde vir jou geliefdes en hulle liefde vir jou sal nimmermeer verbygaan en dit in my boek sluit die Hemel in.

As iemand jou wil laat twyfel of jy jou geliefdes sal herken, onthou dan net vir Moses en Elía op die berg van verheerliking en hulle het nie eens in dieselfde tyd op aarde gelewe nie.  Hulle het honderde jare uit mekaar hier op aarde gelewe.
Onthou dan ook hoe ons Here in Sy Woord dit afgesluit het waaroor ons nou gepraat het.
Kyk net hoe hoog skryf ons Here deur Sy apostel die liefde aan wat nimmermeer vergaan.

1KOR 13:13  En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Ander dagstukkies wat ek deur die genade van ons Here oor die Hemel geskryf het, waarin jy dalk sou belang stel en wat ek met die grootste liefde aan jou op aanvraag sal stuur is:

  • Die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig
  • Het diere siele en kan hulle hemel toe gaan
  • Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel
  • Oor die derde hemel en ons loon
  • Want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele         

Groete,
Sakkie